Jongmense vra . . .
Waarom het ek hierdie gevoelens?
“Dit voel asof daar ’n stryd binne-in my woed. Ek weet nie watter kant toe nie.”—Bob.
BAIE jongmense ondervind soortgelyke geesteskwellings. Anders as hulle portuurs wie se aandag blykbaar deur ’n belangstelling in die ander geslag in beslag geneem word, vind hulle dat hulle al hoe meer tot lede van hulle eie geslag aangetrokke voel. Dit is vir baie ’n verpletterende gedagte.
Een vrou het van haar dogter gesê: “Haar gesondheid het agteruitgegaan, sy kon nie eet of slaap nie en het terneergedruk en humeurig geword. Sy het selfs selfmoord probeer pleeg.” Die hoofoorsaak van hierdie ellende? “Sy het lesbiese gevoelens gehad.” Vir party is dit dalk nie maklik om sulke neigings te oorkom nie. “Voor my tienerjare”, sê ’n jong man wat ons Mark sal noem, “het ek al begin om homoseksuele ondervindinge met party van my vriende te hê. Ek het tot en met my adolessensiejare hiermee aangehou totdat ek die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer het. Maar soms het ek steeds verkeerde gevoelens binne-in my gehad.”
Wat veroorsaak dat ’n jeugdige tot sy of haar eie geslag aangetrokke voel? En wat moet ’n jeugdige doen as hy of sy deur sulke gevoelens geteister word?
’n Natuurlike of aangeleerde neiging?
Dit is deesdae gewild om te sê dat homoseksuele so gebore word en dat seksuele oriëntasie onveranderlik is. Die tydskrif Time het byvoorbeeld op ’n dramatiese wyse aangekondig: “’n Nuwe studie toon dat daar ’n strukturele verskil tussen die brein van ’n homoseksuele en ’n heteroseksuele man is.” Hierdie studie is egter op die brein van mans gedoen wat aan vigs gesterf het. Dit bewys beslis niks!
’n Ander teorie hou met hormone verband. Wetenskaplikes het opgemerk dat laboratoriumrotte wat van manlike hormone ontneem is “vroulike” paringsgedrag geopenbaar het. Hulle het tot die slotsom gekom dat homoseksuele dalk op soortgelyke wyse die slagoffers van ’n biologiese ongeluk is—’n blootstelling aan te veel of te min manlike hormone voor geboorte. Baie wetenskaplikes glo egter dat die rotte se ongewone gedrag weinig meer as ’n refleks is—nie werklik ‘homoseksualiteit’ nie. Daarbenewens is mense nie rotte nie. The Harvard Medical School Mental Health Letter sê: “Dit is hoogs onwaarskynlik dat voorgeboortelike hormone . . . menslike seksualiteit op dieselfde direkte manier beïnvloed as wat dit reflekse beheer wat by die paringsgedrag van rotte betrokke is.”
Baie aandag is ook aan genetiese studies gewy. Onder homoseksuele mans en vroue wat identiese tweelinge is, is omtrent die helfte van hulle tweelingbroers of -susters ook homoseksueel. Aangesien monosigotiese [identiese] tweelinge genetiese replikas is, het dit logies gelyk om tot die slotsom te kom dat die een of ander geheimsinnige geen die afwyking veroorsaak het. Let egter daarop dat die helfte van die tweelinge nie homoseksueel was nie. As hierdie karaktertrek werklik geneties geprogrammeer was, sou al die tweelinge dit dan nie gehad het nie? Gene en hormone speel dalk weliswaar ’n rol. Nogtans het Scientific American oor die bevindinge van sommige berig en gesê die getuienis “toon duidelik dat die omgewing aansienlik tot seksuele oriëntasie bydra”.
Omgewingsfaktore
Beskou die milieu van antieke Griekeland. Aangevuur deur die erotiese verhale oor party van hulle mitologiese gode, die werke van filosowe soos Plato en die kultuur van die gimnasium waar jongmense sonder klere geoefen het, het homoseksualiteit hoog in die mode geword onder die elite van die Griekssprekende wêreld. Volgens die boek Love in Ancient Greece “was dit in Kreta iets skandeliks vir ’n seun van goeie afkoms om nie ’n minnaar te hê nie”. Geen geheimsinnige geen of hormoon het sulke verdorwenheid veroorsaak nie. Dit het gefloreer omdat die Griekse kultuur dit toegelaat het, ja, aangemoedig het! Dit lig goed toe watter sterk invloed die omgewing kan uitoefen.
Die vloed van homoseksueel gesinde propaganda het ongetwyfeld baie daartoe bygedra om daardie siening vandag te bevorder. Die TV, rolprente, musiek en tydskrifte sinspeel gereeld op homoseksualiteit. Kabeltelevisie het party jongmense maklike toegang tot eksplisiete pornografie gegee. Androginiese (uniseks-) kleredrag en persoonsversorging het mode geword. Sommige deskundiges meen ook dat die propaganda teen mans wat deur party feministe bevorder word tot die toename in lesbianisme bygedra het. Jongmense kan ook aan slegte invloede blootgestel word deur met klasmaats te assosieer wat die homoseksuele lewenswyse openlik voorstaan.—1 Korinthiërs 15:33.
Vader en seun
Dit wil voorkom asof ’n gebrekkige gesinsomgewing ook soms ’n belangrike rol speel, veral onder mans.a ’n Vader lewer ’n belangrike bydrae tot die emosionele ontwikkeling van ’n kind (Efesiërs 6:4). Die boek Hoe om ’n gelukkige gesinslewe op te bou sê: ‘Die invloed van die manlike hoedanighede van die vader kan grootliks daartoe bydra dat die kind se persoonlikheid ten volle en gebalanseerd ontwikkel.’b ’n Seun het ook die erkenning, liefde en goedkeuring van sy vader nodig. (Vergelyk Lukas 3:22.) Wat is die gevolg wanneer ’n vader nalaat om sy kind die nodige aandag te gee? Emosionele angs. Die geestesgesondheidskrywer Joseph Nicolosi beweer dat manlike homoseksualiteit “omtrent altyd die gevolg is van probleme met gesinsverhoudinge, veral tussen vader en seun”.
Dit kan wees dat ’n moeder onwetend die situasie vererger deur haar man te verkleineer of deur te besitlik teenoor haar seun te wees. ’n Studie van meisieagtige seuns het hierdie opmerking gemaak: “Party van die ouers wou eerder ’n dogter as ’n seun gehad het en het gevolglik hulle jong seun op ’n subtiele wyse aangemoedig om soos ’n meisie aan te trek of het hom so aangetrek.”
Dit is nou nie te sê dat jou ouers outomaties vir jou verwronge seksuele gevoelens blameer kan word nie. Baie mans wat grootgeword het met besitlike moeders en met vaders wat hulle verwaarloos het, uithuisig was of hulle misbruik het, het nogtans manlike persoonlikhede ontwikkel. Boonop kom nie almal met homoseksuele neigings noodwendig uit disfunksionele gesinne nie. Dit wil egter voorkom asof party seuns op ’n baie besonderse manier ’n knou gekry het. “Omdat hy vroeg besef het dat sy vader hom verwerp . . . ”, beweer dr. Nicolosi, “het die homoseksueel ’n gevoel van swakheid en onbevoegdheid wat betref daardie eienskappe wat met manlikheid geassosieer word, dit wil sê mag, gesag en krag. Hy word deur manlike krag aangetrek weens ’n onbewuste strewe na sy eie manlikheid.”
’n Jong Christenman met die naam Peter skryf: “My pa was ’n alkoholis en het my ma gereeld geslaan en by tye ook ons kinders. Toe ek 12 jaar oud was, het hy die huis verlaat. Ek het die afwesigheid van ’n pa erg gevoel. Ek het altyd gehoop dat iemand die leemte sou vul wat ek daagliks gevoel het. Toe ek uiteindelik bevriend geraak het met ’n goeie Christenman wat ek gedink het daardie leemte kon vul, het ek seksuele gevoelens vir hom begin ontwikkel.”
Baie homoseksuele is interessant genoeg slagoffers van kindermolestering.c Sulke molestering kan tot blywende fisiese en emosionele skade lei. Vir party skep dit dalk wat een skrywer ’n “verwronge seksuele identiteit” genoem het. Dit is blykbaar wat in eertydse Sodom gebeur het, waar jong seuns ’n onblusbare begeerte na perverse omgang geopenbaar het (Genesis 19:4, 5, NW). Volwassenes het hulle ongetwyfeld uitgebuit.
Die morele kwessie
Wetenskaplikes sal dalk nooit presies uitvind hoe groot die rol is wat natuurlike en aangeleerde neigings in die aantrekkingskrag tussen lede van dieselfde geslag speel nie. Maar een ding is duidelik: Alle mense word met die neiging gebore om aan verkeerde denke en begeertes toe te gee.—Romeine 3:23.
’n Jongmens wat God wil behaag, moet derhalwe aan Sy morele standaarde voldoen en onsedelike gedrag vermy, al is dit dalk pynlik moeilik om dit te doen. Party mense is dalk weliswaar tot homoseksualiteit geneig, net soos party mense volgens die Bybel ‘tot toorn geneig’ is (Titus 1:7, NW). Maar die Bybel veroordeel steeds uitinge van onregverdige toorn (Efesiërs 4:31). ’n Christen kan eweneens nie onsedelike gedrag verskoon deur te sê dat hy ‘so gebore is’ nie. Kindermolesteerders gebruik dieselfde patetiese verskoning wanneer hulle sê dat hulle begeerte na kinders “ingebore” is. Maar kan enigiemand ontken dat hulle seksuele begeerte pervers is? Net so is die begeerte na iemand van dieselfde geslag.
Jongmense wat vind dat hulle tot dieselfde geslag aangetrokke voel, moet derhalwe nie voor hulle gevoelens swig nie. Maar waarom veroordeel die Bybel homoseksualiteit so uitdruklik? Is daardie lewenstyl werklik siek en pervers? Indien wel, wat kan ’n jongmens doen om dit te vermy? Hierdie vrae sal in ’n toekomstige nommer van die Ontwaak! bespreek word.
[Voetnote]
a Betreklik min navorsing is oor die ontwikkeling van vroulike homoseksualiteit gedoen. Die invloed van die gesin speel egter ongetwyfeld ook ’n rol daarin.
b Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
c Die uitbuiting van kinders het blykbaar aanleiding gegee tot die toename in homoseksualiteit in antieke Griekeland. Die ouer verleiers van jong seuns het algemeen bekend gestaan as “wolwe”—die “simbool van gierigheid en verskriklike wreedheid”. Hulle jong slagoffers is “lammetjies” genoem.