Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w03 2/1 bl. 25-30
  • Gelouter deur die vuur van beproewing

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Gelouter deur die vuur van beproewing
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Arm seun met ’n groot droom
  • “Hy is ’n regte duiwel!”
  • Ek ondervind die eerste keer teenstand
  • In die hande van wreedaards
  • Die vuur van beproewing
  • ’n Onverwagte seën—toe nog beproewinge
  • Nuwe voorregte en uitdagings
  • Jehovah het ons onderskraag
  • Jehovah was nog altyd my rots
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Vasbeslote om ’n soldaat van Christus te wees
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2017
  • Meer as 50 jaar van ‘oorkom en help’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • ’n Verlate weeskind vind ’n liefdevolle Vader
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
w03 2/1 bl. 25-30

Lewensverhaal

Gelouter deur die vuur van beproewing

SOOS VERTEL DEUR PERICLES YANNOURIS

Die klammigheid van die sel het my laat bibber. Terwyl ek alleen daar gesit het, met net ’n dun kombersie om my, kon ek nog die kil uitdrukking op my jong vrou se gesig sien toe soldate my twee dae vroeër uit my huis gesleep en haar met ons twee siek babas agtergelaat het. Later het my vrou, wat nie dieselfde godsdiensoortuigings as ek gehad het nie, vir my ’n pakkie met ’n nota by gestuur: “Ek stuur hierdie koekies, en ek hoop jy word net so siek soos jou kinders.” Sou ek ooit lewend terugkeer om my gesin te sien?

DIT was net een episode in ’n lang en moeilike stryd om die Christelike geloof, ’n stryd wat familieteenstand, verwerping deur die gemeenskap, hofsake en hewige vervolging behels het. Maar hoe en waarom het ’n stil en godvresende mens soos ek in daardie aaklige plek beland? Laat ek asseblief verduidelik.

’n Arm seun met ’n groot droom

Toe ek in 1909 in Stavromeno, Kreta, gebore is, het die land gebuk gegaan onder oorlog, armoede en hongersnood. Later, toe die Spaanse griep uitgebreek het, was ek en my vier jonger boeties en sussies van die gelukkiges wat nie gesterf het nie. Ek onthou nog hoe ons ouers ons weke lank in die huis gehou het sodat ons nie die griep sou kry nie.

My pa, ’n arm boer, was ’n baie godsdienstige man met ’n oop gemoed. Hy het voorheen in Frankryk en Madagaskar gewoon, waar hy blootgestel is aan progressiewe godsdiensidees. Nogtans het ons gesin getroue lidmate van die Grieks-Ortodokse Kerk gebly wat elke Sondag die mis bygewoon het en die plaaslike biskop tydens sy jaarlikse besoek gehuisves het. Ek het in die kerkkoor gesing, en my grootste droom was om ’n priester te word.

In 1929 het ek by die polisiemag aangesluit. Ek was aan diens in Tessalonika, in die noorde van Griekeland, toe my pa oorlede is. Omdat ek vertroosting en geestelike insig wou hê, het ek gevra vir ’n oorplasing na die berg Atos, wat deur Ortodokse Christene as die “heilige berg” vereer word en waar ’n kloostergemeenskap gewoon het.a Ek het vier jaar lank daar gewerk en kon kloosterlewe van naderby beskou. In plaas van my nader aan God te bring, het die monnike se skandelike onsedelikheid en verdorwenheid my geskok. Ek is met afkeer vervul toe ’n kloostervader wat ek respekteer het, my met onsedelike voorstelle genader het. Ten spyte van hierdie ontnugtering wou ek God nog steeds graag dien en ’n priester word. Ek het selfs ’n priester se kleed aangetrek en ’n foto laat neem as aandenking. Later het ek na Kreta toe teruggetrek.

“Hy is ’n regte duiwel!”

In 1942 het ek met ’n mooi meisie, Frosini, getrou, wat uit ’n gesiene familie gekom het. Die getroude lewe het my meer vasbeslote gemaak om ’n priester te word, aangesien my skoonfamilie baie godsdienstig was.b Dit was my begeerte om in Atene aan ’n kweekskool te gaan studeer. Laat in 1943 het ek by die hawe in Iráklion, Kreta, aangekom, maar ek het nie na Atene vertrek nie. Dit was moontlik omdat ek intussen ’n ander bron van geestelike verkwikking gevind het. Wat het gebeur?

Emmanuel Lionoudakis, ’n energieke jong prediker en een van Jehovah se Getuies, het toe al ’n hele paar jaar insiggewende Bybelwaarhede oral in Kreta verkondig.c Sommige mense is aangetrek deur die duidelike begrip van God se Woord wat die Getuies aangebied het, en hulle het valse godsdiens verlaat. In die nabygeleë stad Sitía het ’n groepie geesdriftige Getuies bymekaargekom. Die plaaslike biskop—wat vroeër in die Verenigde State gewoon het—het nie hiervan gehou nie omdat hy geweet het hoe doeltreffend Jehovah se Getuies as predikers kan wees. Hy was vasbeslote om hierdie “kettery” in sy gebied uit te wis. Op sy aanstigting het die polisie gereeld die Getuies op ’n verskeidenheid valse aanklagte tronk toe en hof toe gesleep.

Een van hierdie Getuies het Bybelwaarhede aan my probeer verduidelik, maar hy het aangeneem dat ek nie belangstel nie. Hy het gevolglik ’n bekwamer bedienaar gestuur om met my te praat. My kortaf reaksie het die tweede Getuie blykbaar na die groepie laat terugkeer en rapporteer: “Dis onmoontlik vir Pericles om ’n Getuie te word. Hy is ’n regte duiwel!”

Ek ondervind die eerste keer teenstand

Ek is bly dat dit nie God se siening van my was nie. In Februarie 1945 het my broer Demosthenes, wat oortuig was dat Jehovah se Getuies die waarheid verkondig, vir my die boekie Comfort All That Mournd gegee. Ek was beïndruk daarmee. Ons het onmiddellik opgehou om na die Ortodokse Kerk toe te gaan, by die groepie in Sitía aangesluit en vir ons broers en susters van ons nuwe geloof vertel. Hulle almal het Bybelwaarheid aangeneem. Soos verwag is, het my besluit om valse godsdiens te verlaat, daartoe gelei dat my vrou en haar familie vyandig teenoor my begin optree het. My skoonpa het ’n tyd lank selfs geweier om met my te praat. By die huis was daar gedurig onenigheid en spanning. Ten spyte hiervan is ek en Demosthenes op 21 Mei 1945 deur broer Minos Kokkinakis gedoop.e

Uiteindelik kon ek my droom bewaarheid om as ’n ware bedienaar van God te dien! Ek onthou nog my eerste dag in die huis-tot-huis-bediening. Met 35 boekies in my sak het ek op my eie met die bus na ’n dorpie gegaan. Ek het effens onseker van huis tot huis begin werk. Hoe verder ek gewerk het, hoe meer moed het ek gekry. Toe ’n ontstoke priester daar opdaag, kon ek moedig my man staan en sy volgehoue eise ignoreer dat ek hom na die polisiestasie moet vergesel. Ek het vir hom gesê dat ek slegs sou gaan nadat ek die hele dorpie besoek het, en dit was presies wat ek gedoen het. Ek was so gelukkig dat ek nie eens vir die bus gewag het nie, maar die 15 kilometer huis toe geloop het.

In die hande van wreedaards

In September 1945 het ek ekstra verantwoordelikhede in ons pas gestigte gemeente in Sitía gekry. Kort daarna het burgeroorlog in Griekeland uitgebreek. Guerrillagroepe het mekaar met sadistiese haat aangeval. Die biskop het die situasie uitgebuit en ’n plaaslike guerrillagroep aangespoor om alles in hulle vermoë te doen om van die Getuies ontslae te raak (Johannes 16:2). Toe die guerrillagroep per bus op pad was na ons dorpie, het ’n goedgesinde vrou op die bus gehoor van hulle planne om hulle “godgegewe” opdrag uit te voer, en sy het ons gewaarsku. Ons het weggekruip, en een van ons familielede het vir ons in die bres getree. Ons lewens is gered.

Dit was die eerste van baie beproewinge. Aanrandings en intimidasie was aan die orde van die dag. Ons teenstanders het ons probeer dwing om terug te gaan kerk toe, ons kinders te laat doop en die teken van die kruis te maak. By een geleentheid het hulle my broer geslaan totdat hulle gedink het hy is dood. Dit was vir my verskriklik om te sien hoe my twee susters se klere geskeur en hulle daarna geslaan is. Gedurende daardie tydperk het die kerk agt kinders van Jehovah se Getuies sonder toestemming gedoop.

In 1949 is my ma oorlede. Die priester het ons weer sy teiken gemaak en ons daarvan beskuldig dat ons nie die wetlike vereistes vir die begrafnispermit nagekom het nie. Ek is in die hof verhoor en vrygespreek. Dit het ’n goeie getuienis gegee, aangesien Jehovah se naam gedurende die inleidingskommentare van die hofsaak genoem is. Al wat ons vyande nog kon doen om “ons tot besinning te bring”, was om ons in hegtenis te neem en uit die land te verban. Dit het hulle in April 1949 gedoen.

Die vuur van beproewing

Ek was een van drie broers wat in hegtenis geneem is. My vrou het my nie eens by die plaaslike polisiestasie kom besoek nie. Ons is eers na ’n tronk in Iráklion gestuur. Soos ek aan die begin genoem het, het ek eensaam en bedruk gevoel. Ek het my jong vrou, wat nie aan dieselfde geloof as ek behoort het nie, en twee klein kindertjies agtergelaat. Ek het Jehovah om hulp gesmeek. God se woorde in Hebreërs 13:5 het by my opgekom: “Ek sal jou hoegenaamd nie verlaat of jou ooit versaak nie.” Ek het besef hoe belangrik dit is om ten volle op Jehovah te vertrou.—Spreuke 3:5.

Ons het gehoor dat hulle ons na Makrónisos gaan verban, ’n dor eiland aan die kus van Attika, Griekeland. Die blote gedagte aan Makrónisos was genoeg om enigiemand met vrees te vervul, omdat die gevangenekamp daar met marteling en slawearbeid geassosieer is. Op pad na daardie tronk toe het ons by Piraeus aangedoen. Hoewel ons nog in handboeie was, het dit ons bemoedig toe van ons medegelowiges aan boord gekom en ons omhels het.—Handelinge 28:14, 15.

Die lewe in Makrónisos was ’n nagmerrie. Die soldate het die gevangenes van die oggend tot die aand mishandel. Baie gevangenes wat nie Getuies was nie, het van hulle verstand afgeraak, ander het gesterf en baie het fisiese gebreke oorgehou. Gedurende die nag het ons die angskrete en gekreun gehoor van diegene wat gemartel word. My dun kombersie het my skaars warm gehou gedurende die koue nagte.

Mettertyd het Jehovah se Getuies goed bekend geword in die kamp omdat die naam elke oggend tydens rollesing genoem is. Ons het dus baie geleenthede gehad om te getuig. Ek het selfs die voorreg gehad om ’n politieke gevangene te doop wat so goed gevorder het dat hy sy lewe aan Jehovah toegewy het.

Gedurende my ballingskap het ek gereeld vir my geliefde vrou geskryf sonder om ooit ’n antwoord van haar te ontvang. Maar ek het nie opgehou om liefdevolle briewe aan haar te skryf nie, waarin ek haar vertroos en verseker het dat dit net ’n tydelike terugslag was en dat ons weer gelukkig sou wees.

Intussen het ons al hoe meer geword namate nog broers opgedaag het. In die kantoor waar ek gewerk het, het ek begin gesels met die bevelvoerende kolonel van die kamp. Aangesien hy die Getuies gerespekteer het, het ek die moed bymekaar geskraap om hom te vra of ons Bybellektuur van ons kantoor in Atene kon kry. “Dis onmoontlik”, het hy gesê, “maar waarom verpak julle mense in Atene dit nie en stuur dit aan my nie?” Ek was stomgeslaan! ’n Paar dae later, terwyl ons ’n boot afgelaai het, het ’n polisieman die kolonel gesalueer en vir hom gesê: “Kolonel, u bagasie is hier.” “Watter bagasie?”, het hy gevra. Ek was toevallig daar naby en het die gesprek gehoor, en het vir hom gefluister: “Dis seker ons s’n, wat na u toe gestuur is soos u gesê het.” Dit was een van die maniere waarop Jehovah seker gemaak het dat ons geestelik gevoed word.

’n Onverwagte seën—toe nog beproewinge

Teen die einde van 1950 is ek vrygelaat. Ek het teruggegaan huis toe—siek, bleek, uitgeteer en onseker oor hoe ek ontvang sou word. Hoe bly was ek tog om my vrou en kinders weer te sien! En hoe bly maar verbaas was ek om te sien dat Frosini nie meer so vyandiggesind was nie. Daardie briewe uit die tronk het goeie resultate gehad. Frosini was beïndruk deur my geduld en volharding. Kort daarna het ons ’n lang gesprek gehad wat ons verhouding herstel het. Sy het ’n Bybelstudie aanvaar en geloof in Jehovah en sy beloftes ontwikkel. Een van die gelukkigste dae van my lewe was in 1952 toe ek haar as ’n toegewyde kneg van Jehovah gedoop het!

In 1955 het ons ’n kampanje gehad om die boekie Die Christenheid of Christelikheid—Watter een is “die lig van die wêreld”? aan elke priester te gee. Ek is in hegtenis geneem en moes saam met ’n paar mede-Getuies in die hof verskyn. Daar was soveel sake teen Jehovah se Getuies dat die hof ’n spesiale sitting moes hou om almal te verhoor. Op daardie dag was al die regspersone van die provinsie teenwoordig, en die hofsaal was vol priesters. Die biskop het op en af in die gange geloop. Een van die priesters het ’n aanklag van proselitisme teen my ingedien. Die regter het hom gevra: “Is jou geloof so swak dat ’n brosjure jou van geloof kan laat verander?” Die priester was sprakeloos. Ek is vrygespreek, maar sommige broers is tot ses maande tronkstraf gevonnis.

In die jare daarna is ons herhaaldelik in hegtenis geneem, en die hofsake het toegeneem. Die sake het ons prokureurs baie besig gehou. Ek het altesaam 17 keer in die hof verskyn. Ondanks hierdie teenstand het ons gereeld die predikingswerk gedoen. Ons het hierdie uitdaging met blydskap aanvaar, en ons geloof is gelouter deur die vuur van beproewing.—Jakobus 1:2, 3.

Nuwe voorregte en uitdagings

In 1957 het ons na Atene getrek. Kort daarna is ek gevra om in ’n pas gestigte gemeente te dien. Die heelhartige ondersteuning van my vrou het gemaak dat ons ons lewe eenvoudig kon hou en geestelike dinge eerste kon stel. So kon ons die meeste van ons tyd aan die predikingswerk wy. Oor die jare heen is ons gevra om in verskeie gemeentes te dien waar daar hulp nodig was.

In 1963 het my seun 21 geword en moes hy aanmeld vir diensplig. Alle dienspligtige Getuies is weens hulle neutrale standpunt geslaan, gespot en verneder. Dit was ook die geval met my seun. Ek het hom dus my kombers van Makrónisos gegee om hom op ’n simboliese manier aan te moedig om die voorbeeld van vorige handhawers van onkreukbaarheid te volg. Die broers wat opgeroep is, is voor die krygsraad gebring en gewoonlik twee tot vier jaar tronkstraf gegee. Sodra hulle vrygelaat is, is hulle weer opgeroep en gevonnis. As ’n godsdiensbedienaar kon ek verskeie tronke besoek en my seun en ander getroue Getuies nou en dan sien. My seun was meer as ses jaar lank in die tronk.

Jehovah het ons onderskraag

Toe daar weer godsdiensvryheid in Griekeland was, het ek die voorreg gehad om as ’n tydelike spesiale pionier op die eiland Rodos te dien. Toe, in 1986, was daar hulp nodig in Sitía, Kreta, waar ek my loopbaan as Christen begin het. Ek was verheug oor hierdie toewysing om weer saam met dierbare medegelowiges te dien wat ek al van my jeug af ken.

Ek is baie bly dat daar in my familie byna 70 is wat Jehovah lojaal dien. En die getal bly toeneem. Party het as ouer manne, bedieningsknegte, pioniers, Betheliete en reisende opsieners gedien. My geloof is meer as 58 jaar lank gelouter deur die vuur van beproewing. Ek is nou 93 jaar oud, en as ek terugkyk, is ek geensins spyt dat ek besluit het om God te dien nie. Hy het my die krag gegee om op sy liefdevolle uitnodiging te reageer: “My seun, gee tog jou hart aan my, en laat jou oë in my weë behae skep.”—Spreuke 23:26.

[Voetnote]

a Sien Die Wagtoring van 1 Desember 1999, bladsye 30-1.

b Grieks-Ortodokse priesters mag trou.

c Sien Die Wagtoring van 1 September 1999, bladsye 25-9, vir die lewensverhaal van Emmanuel Lionoudakis.

d Uitgegee deur Jehovah se Getuies, maar nou uit druk.

e Sien Die Wagtoring van 1 September 1993, bladsye 27-31, en lees van ’n regsoorwinning waarby Minos Kokkinakis betrokke was.

[Venster op bladsy 27]

Makrónisos—’n Eiland wat vrees inboesem

Die dorre, verlate eiland Makrónisos was tien jaar lank, van 1947 tot 1957, ’n plek waarheen meer as 100 000 gevangenes gestuur is. Onder hulle was talle getroue Getuies wat weens hulle Christelike neutraliteit daarheen gestuur is. Die aanstigters van hulle verbanning was gewoonlik Grieks-Ortodokse geestelikes wat die Getuies valslik daarvan beskuldig het dat hulle Kommuniste is.

Aangaande die proses van “hervorming” wat in Makrónisos gebruik is, sê die Griekse ensiklopedie Papyros Larousse Britannica: “Die wrede martelingsmetodes, . . . die lewensomstandighede, wat onaanvaarbaar vir ’n beskaafde nasie is, en die wagte se minagtende behandeling van die gevangenes . . . is ’n skandvlek op die geskiedenis van Griekeland.”

Daar is vir party Getuies gesê dat hulle nooit vrygelaat sal word as hulle nie hulle godsdiensoortuigings prysgee nie. Nietemin het die Getuies hulle onkreukbaarheid gehandhaaf. Wat meer is, sommige politieke gevangenes het Bybelwaarheid aangeneem weens hulle kontak met die Getuies.

[Prent op bladsy 27]

Minos Kokkinakis (derde van regs) en ek (vierde van links) op die strafeiland Makrónisos

[Prent op bladsy 29]

In die velddiens saam met ’n mede-Getuie in Sitía, Kreta, waar ek in my jeug gedien het

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel