‘Die Wet het ons tugmeester geword’
HOEVEEL kinders besef die waarde van reëls en dissipline? Nie baie nie. Vir hulle is beperkings frustrerend. Diegene met die verantwoordelikheid om kinders te help, weet egter dat behoorlike toesig absoluut noodsaaklik is. En namate die jare verbygaan, sal die meeste jongmense waarskynlik begin besef hoe waardevol die leiding was wat hulle ontvang het. Die apostel Paulus het die beeld gebruik van ’n man wat kinders beskerm om ’n aspek toe te lig van die ontwikkelende verhouding tussen Jehovah God en sy volk.
Party eerste-eeuse Christene in die Romeinse provinsie Galasië het volgehou dat slegs diegene wat die Wet gehoorsaam wat God deur Moses aan die Israeliete gegee het, God se guns geniet. Die apostel Paulus het geweet dat dit nie waar is nie, want God het heilige gees gegee aan party wat nog nooit die Joodse wet onderhou het nie (Handelinge 15:12). Paulus het die verkeerde opvatting dus deur middel van ’n illustrasie reggestel. In ’n brief aan die Christene in Galasië het hy geskryf: “Die Wet [het] ons tugmeester geword wat na Christus gelei het” (Galasiërs 3:24). Die beeld van ’n tugmeester, sê ’n geleerde, het “’n betekenisvolle agtergrond uit die ou tyd”. As ons hierdie agtergrond verstaan, sal dit die punt wat die apostel Paulus gemeld het, duideliker maak.
Die tugmeester en sy verantwoordelikhede
Tugmeesters is algemeen gebruik in welgestelde Griekse, Romeinse en miskien selfs Joodse huishoudings om toesig te hou oor die bedrywighede van kinders, van hulle kleintyd tot hulle tienerjare. Die tugmeester was oor die algemeen ’n vertroude slaaf, dikwels al bejaard, wat opgetree het as ’n oppasser wat die kind se veiligheid verseker het en toegesien het dat die vader se wense vir die kind gerespekteer word. Die tugmeester het heeldag oral saam met die kind gegaan, na sy higiëne omgesien, hom skool toe geneem, dikwels sy boeke en ander toerusting gedra en ’n oog oor sy studies gehou.
Die tugmeester was gewoonlik nie ’n onderwyser nie. Hy het nie formele skoolonderrig gegee nie, maar het bloot soos ’n voog opgetree deur te verseker dat die vader se opdragte uitgevoer word. Hy het egter wel indirekte onderrigting deur middel van toesig en dissipline gegee. Dit het ingesluit dat hy die kind goeie maniere leer, hom teregwys en hom selfs fisies straf vir wangedrag. Die moeder en vader was natuurlik die kind se vernaamste opvoeders. Namate die seun egter groter geword het, het sy tugmeester hom geleer dat hy mooi regop in die straat moet loop, dat hy sy mantel moet dra, behoorlik moet sit en goeie tafelmaniere moet hê en dat hy vir ouer persone moet opstaan, sy ouers moet liefhê, en dies meer.
Die Griekse filosoof Plato (428-348 v.G.J.) was daarvan oortuig dat kinders se passies ingeperk moet word. “Net soos geen skaap of ander grasetende dier sonder ’n herder behoort te bestaan nie, kan kinders nie sonder ’n tugmeester of slawe sonder ’n heer leef nie”, het hy geskryf. Hierdie beskouing klink dalk erg, maar dit is hoe Plato sake beskou het.
Die voortdurende teenwoordigheid van tugmeesters het hulle ’n reputasie laat verkry as onderdrukkende wagte en streng dissiplineerders, van wie ’n eindelose string bekrompe, frustrerende en nuttelose beskuldigings gekom het. Hoe dit ook al sy, die tugmeester het beskerming voorsien, sedelik sowel as fisies. Die Griekse geskiedskrywer Appianus van die tweede eeu G.J. vertel die verhaal van een tugmeester wat op pad skool toe die kind onder sy toesig teen potensiële moordenaars probeer beskerm het deur sy arms om hom te sit. Toe hy geweier het om die seun te laat gaan, is die tugmeester sowel as die kind doodgemaak.
Onsedelikheid was algemeen in die Hellenistiese wêreld. Kinders, veral seuns, het beskerming teen seksuele molestering nodig gehad. Tugmeesters het dus die kind se lesse bygewoon, aangesien baie onderwysers nie vertrou kon word nie. Die Griekse redenaar Libanius van die vierde eeu G.J. het selfs gesê dat tugmeesters moes optree as “beskermers van die ontluikende jeug”, om “die ongewenste minnaars te verdryf, hulle te verjaag en weg te hou, hulle nie toe te laat om oorvriendelik te raak met die seuns nie”. Baie tugmeesters het die respek verkry van dié wat onder hulle beskerming was. Gedenkstene getuig van die waardering wat volwassenes gehad het vir geliefde voormalige tugmeesters wat gesterf het.
Die Wet as ’n tugmeester
Waarom het die apostel Paulus die Mosaïese Wet met ’n tugmeester vergelyk? Wat maak hierdie illustrasie besonder gepas?
Die eerste aspek is die beskermende rol van die Wet. Paulus het verduidelik dat die Jode “onder die wet bewaak” is. Dit was asof hulle onder die beskermende sorg van ’n tugmeester was (Galasiërs 3:23). Die Wet het elke aspek van hulle lewe beïnvloed. Dit het hulle welluste en hulle vleeslike begeertes in toom gehou. Dit het hulle gedrag gerig en hulle voortdurend bestraf oor hulle tekortkominge, waardeur elke Israeliet bewus gemaak is van sy eie onvolmaakthede.
Die Wet het ook as ’n beskerming gedien teen verderflike invloede, soos die verdorwe seksuele en godsdiensgebruike van die nasies om Israel. God se verbod op huwelike met heidene was byvoorbeeld noodsaaklik vir die geestelike welsyn van die nasie as ’n geheel (Deuteronomium 7:3, 4). Hierdie wette het die geestelike reinheid van God se volk bewaar en hulle daarop voorberei om die Messias te herken. Dit was inderdaad liefdevolle voorsienings. Moses het sy mede-Israeliete herinner: “Jehovah jou God [het] jou tereggewys . . . soos ’n man sy seun teregwys.”—Deuteronomium 8:5.
’n Belangrike element van die apostel Paulus se illustrasie is egter die feit dat die tugmeester se gesag net tydelik was. Wanneer die kind volwassenheid bereik het, was hy nie meer onder die toesig van sy tugmeester nie. Die Griekse geskiedkundige Xenofon (431-352 v.G.J.) het geskryf: “Wanneer ’n seun nie meer ’n kind is nie en ’n jong man word, stel ander hom vry van sy [tugmeester] en van sy [onderwyser]; hy is dan nie meer onder hulle nie, maar word toegelaat om sy eie gang te gaan.”
Dit was dieselfde met die gesag van die Wet van Moses. Dit het ’n tydelike rol gespeel—“om oortredings openbaar te maak, totdat die saad [Jesus Christus] sou kom”. Die apostel Paulus het verduidelik dat die Wet vir die Jode ’n “tugmeester [was] wat na Christus gelei het”. Paulus se Joodse tydgenote moes Jesus se rol in God se voorneme erken sodat hulle God se guns kon geniet. Sodra hulle dit gedoen het, was die rol van die tugmeester vervul.—Galasiërs 3:19, 24, 25.
Die Wet wat God aan die Israeliete gegee het, was volmaak. Dit het die doel waarvoor God dit ingestel het—om sy volk te beskerm en hulle bewus te maak van sy hoë standaarde—ten volle bereik (Romeine 7:7-14). Die Wet was ’n goeie tugmeester. Maar party wat onder die beskerming daarvan gelewe het, het die vereistes daarvan moontlik as ’n las beskou. Gevolglik kon Paulus skryf dat ‘Christus ons losgekoop het van die vloek van die Wet’ toe God se vasgestelde tyd aangebreek het. Die Wet was net ’n “vloek” in die sin dat dit onvolmaakte Jode onderwerp het aan standaarde waaraan hulle nie ten volle kon voldoen nie. Dit het die streng onderhouding van rituele vereis. Wanneer ’n Jood die voortrefliker voorsiening aangeneem het wat deur Jesus se losprysoffer moontlik gemaak is, was dit nie meer nodig om hom aan die tugmeester se beperkings te onderwerp nie.—Galasiërs 3:13; 4:9, 10.
Paulus het dus die Wet van Moses met ’n tugmeester vergelyk om die toesighoudende funksie en tydelike aard daarvan te beklemtoon. Jehovah se guns word nie verkry deur die Wet te gehoorsaam nie, maar deur Jesus te erken en geloof in hom te beoefen.—Galasiërs 2:16; 3:11.
[Venster/Prent op bladsy 21]
“TOESIGHOUERS” EN “BESTUURDERS”
Die apostel Paulus het nie net oor ’n tugmeester geskryf nie, maar het ook die illustrasies van “toesighouers” en “bestuurders” gebruik. In Galasiërs 4:1, 2 lees ons: “Solank die erfgenaam ’n klein kindjie is, [verskil] hy glad nie van ’n slaaf . . . nie, hoewel hy heer van alles is, maar hy is onder toesighouers en onder bestuurders tot die dag wat sy vader vooraf bepaal het.” Die rolle van “toesighouers” en “bestuurders” het verskil van dié van tugmeesters, maar die punt wat Paulus wou tuisbring, was basies dieselfde.
Onder Romeinse wet is ’n ‘toesighouer’ wetlik aangestel om ’n voog vir ’n minderjarige weeskind te wees en om die kind se finansiële sake te bestuur totdat die kind volwassenheid bereik het. Hoewel so ’n kind dus teoreties “heer” van sy erfenis was, het hy solank hy ’n kind was, net so min reg daarop gehad as ’n slaaf, soos Paulus meld.
’n ‘Bestuurder’ was daarenteen ’n agent wat ’n huishouding se finansiële sake bestuur het. Die Joodse geskiedskrywer Flavius Josefus sê dat ’n jong man met die naam Hirkanus sy vader vir ’n brief gevra het wat sy bestuurder gemagtig het om aan Hirkanus geld te gee om te koop wat hy ook al nodig gehad het.
Hetsy ’n kind dus onder ’n tugmeester, ’n ‘toesighouer’ of ’n ‘bestuurder’ was, dit het gedui op ’n gebrek aan vryheid terwyl die kind minderjarig was. Die kind se lewe is deur ander beheer tot die tyd wat sy vader bepaal het.
[Prent op bladsy 19]
Skilderwerk op ’n eertydse Griekse vaas van ’n tugmeester met sy staf
[Erkenning]
National Archaeological Museum, Athens
[Prent op bladsy 19]
’n Toneel op ’n beker uit die vyfde eeu v.G.J. van ’n tugmeester (met sy staf) wat toekyk terwyl die kind onder sy toesig onderrig word in die digkuns en musiek
[Erkenning]
Bildarchiv Preussischer Kulturbesitz/Art Resource, NY