Ons beskou die wêreld
Teistering deur besmetlike siektes
Verlede jaar was ’n derde van die 52 miljoen sterfgevalle te wyte aan besmetlike siektes, sê die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO). Die meeste van die geskatte 17 miljoen mense wat gesterf het, was jong kinders. Volgens The World Health Report 1996, wat deur die WGO uitgereik is, is ten minste 30 nuwe besmetlike siektes in die laaste 20 jaar geïdentifiseer, met inbegrip van die Ebola-virus en vigs. Hoewel vername siektes soos tering, cholera en malaria teen ’n lae koste voorkom of behandel kan word, is dit aan die terugkeer en het dit ’n groter weerstand teen geneesmiddels opgebou. Die rede hiervoor, sê die verslag, is “die onbeheerde en verkeerde gebruik van antibiotiese middels”, asook ander faktore, soos internasionale reise en bevolkingsgroei in tropiese gebiede waar daar baie muskiete is.
Biegstoele in boekwinkels
’n Katolieke vereniging in Italië het besluit om biegstoele in hulle ketting godsdienstige boekwinkels te plaas, en elkeen word selfs van ’n biegvader voorsien. Die proefneming is in Milaan begin. In ’n boekwinkel in die middestad was daar elke Woensdag ’n priester beskikbaar vir “almal wat ’n priester wou spreek—maar nie in ’n kerk nie—om geestelike raad te vra, of selfs om te bieg”, het die winkelbestuurder gesê. Hy het bygevoeg: “Die eerste resultate het selfs ons hoogste verwagtings ver oortref.” Waarom het hulle hiermee begin? “Om te vergoed vir die afname in die sakrament van die bieg”, verduidelik die Italiaanse koerant La Repubblica.
Niks word vermors nie
Wat gebeur met die res van die bees nadat die sowat 270 kilogram vleis verwyder is? Party van die inwendige organe, soos die skildklier, pankreas, longe, milt, bynier, eierstokke, harsingslymklier en gal van die lewer en galblaas, word gebruik om geneesmiddels te maak. Kollageen word uit die beendere, hoewe en huid verkry en in vogroom en velmiddels gebruik. Kraakbeen en vet word deel van komponente soos butielstearaat, PEG 150-distearaat en glikolstearaat wat in baie skoonheidsmiddels en haarprodukte gebruik word. Die meeste soorte seep word van diervette gemaak. En die beendere en hoewe word fyngemaal om die gelatien te maak wat in honderde voedselprodukte gebruik word, met inbegrip van roomys, party lekkers en talle “vetvrye” produkte. Dele word ook in produkte soos kryt, vuurhoutjies, vloerpolitoer, linoleum, vriesteenmiddel, sement, onkruiddoders, sellofaan, fotografiese papier, sportbenodigdhede, bekleedsel en klere gebruik. Die galstene behaal die hoogste prys—R90 per gram! Handelaars van die Verre-Ooste koop dit vir gebruik as ’n geslagsprikkelmiddel.
Kinderbaring en sterfgevalle
Ongeveer 585 000 vroue sterf elke jaar tydens swangerskap of terwyl hulle geboorte gee, sê ’n nuwe omvattende opname deur UNICEF (Verenigde Nasies-kinderfonds). Volgens die verslag The Progress of Nations 1996 is baie van die sterfgevalle wat verband hou met kinderbaring voorkombaar. Dit sê: “In die meeste gevalle is dit nie dié wat siek of baie oud of baie jonk is wat sterf nie, maar gesonde vroue in die fleur van hulle lewe.” Sowat 75000 vroue sterf elke jaar omdat aborsies verbrou word; 40000 as gevolg van obstruktiewe kraam; 100000 weens bloedvergiftiging; 75000 weens brein- en nierskade wat veroorsaak word deur eklampsie (stuiptrekkings en hoë bloeddruk laat in die swangerskap) en meer as 140 000 weens bloeding. Daar word gesê dat die tekort aan kraamsorg in baie lande hoofsaaklik hiervoor verantwoordelik is. Volgens amptenare van UNICEF toon die gegewens dat 1 uit 35 vroue in Suid-Asië en 1 uit 13 in Afrika suid van die Sahara sterf as gevolg van komplikasies wat met swangerskap en geboorte verband hou, vergeleke met 1 uit 7300 in Kanada, 1 uit 3300 in die Verenigde State en 1 uit 3200 in Europa. Die syfers is byna 20 persent hoër as die vorige raming van ongeveer 500 000 sterfgevalle per jaar.
Vigs-gevalle neem steeds toe
“Die virus wat vigs tot gevolg het, versprei steeds vinnig in groot dele van die wêreld, veral in Asië en Suidelike Afrika, en die getal mense wat aan vigs ly, het ook skerp gestyg”, lui ’n berig in The New York Times. Gegewens wat deur die Verenigde Nasies se Gesamentlike Program vir HIV-vigs saamgestel is, toon dat sowat 1,3 miljoen mense in 1995 aan die simptome van vigs gely het, ’n vermeerdering van 25 persent oor die vorige jaar. Daar word nou geskat dat 21 miljoen volwassenes regoor die wêreld met HIV besmet is, en ongeveer 42 persent van hulle is vroue. ’n Verdere 7500 mense word elke dag besmet. Miljoene kinders is glo ook besmet. Wanneer iemand besmet word, neem dit nagenoeg tien jaar voordat hy ernstig siek sal word. Die VN-verslag skat dat 980 000 mense in 1995 aan vigs-verwante siektes gesterf het en dat die syfer in 1996 tot 1120 000 sal styg. Die virus het onlangs in groot dele van Suidelike Afrika en Indië versprei, en na verwagting sal dit ook in China en Viëtnam gebeur. Die besmettingsyfer in sommige Afrikalande het reeds 16 tot 18 persent bereik. Dit is kommerwekkend dat die aantal jong vroue wat besmet is regoor die wêreld styg. ’n Derde van die babas wat vir hierdie vroue gebore word, sal ook die virus hê.
Hou jou spoed dop!
Elke jaar sterf 1000 Britte en word 77 000 beseer omdat mense te vinnig ry, sê The Daily Telegraph van Londen. In sekere toestande kan dit selfs gevaarlik wees om by die spoedbeperking te hou. Meer as 10 persent van die ongelukke op paaie wat ’n hoë spoedbeperking het, vind plaas omdat mense te naby aan die voertuig voor hulle ry. Die Britse Verkeerskode beveel aan dat jy ’n gaping van twee sekondes tussen jou en die motor voor jou moet toelaat, maar dit moet verdubbel word wanneer jy op nat of gladde padoppervlaktes bestuur of wanneer die sig sleg is. Kort volgafstande is nie net onveilig nie; dit is ook uitputtend en spanningsvol. Bestuurders kla dikwels dat ’n ander motor voor hulle insny as hulle ’n veilige gaping toelaat. Maar die enigste veilige reaksie hierop is om spoed te verminder en die gaping weer groter te laat word. As jy vinnig remme aanslaan, kan dit ’n ongeluk veroorsaak, en daarom moet jy vooruitkyk vir moontlike gevare. Indien jou motor sluitweerremme het, verminder dit nie remafstande nie. Paul Ripley, ’n bestuursinstrukteur, sê: “Die veilige spoed vir ’n besondere stel omstandighede is gewoonlik veel laer as wat die meeste bestuurders besef.”
Chirurge, pasop wat julle sê
Navorsers van die Erasmus-universiteit in Nederland het gevind dat pasiënte wat operasies ondergaan, kan “hoor”, selfs al is hulle onder algehele verdowing. Nadat hulle geopereer is, is 240 pasiënte die eerste lettergreep van ’n woord gegee wat tydens hulle operasie gebruik is en gevra om dit te voltooi deur die eerste woord te sê wat by hulle opkom. Selfs 24 uur daarna kon die meeste pasiënte woorde onthou wat net een keer gebruik is. Volgens die navorsers gee dit te kenne dat pasiënte wat onder verdowing is, kan “afluister” gedurende hulle operasie en gevoelig kan wees vir negatiewe of beledigende aanmerkings. Research Reports From the Netherlands, wat deur die Nederlandse Organisasie vir Wetenskaplike Navorsing uitgegee word, maak die gevolgtrekking: “Mediese personeel sal derhalwe op hulle gesprekke tydens operasies moet let.”
“Malbeessiekte”
◼ Die uitbreek van “malbeessiekte” in Brittanje het ’n lank bestaande feit oor veeteelt na vore gebring. Diere wat van nature herbivore is, is in karnivore verander deurdat hulle dele van ander diere gevoer word. Gedroogde bloed, gemaalde bene en vleismeel, of veevoer, wat gemaalde ingewande, rugmurg, harsings en ander inwendige organe, soos die pankreas, lugpyp en niere, bevat, word algemeen gebruik in ’n poging om middele te bespaar, winsgewendheid te vergroot en diere se groei te bespoedig. Teen die tyd dat die gemiddelde kalf ses maande oud is, is hy ongeveer 12 kilogram voer gegee wat van die oorblyfsels van ander diere gemaak word, sê dr. Harash Narang, een van die deskundiges wat eerste alarm gemaak het oor die siekte. “Ek was verstom”, het hy gesê toe hy na sy besoek aan ’n abattoir verwys het. “Ons was besig om beeste met beeste te voer. Vir my is dit kannibalisme.”
◼ In ligter luim: ’n Britse suiwelboer het ’n manier gevind om die ouer koeie te gebruik wat hy weens die paniek oor “malbeessiekte” nie met ’n wins kan verkoop nie. Soos in Newsweek berig is, gebruik hy hulle as reklameborde. Hy monteer advertensies op sy beeste wat langs ’n besige hoofweg wei, en dit bring hom sowat R170 per bees per week in die sak. “Ons moet na nuwe maniere soek om inkomste te verdien”, het die boer gesê. “Dit het na ’n goeie manier gelyk waarop hulle hulle onderhoud kan verdien.”