Fibromialgie—Verstaan dit en leef daarmee saam
IS JY oral seer? Voel jy uitermate afgemat? Is jy styf en uitgeput wanneer jy soggens wakker word? Laat jou geheue jou soms in die steek? Dít kan ’n paar van die tekens van fibromialgiesindroom (FMS) wees.
“Ek sal altyd daardie oggend in 1989 onthou toe ek wakker geword het en 45 minute verlam was”, sê Ted.a So het Ted se stryd met fibromialgie begin, wat basies “pyn in die senings, ligamente en spiere” beteken.
Dalk het ’n vriend of ’n gesinslid FMS. Hoe kan jy help? Of wat kan gedoen word as jy dit het? As ’n mens goed ingelig is, help dit grootliks om hierdie probleem te verstaan en daarmee saam te leef. Maar nie almal wat die bogenoemde simptome het, het noodwendig FMS nie.
Hoe fibromialgie omskryf word
Volgens die Amerikaanse Kollege van Rumatologie “word die diagnose van fibromialgie gebaseer op die persoon se geskiedenis van chroniese wydverspreide pyn en die feit dat die geneeskundige teer punte op spesifieke plekke vind”. Daar is ook ander simptome, waarvan party soortgelyk is aan dié van chroniese moegheidsindroom (CMS).
Trouens, baie mense wat FMS het, het ook CMS en ander siektes. Depressie en abnormale angs is algemeen onder FMS-lyers, en dit lyk of FMS oor die algemeen die oorsaak en nie die resultaat van hierdie probleme is nie. FMS kan vererger word deur uitwendige toestande soos te veel of te min fisiese bedrywigheid, ’n koue front wat aan die kom is, ’n slapelose nag of bykomende spanning.
FMS, wat voorheen onder verskillende name bekend was, waaronder fibrositis, misvorm of verlam ’n mens nie en dit is ook nie op sigself lewensgevaarlik nie. Hoewel daar nie met sekerheid gesê kan word dat FMS oorerflik is nie, is dit al in meer as een lid van party gesinne gevind. Dit raak miljoene mense en kom in volwassenes van alle ouderdomme voor, met meer vroue as mans wat daardeur geraak word.
Die oorsaak van FMS
Daar is al met etlike teorieë oor die oorsaak van FMS vorendag gekom. Dit kan ’n virus wees of ’n wanbalans in die senuoordragstof serotien, wat slaap beïnvloed, en ’n wanbalans in chemikalieë soos endorfiene, die liggaam se natuurlike middele om pyn teë te werk. Navorsing oor hierdie teorieë sowel as ander duur steeds voort.
Onder ’n mikroskoop lyk die spiere van diegene met FMS gesond, maar die dele van die selle wat energie voortbring, funksioneer dalk nie normaal nie. Ons weet nie wat die oorsaak is of hoe om dit te genees nie. In baie gevalle verbind die individu ’n spesifieke gebeurtenis wat fisies of emosioneel traumaties was met die aanvang van sy of haar simptome, terwyl dit vir ander meer geleidelik begin het.
Probleme met die diagnosering van FMS
Aangesien die meeste van die simptome daarvan in ander kwale gevind kan word, sê dr. Carla Ockley, van Kanada: “FMS is nie altyd die eerste ding waaraan ’n mens dink wanneer ’n pasiënt met pyn in sy gewrigte by die deur instap nie. As die probleme ná verskeie besoeke steeds voortduur, dan stel ons verder ondersoek in. Wanneer FMS die diagnose is, stuur ek die pasiënt gewoonlik na ’n rumatoloog vir bevestiging.”
Tot onlangs toe was daar egter geen maatstaf waarvolgens FMS gediagnoseer kon word nie; die probleem was dus selfwaarneembaar—dit wil sê, net die pasiënt kon dit bespeur—en die toetsuitslae was normaal. Baie dokters was dus onbekend daarmee. ’n Vrou met die naam Rachel sê: “Ek het 25 jaar lank na verskillende dokters gegaan en duisende [rande] bestee voordat my FMS reg gediagnoseer is.”
Waar kan hulp dan gevind word as jy dink dat jy fibromialgie het? In haar boek When Muscle Pain Won’t Go Away stel Gayle Backstrom voor dat jy met die plaaslike tak van die Stigting vir Gewrigsontsteking of met ’n rumatoloog in aanraking kom.
Behandeling
Tot dusver is geen beproefde geneesmiddel vir FMS gevind nie en daarom word die simptome gewoonlik behandel. Een van die hooffaktore is pyn, wat, soos die ander simptome, van persoon tot persoon verskil en selfs in dieselfde persoon van dag tot dag wissel.
Nog iets wat tot die probleem bydra, is die feit dat pynstillende medisyne en party vorme van behandeling mettertyd nie meer so doeltreffend is nie. Gayle Backstrom stel voor: “Dikwels as ’n mens dit weer later probeer, sal jy weer eens ’n tyd lank positiewe resultate verkry.” Jy moet natuurlik eers jou dokter raadpleeg. Daar is ook die gevaar van newe-effekte of verslawing. Gevolglik “moet sterk pynstillers vermy word”, beveel die Amerikaanse Kollege van Rumatologie aan.
’n Tweede vername faktor is die gebrek aan noodsaaklike slaap weens pyn en ander steurnisse. Melanie gebruik ’n lyfkussing vir die pyn en die gegons van ’n bevogtiger om geraas buitekant teë te werk. Ander hulpmiddels kan oorpluisies insluit en ’n geriffelde sponslaag wat bo-op die matras geplaas word.b Dr. Dwayne Ayers van Noord-Carolina sê: “As ek eers my pasiënte gehelp het om beter te slaap, reageer hulle beter op die ander behandelingsmetodes.”
Volgens die Nasionale Instituut vir Gewrigsontsteking en Spier-skelet- en Velsiektes “kan fibromialgiepasiënte moontlik baat vind by ’n kombinasie van oefening, medisyne, fisioterapie en ontspanning”. Ander vorme van behandeling kan masseerterapie, spanningsbeheer en strekoefeninge insluit. Vir iemand wat voortdurend pyn of moegheid ondervind, kan oefening nietemin onmoontlik lyk. Party beveel dus aan dat ’n mens baie stadig begin. En moenie versuim om jou dokter te raadpleeg voordat jy met enige oefenprogram begin nie.
Die nuusbrief Fibromyalgia Network se nommer vir Julie 1997 haal Sharon Clark, ’n oefeningfisioloog en navorser in Portland, Oregon, aan wat sê dat, indien jy nie 20 of 30 minute lank kan oefen nie, “jy ses keer per dag 5 minute lank kan stap, en dit sal voordelig wees”. Matige aërobiese oefeninge verhoog die vervaardiging van endorfiene, verbeter slaap en voorsien suurstof aan die stelsel en spiere.
Maar mense verskil, en hulle is dalk op verskillende vlakke van hulle FMS. Elaine vertel vir ons: “Dit is vir my ’n groot prestasie om een keer in my oprit op en af te loop, terwyl ’n goeie vriendin van my wat ook FMS het sommer ’n kilometer of wat loop.” Dit beteken nie dat ’n mens eers pyn moet verduur voordat dit die moeite werd is nie, maar dit is duidelik dat ’n mens nie moet tou opgooi nie. Ted, wat CMS sowel as FMS het, sê: “Aanvanklik kon ek my oefenfiets net een keer per week twee of drie minute lank gebruik. Nou oefen ek drie of vier keer per week meer as 20 minute lank. Maar dit het my meer as vier jaar geneem om dit te bereik.”
Die kwessie oor alternatiewe benaderings, soos akupunktuur, chiropraktiese en ander soorte behandeling of die gebruik van kruie of ander dieetaanvullings, het al ter sprake gekom. Hoewel baie beweer dat hulle toestand verbeter het toe hulle van party van die bogenoemde metodes gebruik gemaak het, het ander s’n weer nie. Navorsers ondersoek ’n paar van hulle, maar kon nog nie tot besliste gevolgtrekkings kom nie.
Partykeer veroorsaak medisyne hongerpyne, of eet word ’n manier om angs te verwerk. Maar as ’n mens meer gewig aansit, oefen dit groter druk op die spiere uit, wat meer pyn tot gevolg het. ’n Dokter sal dus in party gevalle aanbeveel dat die pasiënt ’n paar kilogram verloor.
’n Diagnose van FMS kan paniek en woede veroorsaak. Maar daar is maniere om sulke normale gevoelens te verwerk sodat niemand seerkry nie. Droefheid is nog ’n algemene reaksie. Dit is natuurlik om droewig te wees as ons iets so kosbaar soos ons gesondheid verloor.
Wanneer dit jou werk raak
Diegene met FMS kan probleme by die werk ondervind. Li het jare lank by dieselfde plek gewerk, maar dit het weens haar gesondheid al hoe moeiliker geraak. Nadat sy met haar werkgewers gepraat het, kon sy ’n deeltydse werk by dieselfde maatskappy kry, en dit het haar spanning verminder. Sy is ook, tot haar verbasing, ’n uurlikse salarisverhoging gegee.
’n Arbeids- of fisioterapeut kan jou help om maniere te vind om jou werk met minder spanning op jou liggaam te doen. Lisa het gevind dat dit help om ’n kantoorstoel met armleunings te gebruik. Daar is aanbeveel dat Yvonne nie net ’n ander stoel nie, maar ook ’n ander lessenaar kry. Maar as dit nodig word om van werk te verander, is daar agentskappe wat jou kan help.
Hoe jy kan help
Elke gesinslid, selfs die kleintjies, kan oor FMS leer en tot die besef kom dat die FMS-lyer ’n chroniese siekte het wat pyn en moegheid veroorsaak, selfs al lyk hy of sy gesond. Goeie kommunikasie is ook noodsaaklik. Jennie sê: “Ons het van tyd tot tyd gesinsbesprekings om te sien hoe elkeen kan help.” Iets wat ’n belangrike rol daarin speel om met welslae met FMS te kan saamleef, is dat die lyer leer om energie te spaar terwyl hy nog steeds dinge gedoen kry. Dit sal moontlik ’n bietjie verbeelding verg, tesame met die samewerking van ander. Hier kan ’n arbeidsterapeut weer eens van hulp wees.
Jy kan ’n vriend met FMS help deur ’n “horende oor” te wees wat nie veroordelend is nie. Probeer besprekings op ’n positiewe vlak hou en moet nie toelaat dat die hele gesprek net oor fibromialgie handel nie. Wat moet gesê word of nie gesê word nie? Sien die venster op bladsy 23 vir wenke. As jy FMS het, moet jy probeer om meer as een “horende oor” te hê sodat dieselfde “oor” nie uitgeput raak nie. En onthou, nie almal wil altyd omtrent jou FMS hoor nie.
Pas by die veranderinge aan
In party gevalle is ons geneig om ontevrede te voel oor veranderinge, veral gedwonge veranderinge. Maar ’n fisioterapeut wat ongeveer honderd FMS-lyers gehelp het, sê vir ons: “Ek probeer om hulle te laat verstaan dat hulle hulle situasie moet aanvaar. Hulle moet ook veranderinge in hulle lewe aanbring en nie toelaat dat hulle deur tydelike terugslae of verergering ontmoedig word nie. Deur selfbestuur, kennis, begrip en oefening kan hulle hulle FMS beheer pleks van toe te laat dat dit hulle beheer.”
Dave, wat FMS het, sê: “Hoewel ’n mens geneig is om meer te doen op een van jou goeie dae, is dit dalk verstandiger om jou energie vir die volgende dag te spaar sodat jy nie op die ou end die res van die week in die bed deurbring nie.” En tog kan jy soms voel dat die bywoning van ’n sekere geleentheid of ’n spesiale plegtigheid dit die moeite werd maak om later te ly. Dit is nie altyd verstandig om jou FMS te probeer wegsteek nie, veral nie vir diegene wat werklik omgee nie. En probeer ook om ’n sin vir humor te behou. “Ek vind dat ek gewoonlik beter slaap nadat ek lekker gelag het of na ’n goeie komedie gekyk het”, sê André.
Onthou ook dat Jehovah nie die hoeveelheid werk wat jy doen, vergelyk met dit wat ander doen nie, maar hy waardeer die geloof en innige liefde wat jy openbaar (Markus 12:41-44). Wat belangrik is, is dat jy leer om volgens jou beperkinge te lewe en nie oorbeskermend of onverskillig te wees nie. Vertrou op Jehovah God om jou die wysheid en die krag te gee om jou bes te doen (2 Korintiërs 4:16). En koester die belofte in jou hart van ’n tyd wat binnekort gaan aanbreek wanneer hierdie aarde ’n paradys sal wees, waar “geen inwoner sal sê: Ek is siek nie” (Jesaja 33:24). Ja, eendag sal jy weer gesond wees!
[Voetnote]
a Van die name is verander.
b Ontwaak! beveel nie enige spesifieke soort slaaphulpmiddel aan nie, en dit beveel ook nie enige spesifieke behandeling vir FMS aan nie.
[Venster op bladsy 22]
Vertroosting uit die Bybel
• Jehovah verlos dié wat verslae is van gees.—Psalm 34:19.
• Jehovah sal jou ondersteun.—Psalm 41:4.
• Werp al jou sorge op Jehovah; hy is besorg oor jou.—Psalm 55:23; 1 Petrus 5:7.
• Jy behaag Jehovah deur jou heelhartige pogings om hom te dien, ongeag hoe beperk daardie diens ook al is.—Matteus 13:8; Galasiërs 6:4; Kolossense 3:23, 24.
• Ons gee nie moed op nie.—2 Korintiërs 4:16-18.
[Venster op bladsy 23]
Wat om te sê
• Dis goed om jou te sien.
• Dit het jou seker baie moeite gekos om hier uit te kom.
• Ek is hier om te help. Ek gee vir jou om.
• Ek waardeer wat jy kan doen.
Wat om nie te sê nie
• Ek verstaan wat jy deurmaak.
• Jy lyk baie goed. Hoe kan jy siek wees?
• Laat my weet as jy enigiets nodig het.
[Diagram op bladsy 21]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Die swart kolletjies is van die teer punte waarna daar gesoek word om fibromialgie te diagnoseer
[Prent op bladsy 24]
Goeie kommunikasie en gesinsbesprekings is noodsaaklik