Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 10/8 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Vatikaanse “weerspreking”
  • “Satan se eeu”
  • Voedseltekorte word verwag
  • Ouderdom en dieet
  • Gelukkige ongeluk?
  • Gedeeltelike oorwinning oor polio
  • Taiwan se verleentheid oor orangoetangs
  • Toronto se straatkinders
  • Red daardie tand!
  • Waarom moet jy ’n tandarts besoek?
    Ontwaak!—2007
  • Indonesië se “man van die woud”
    Ontwaak!—2010
  • Tandpyn—’n geskiedenis van lyding
    Ontwaak!—2007
  • Hoe jy ’n mooi glimlag kan behou
    Ontwaak!—2005
Sien nog
Ontwaak!—1995
g95 10/8 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

’n Vatikaanse “weerspreking”

“U Heiligheid, waarom verkoop die Vatikaan nog steeds sigarette?” het ’n priester vir Johannes-Paulus II gedurende die pous se jaarlikse oudiënsie met die geestelikes van Rome gevra. Hy het voorts gesê: “Behalwe dat dit skadelik vir die gesondheid is, weerspreek hierdie verkope ook u voortdurende versoeke ten gunste van gesondheidsbeskerming en ons pastorale bedrywighede.” Vir Ugo Mesini, die 76-jarige priester, is die feit dat die Vatikaan tabak en sigarette met die woorde “rook is skadelik vir jou gesondheid” daarop verkoop ’n “teengetuienis” en ’n “weerspreking” van die pous se boodskap. Soos in die Roomse koerant Il Messaggero berig is, het die pous geantwoord dat sy “gewete skoon is” wat die tabakkwessie betref. Hy het egter belowe om met die toesighoudende kardinaal oor die Vatikaan se sigaretverkope te praat.

“Satan se eeu”

“Op sy ergste was hierdie eeu Satan se eeu”, sê ’n hoofartikel in die New York Times. “Nog nooit tevore in die mensegeskiedenis het mense so ’n groot neiging, en drang, geopenbaar om miljoene ander mense weens hulle ras, geloof of stand dood te maak nie.” As bewys meld dit die Auschwitz-doodskamp wat 50 jaar gelede aan die lig gekom het. Die bevryders van hierdie Duitse konsentrasiekamp het “uitgeteerde slawearbeiders, kinders wat in waansinnige laboratoriumeksperimente vermink is en die oorblyfsels van vier gaskamers en krematoriumoonde [gevind] wat eens 20 000 slagoffers per dag geëis het”, sê die hoofartikel, en “die liggame wat soos vuurmaakhout opgestapel is, die 43 000 pare skoene, die hope mensehare” is in hulle geheue ingebrand. Dit voeg by: “Tot vandag toe gaan Auschwitz die begrip en verstand te bowe.”

Voedseltekorte word verwag

“Tensy daar groot bedrae in tegnologieverandering belê word, gaan ons baie ernstige probleme ondervind”, sê Ismail Serageldin, ’n ontwikkelingsdeskundige van Egipte en ’n visepresident van die Wêreldbank. Hy praat van die toenemende behoefte aan basiese voedselsoorte—’n behoefte wat reeds die voorraad oorskry in sekere dele van Asië en Afrika, waar die bevolkingsaanwas die grootste is. “Ons sal binne die volgende 20 jaar tweemiljard meer [mense] hê ongeag wat ons doen, en 95 persent van hulle sal in die armste lande wees”, het hy gesê. Hoewel merkwaardige vermeerderings in die opbrengste van basiese gewasse gedurende die afgelope 25 jaar verwesenlik is, word dit as gevolg van omgewings- en biologiese beperkings al hoe moeiliker om bykomende vermeerderings teweeg te bring. Vermeerderings word ook bedreig deur aggressiewer plae en plantsiektes en deur die verswakking van die grond. Die Worldwatch-instituut stem saam. Dit sê in sy verslag State of the World 1995: “Bewyse dat die wêreld op ’n ekonomiese weg is waarmee die omgewing nie kan tred hou nie, kan gesien word in krimpende visvangste, dalende grondwatervlakke, afnemende voëlbevolkings, ongekende hittegolwe en verminderende graanvoorrade, om net ’n paar te noem.”

Ouderdom en dieet

Party navorsers sê nou dat mense ouer as 50 dalk nie nodig het om oor die bykomende gewig van die middeljare bekommerd te wees nie, berig The Times van Londen. David Dickinson, redakteur van die Verbruikersvereniging se tydskrif, sê byvoorbeeld: “Die raad dat elkeen wat ’n hoër verhouding van lengte tot gewig het te vet is en moet verslank, is verkeerd. Verslanking kan jou gesondheid benadeel ongeag watter uitwerking dit op die verhouding van lengte tot gewig het. Die meeste mense wat ouer as 50 is, hoef nie te verslank nie.” Tom Sanders, professor in voeding- en dieetkunde, verduidelik: “Die gesondheidsgevare van swaarlywigheid word dikwels oordryf. Dit verhoog wel die gevaar van suikersiekte en artritis, maar die gesondheidsgevare van molligheid is gering. Dit kan selfs vir vroue voordele inhou.” En dr. Martin Wiseman van die Departement van Gesondheid sê: “Op enige ouderdom is dit belangrik om nie te vet of te maer te wees nie. Die beste manier om dit te bereik, is deur verstandig te eet en bedrywig te bly, maar wanneer ons ouer word, is dit beter om mollig te wees as om maer te wees.”

Gelukkige ongeluk?

’n Houer met 29 000 stukke plastiekspeelgoed—eende, skilpaaie, bewers en paddas—het in Januarie 1992 tydens ’n storm in die noordelike deel van die Stille Oseaan oorboord gespoel. Hierdie ongeluk was klaarblyklik vir wetenskaplikes ’n seën. Anders as die 61 000 Nike-atletiekskoene wat twee jaar tevore oorboord gespoel het, dobber die ligte speelgoed feitlik heeltemal bo-op die water en word dit deur die wind sowel as seestrome voortgedryf. Dit het oseanograwe wat die getye van die noordelike deel van die Stille Oseaan bestudeer in staat gestel om die uitwerking van wind in hulle studies in te sluit. Die eerste van die stukke speelgoed het sowat tien maande nadat dit oorboord gespoel het op strande in die suidoostelike deel van Alaska hulle verskyning begin maak, en gedurende die daaropvolgende tien maande het nog 400 ’n 850 kilometer lange strook van die kus van die Golf van Alaska bereik. Die klein stukke speelgoed, wat nie langer as 13 sentimeter is nie, was per skip van Hongkong na Tacoma, Washington, VSA, onderweg. Daar word verwag dat party uiteindelik deur die Beringstraat sal gaan, in blokke ys oor die Noordelike Yssee sal voortbeweeg en in die noordelike deel van die Atlantiese Oseaan sal beland.

Gedeeltelike oorwinning oor polio

Verlammende poliomiëlitis, wat oor die algemeen as polio bekend staan, het glo deur die geskiedenis heen die dood of gestremdheid van meer as 10 miljoen mense veroorsaak. Dit is in snywerk uitgebeeld wat uit eertydse Egipte, Griekeland en Rome dateer. Dit tref meestal kinders en kan verlamming of die dood deur versmoring tot gevolg hê. Volgens die Pan American-gesondheidsorganisasie, ’n vertakking van die Wêreldgesondheidsorganisasie, is polio nou in die Westelike Halfrond uitgewis. Die laaste aangemelde geval was in 1991 van ’n Peruaanse kind wat dit oorleef het en skade aan een been daarvan oorgehou het. Maar anders as pokke, wat in 1977 wêreldwyd uitgewis is, kom die poliovirus nog steeds in ander streke voor en kan dit moontlik deur immigrasie en reise in die Amerikas heringevoer word. Die laaste volledige verslag het minder as 10 000 gevalle vir die jaar gemeld. Gesondheidsdeskundiges sê dat immunisering teen die siekte voortgesit moet word totdat dit heeltemal uitgewis is.

Taiwan se verleentheid oor orangoetangs

Die owerheid in Taiwan het met ’n ongewone probleem te kampe: Wat om met die orangoetangs te doen wat in 1986 as troeteldiere gewild geraak het nadat een in ’n televisieprogram as die “ideale metgesel” uitgebeeld is. Soos in die New Scientist berig word, is sowat duisend jong orangoetangs in die land ingeneem en as troeteldiere verkoop. Noudat die diere seksuele volwassenheid bereik en aggressief en onvoorspelbaar raak, word honderde deur hulle eienaars weggegooi. Omdat hulle alleenlopers is en nie soos sjimpansees en gorillas by ’n sosiale groep hoef in te skakel nie, kan mak orangoetangs weer in die natuur vrygelaat word. Die troeteldiere het egter mensesiektes, soos hepatitis B en tuberkulose, opgedoen en kan die reeds bedreigde orangoetangbevolking wat in die natuur voorkom in gevaar stel. Baie sal miskien doodgemaak moet word, wat party meen genadiger is as om hulle die res van hulle lewe in die eensaamheid van ’n skut te laat deurbring.

Toronto se straatkinders

Staatsamptenare sê dat tot 10 000 straatkinders gereeld in die stad Toronto ronddwaal. “Die syfer het in die laaste dekade die hoogte ingeskiet”, berig The Toronto Star. “Die meeste straatkinders praat van probleme by die huis, wat wissel van mishandeling tot ouerlike reëls waarvolgens hulle weier om te leef. Hulle praat van ’n wêreld van dwelmmiddels, geweld en prostitusie en lang ure van ledige verveeldheid.” Daar word geraam dat 54 persent van Toronto se straatkinders by prostitusie betrokke is. Een uit vyf meisies sal swanger raak, 80 persent gebruik dwelmmiddels of alkohol, 67 persent is al mishandel en 43 persent het al selfmoord probeer pleeg. “As enigiemand vir jou sê dat die straatlewe glansryk en opwindend is, moet jy dit nie glo nie. Dit is soos die dood, dit is glad nie ’n lewe nie”, sê een seun. “Party kan nie van ’n voortdurende lewe van dwelmmiddels, prostitusie en toenemende geweld wegkom nie; ander, wat ouer en verstandiger is, hoop om skoolopleiding en werk te kry”, voeg die Star by.

Red daardie tand!

As ’n tand per ongeluk uitgeslaan word, moet jy dit nie weggooi nie, sê die UC Berkeley Wellness Letter. “Navorsing toon dat jou kanse op ’n suksesvolle herinplanting 50% is as jy binne 30 minute by die tandarts uitkom.” Wat moet jy doen? Probeer so kalm as moontlik bly. Hou die tand aan die kroon vas en spoel dit liggies in louwarm water af—moet dit nie skrop nie. Skakel jou tandarts om hom van jou besoek in kennis te stel en sit die tand sagkens terug in sy kas, tensy hy vir jou iets ander sê. Byt vyf minute lank hard op ’n skoon doek of sakdoek om die tand te laat vassit en hou aan om met matige druk te byt totdat jy by die tandarts kom. As jy die tand nie dadelik kan terugsit nie, moet jy dit in speeksel in jou mond hou. Vir kinders wat so jonk is dat hulle dalk die tand sal insluk, moet jy dit in ’n plastieksak of ’n koppie plaas en dit bedek met melk of water waarin daar ’n knypie sout is. Selfs as meer tyd verstryk het, is dit die beste om na die tandarts toe te gaan en hom te laat besluit wat om te doen. “Dit is beslis die moeite werd om ’n tand te red”, sê die verslag.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel