Die onsterflikheid van die siel—Die oorsprong van die leerstelling
“Geen onderwerp wat met die mens se psigiese lewe verband hou, het sy verstand al so besig gehou as dié van sy toestand ná die dood nie.”—“ENCYCLOPÆDIA OF RELIGON AND ETHICS.”
1-3. Hoe het Sokrates en Plato die idee bevorder dat die siel onsterflik is?
’N70-JARIGE geleerde en onderrigter word daarvan beskuldig dat hy oneerbiedig is en jong verstande deur sy leer verdorwe maak. Hoewel hy tydens sy verhoor ’n briljante verdediging lewer, bevind ’n partydige jurie hom skuldig en veroordeel hom tot die dood. Net ’n paar uur voor sy teregstelling gee die bejaarde onderrigter vir die studente wat om hom staan ’n klomp argumente om te bevestig dat die siel onsterflik is en dat die dood nie gevrees moet word nie.
2 Die veroordeelde is niemand anders nie as Sokrates, ’n beroemde Griekse filosoof van die vyfde eeu v.G.J.a Sy student Plato het hierdie gebeurtenisse opgeteken in die werkstukke Apology en Phaedo. Sokrates en Plato word beskou as van die eerstes wat die idee bevorder het dat die siel onsterflik is. Maar hierdie leerstelling het nie sy oorsprong by hulle gehad nie.
3 Soos ons sal sien, het die idee van menslike onsterflikheid reeds baie vroeër ontstaan. Sokrates en Plato het die begrip egter verfyn en dit in ’n filosofiese leerstelling verander sodat dit groter byval kon vind by die geleerde klasse van hulle dag en dié daarna.
Van Pitagoras tot die piramides
4. Wat was vóór Sokrates se tyd die Griekse beskouings van die hiernamaals?
4 Die Grieke vóór Sokrates en Plato het ook geglo dat die siel ná die dood voortlewe. Pitagoras, die beroemde Griekse wiskundige van die sesde eeu v.G.J., het geglo dat die siel onsterflik en aan sielsverhuising onderworpe is. Voor hom het Tales van Milete, wat vermoedelik die eerste bekende Griekse filosoof was, gemeen dat daar nie net in mense, diere en plante ’n onsterflike siel bestaan nie, maar ook in voorwerpe soos magnete, aangesien hulle yster kan laat beweeg. Die eertydse Grieke het beweer dat die siele van die dooies deur ’n veerman oor die rivier Styx geroei is na ’n enorme ondergrondse ryk wat die onderwêreld genoem is. Daar het regters die siele gevonnis tot foltering in ’n gevangenis met hoë mure of tot ewige heil in Elisium.
5, 6. Hoe het die Perse die siel beskou?
5 In Iran, oftewel Persië, verder oos, het ’n profeet met die naam Zoroaster in die sewende eeu v.G.J. op die toneel verskyn. Hy het ’n vorm van aanbidding ingelui wat as Zoroastrisme bekend geword het. Dit was die godsdiens van die Persiese Ryk, wat oor die wêreld geheers het voordat Griekeland ’n groot mag geword het. Die Zoroastristiese geskrifte sê: “In Onsterflikheid sal die siel van die Regverdige altyd in Vreugde wees, maar die siel van die Leuenaar sal gewis in foltering wees. En hierdie Wette het Ahoeramazda [wat “’n wyse god” beteken] deur Sy soewereine mag neergelê.”
6 Die leerstelling van die onsterflikheid van die siel was ook ’n deel van die pre-Zoroastristies-Iraanse godsdiens. Eertydse stamme van Iran het byvoorbeeld vir die siele van die afgestorwenes gesorg deur vir hulle kos en klere te gee wat vir hulle in die onderwêreld nuttig sou wees.
7, 8. Wat het die eertydse Egiptenaars geglo wat die voortbestaan van die siel ná die dood van die liggaam betref?
7 Geloof in lewe ná die dood was die kern van Egiptiese godsdiens. Die Egiptenaars het geglo dat die siel van die dooie persoon deur Osiris, die hoofgod van die onderwêreld, geoordeel sou word. ’n Papirusdokument wat vermoedelik uit die 14de eeu v.G.J. dateer, toon byvoorbeeld hoe Anubis, god van die dooies, die siel van die skrywer Hunefer tot voor Osiris lei. Op ’n weegskaal word die hart van die skrywer, wat sy gewete verteenwoordig, geweeg teen die veer wat die godin van waarheid en geregtigheid op haar hoof dra. Toth, ’n ander god, skryf die uitslag neer. Aangesien Hunefer se hart nie as gevolg van skuld swaar is nie, weeg dit minder as die veer, en Hunefer word toegelaat om in die ryk van Osiris in te gaan en onsterflikheid te ontvang. Die papirus toon ook ’n vroulike monster wat by die weegskaal staan, gereed om die afgestorwene te verslind as die hart nie die toets deurstaan nie. Die Egiptenaars het ook hulle afgestorwenes as mummies bewaar en die liggame van die farao’s in indrukwekkende piramides weggebêre, aangesien hulle gedink het dat die oorlewing van die siel van die bewaring van die liggaam afgehang het.
8 Verskeie antieke beskawings het dus een gemeenskaplike leerstelling gehad—die onsterflikheid van die siel. Het hulle hierdie leerstelling van dieselfde bron gekry?
Die oorsprong
9. Watter godsdiens het die eertydse wêreld van Egipte, Persië en Griekeland beïnvloed?
9 “In die antieke wêreld”, sê die boek The Religion of Babylonia and Assyria, “het Egipte, Persië en Griekeland die invloed van die Babiloniese godsdiens ondervind.” Hierdie boek verduidelik voorts: “In die lig van die vroeë kontak tussen Egipte en Babilon, soos die El-Amarna-tablette toon, was daar beslis baie geleenthede vir Babiloniese beskouings en gebruike om in Egiptiese kultusse ingelyf te word. In Persië weerspieël die Mitra-kultus die onmiskenbare invloed van Babiloniese opvattings . . . Die sterk toevoeging van Semitiese beginsels in vroeë Griekse mitologie sowel as in Griekse kultusse word nou so algemeen deur geleerdes erken dat geen verdere kommentaar meer nodig is nie. Hierdie Semitiese beginsels is grotendeels Babilonies van aard.”b
10, 11. Wat was die Babiloniese beskouing van lewe ná die dood?
10 Maar verskil die Babiloniese beskouing van wat ná die dood gebeur nie heelwat van dié van die Egiptenaars, die Perse en die Grieke nie? Neem byvoorbeeld die Babiloniese Gilgamesj-epos. Die bejaarde held daarin, Gilgamesj, word deur die werklikheid van die dood agtervolg, en hy begin na onsterflikheid soek, maar kan dit nie vind nie. ’n Wynkelnerin wat hy tydens sy reis ontmoet, spoor hom selfs aan om sy huidige lewe ten volle te geniet, want hy sal nie die eindelose lewe vind waarna hy soek nie. Die boodskap van die hele epos is dat die dood onvermydelik en die hoop op onsterflikheid ’n illusie is. Is dit ’n aanduiding dat die Babiloniërs nie aan die hiernamaals geglo het nie?
11 Professor Morris Jastrow jr., van die Universiteit van Pennsilvanië, VSA, het geskryf: “Die gedagte dat dít wat eens in aansyn gekom het moontlik totaal vernietig kan word, het nooit by die mense of die leiers van [Babiloniese] godsdiens opgekom nie. Die dood was [na hulle mening] ’n oorgang na ’n ander soort lewe, en die ontkenning van onsterflikheid het bloot beklemtoon dat dit onmoontlik is om die verandering in bestaan, wat deur die dood veroorsaak word, vry te spring.” Ja, die Babiloniërs het ook geglo dat ’n soort lewe, in die een of ander vorm, ná die dood voortbestaan. Hulle het dit getoon deur voorwerpe saam met die dooies te begrawe wat hulle in die hiernamaals kon gebruik.
12-14. (a) Waar het die leerstelling van die onsterflikheid van die siel sy oorsprong ná die Vloed gehad? (b) Hoe het dié leerstelling oor die aarde versprei?
12 Die leerstelling van die onsterflikheid van die siel kan dus ongetwyfeld tot eertydse Babilon teruggevoer word. Volgens die Bybel, ’n boek wat die stempel van juiste geskiedenis dra, is die stad Babel, oftewel Babilon, gestig deur Nimrod, ’n agterkleinseun van Noag.c Ná die wêreldvloed in Noag se dag was daar net een taal en een godsdiens. Nimrod het ’n ander godsdiens begin toe hy die stad gestig en ’n toring daar gebou het. Die Bybelverslag toon dat die onsuksesvolle toringbouers ná die verwarring van tale by Babel verstrooi is en ’n nuwe begin moes maak, maar hulle het hulle godsdiens met hulle saamgeneem (Genesis 10:6-10; 11:4-9). Babiloniese godsdiensleringe het derhalwe oor die hele aarde versprei.
13 Volgens tradisie het Nimrod ’n gewelddadige dood gesterf. Ná sy dood sou die Babiloniërs redelikerwys geneig gewees het om groot agting vir hom te hê as die stigter, bouer en eerste koning van hulle stad. Aangesien die god Mardoek (Merodag) as die stigter van Babilon beskou is, beweer party geleerdes dat Mardoek die vergoddelikte Nimrod verteenwoordig. Indien dit die geval is, dan was die idee dat ’n persoon ’n siel het wat ná die dood voortlewe ten minste teen die tyd van Nimrod se dood reeds iets algemeens. Hoe dit ook al sy, geskiedenisverslae toon dat die leerstelling van die onsterflikheid van die siel ná die Vloed sy oorsprong in Babel, oftewel Babilon, gehad het.
14 Maar hoe het dié leerstelling die kern van die meeste godsdienste van ons tyd geword? Die volgende deel sal kyk na hoe dit die Oosterse godsdienste binnegedring het.
[Voetnote]
a v.G.J. beteken “voor die Gewone Jaartelling”. G.J. verwys na “Gewone Jaartelling”, wat dikwels AD genoem word, vir Anno Domini, wat “in die jaar van ons Here” beteken.
b El-Amarna is die terrein met ruïnes van die Egiptiese stad Akhetaton, wat vermoedelik in die 14de eeu v.G.J. gebou is.
c Sien Die Bybel—God se woord of die mens s’n?, bladsye 37-54, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
[Prente op bladsy 6]
Egiptiese beskouing van die siele in die onderwêreld
[Prent op bladsy 7]
Sokrates het aangevoer dat die siel onsterflik is