Is daar lewe ná die dood?
“Vir ’n boom is daar verwagting: as dit afgekap word, loop dit weer uit . . . As ’n mens sterwe, sal hy weer lewe?”—MOSES, ’N EERTYDSE PROFEET.
1-3. Hoe probeer baie vertroosting vind wanneer hulle ’n geliefde aan die dood afgestaan het?
IN ’N roukamer in die stad New York stap vriende en familie stil by die oop kis verby. Hulle staar na die liggaam, dié van ’n 17-jarige seun. Sy skoolvriende herken hom beswaarlik. Chemoterapie het sy hare laat uitval; kanker het hom gewig laat verloor. Kan dít werklik hulle vriend wees? Net ’n paar maande gelede was hy nog so vol idees, vrae, energie—so vol lewe! Die seun se gebroke moeder probeer hoop en vertroosting put uit die gedagte dat haar seun nog steeds êrens lewe. Al huilende herhaal sy oor en oor wat sy geleer is: “Tommy is nou gelukkiger. God wou Tommy by hom in die hemel hê.”
2 Ongeveer 11 000 kilometer daarvandaan, in Jamnagar, Indië, help die drie seuns van ’n 58-jarige sakeman om hulle vader se liggaam op ’n lykstapel te lê. In die helder voormiddagson begin die oudste seun met die verassingsprosedure deur die hout aan die brand te steek en ’n welriekende mengsel van speserye en wierook oor sy vader se dooie liggaam uit te gooi. Die geknetter van die vuur word oorheers deur die stem van die Brahmaan wat herhaaldelik Sanskritmantras uiter wat beteken: “Mag die siel wat nooit sterf nie, voortgaan in sy pogings om verenig te word met die hoogste werklikheid.”
3 Terwyl die drie broers die verassing dophou, vra elkeen hom af: ‘Glo ek in lewe ná die dood?’ Aangesien hulle hulle opleiding in verskillende dele van die wêreld ontvang het, gee hulle verskillende antwoorde. Die jongste is vol vertroue dat hulle geliefde vader deur middel van reïnkarnasie ’n lewe van groter status sal ontvang. Die tweede oudste broer glo dat die dooies in sekere sin slaap, hoegenaamd van niks bewus is nie. Die oudste probeer eenvoudig die werklikheid van die dood aanvaar, want hy dink dat niemand vir seker kan weet wat met ons gebeur wanneer ons sterf nie.
Een vraag, baie antwoorde
4. Watter vraag kwel mense al eeue lank?
4 Is daar lewe ná die dood? is ’n vraag waaroor die mens al millenniums lank wonder. “Selfs teoloë is uit die veld geslaan wanneer hulle [daarvoor] te staan kom”, sê Hans Küng, ’n Katolieke geleerde. Deur die eeue heen het mense in elke gemeenskap oor dié onderwerp gepeins, en daar is geen tekort aan antwoorde nie.
5-8. Wat leer verskillende godsdienste aangaande lewe ná die dood?
5 Baie naamchristene glo aan ’n hemel en ’n hel. Daarenteen glo Hindoes aan reïnkarnasie. Amir Muawijah, ’n assistent by ’n Islamitiese godsdienssentrum, lewer kommentaar oor die Moslems se beskouing en sê: “Ons glo dat daar ’n oordeelsdag ná die dood sal wees, wanneer jy voor God, Allah, verskyn, wat sal wees net soos om in ’n hof in te stap.” Volgens die Islamitiese geloof sal Allah dan elkeen se lewenswandel in oënskou neem en ’n persoon na die paradys of die helse vuur stuur.
6 In Sri Lanka laat Boeddhiste sowel as Katolieke die deure en vensters wawyd oopstaan wanneer een van hulle huismense sterf. ’n Olielamp word aangesteek, en die kis word so neergesit dat die voete van die oorledene na die voordeur wys. Hulle glo dat hierdie maatreëls dit vir die gees, of siel, van die oorledene makliker maak om uit die huis uit te gaan.
7 Australiese inboorlinge, sê Ronald M. Berndt van die Universiteit van Wes-Australië, glo dat “mense geestelik onvernietigbaar is”. Sekere Afrikastamme glo dat gewone mense ná die dood spoke word, terwyl vooraanstaande individue voorouergeeste word, wat as onsigbare leiers van die gemeenskap geëer en geraadpleeg sal word.
8 In party lande is opvattings omtrent sogenaamde siele van die dooies ’n samesmelting van plaaslike tradisie en die sogenaamde Christelike godsdiens. Onder baie Katolieke en Protestante in Wes-Afrika is dit byvoorbeeld gebruiklik om spieëls te bedek wanneer iemand sterf sodat niemand daarin kan kyk en die dooie se gees sien nie. Veertig dae ná die dood van die geliefde sal familie en vriende dan die siel se hemelvaart vier.
’n Gemeenskaplike tema
9, 10. Oor watter fundamentele oortuiging stem die meeste godsdienste saam?
9 Antwoorde op die vraag oor wat gebeur wanneer ons sterf, is so uiteenlopend soos die gebruike en oortuigings van die mense wat dit gee. Tog stem die meeste godsdienste oor een fundamentele gedagte saam: Iets binne-in ’n mens—’n siel, ’n gees, ’n spook—is onsterflik en lewe ná die dood voort.
10 Geloof in die onsterflikheid van die siel kom in byna al die Christendom se duisende godsdienste en sektes voor. Dit is ook ’n amptelike leerstelling van Judaïsme. In Hindoeïsme vorm hierdie oortuiging die grondslag van die reïnkarnasieleer. Moslems glo dat die siel saam met die liggaam ontstaan, maar dat dit voortleef nadat die liggaam sterf. Ander gelowe—Afrika-animisme, Sjinto en selfs Boeddhisme—leer verskillende weergawes van dieselfde tema.
11. Hoe beskou party geleerdes die idee dat die siel onsterflik is?
11 Party huldig ’n ander beskouing, naamlik dat bewuste lewe by die dood eindig. Vir hulle is die idee buitensporig dat emosionele en intellektuele lewe in ’n onpersoonlike, skimagtige siel apart van die liggaam voortduur. Die 20ste-eeuse Spaanse skrywer en geleerde Miguel de Unamuno skryf: “Om aan die onsterflikheid van die siel te glo, is om te wens dat die siel onsterflik moet wees, maar om dit so vurig te begeer dat hierdie wilsuiting alle rede sal ignoreer en die grense daarvan oorskry.” Onder diegene wat geweier het om aan persoonlike onsterflikheid te glo, is die bekende eertydse filosowe Aristoteles en Epikurus, die geneesheer Hippokrates, die Skotse filosoof David Hume, die Arabiese geleerde Averroës en Indië se heel eerste premier ná onafhanklikheid, Jawaharlal Nehru.
12, 13. Watter belangrike vrae ontstaan in verband met die leerstelling van die onsterflikheid van die siel?
12 Die vraag is: Het ons werklik ’n onsterflike siel? As die siel nie werklik onsterflik is nie, hoe kan so ’n valse leerstelling dan ’n wesenlike deel van die meeste hedendaagse godsdienste uitmaak? Waar het die idee ontstaan? En watter hoop is daar vir die dooies as die siel werklik by die dood ophou bestaan?
13 Kan ons betroubare en bevredigende antwoorde op hierdie vrae vind? Ja! Dié en ander vrae sal op die volgende bladsye beantwoord word. Laat ons eerstens vasstel hoe die leerstelling van die onsterflike siel ontstaan het.