Lei nuwelinge op om verkondigers te wees
1 April bied baie geleenthede vir opbouende omgang en aktiwiteit, veral met betrekking tot die viering van die Here se Aandmaal op 4 April. Hou in gedagte dat 103,751 mense verlede jaar in Suid-Afrika die Gedenkmaal bygewoon het! Hoe bemoedigend sal dit tog nie wees as al hierdie mense vandeesmaand by die Gedenkmaal teenwoordig is nie, saam met die duisende wat gedurende die afgelope jaar in die waarheid begin belangstel het.
2 Op Sondag, 14 April, sal daar ’n spesiale toespraak oor die onderwerp “Goeie nuus in ’n gewelddadige wêreld” wees. Ons wil hê dat ons Bybelstudente hierdie spesiale vergadering moet bywoon sodat hulle inligting kan hoor wat miskien hulle hart sal bereik en hulle sal beweeg om geloof te beoefen. April is ’n uitstekende tyd om meer aandag aan ons Bybelstudente te skenk.—Rom. 10:13-15.
3 Lei jy jou Bybelstudente vir die bediening op terwyl jy met hulle studeer? Dit behoort progressief gedoen te word. Party verkondigers het dit nuttig gevind om die lesse te hersien deur die student die materiaal te laat voordra soos hy dit in die huis-tot-huisbediening sou gebruik. Het jy al vir jou Bybelstudent vertel wat in velddiens gedoen word en waarom? As die student ’n juiste kennis van die waarheid het, as sy hart geroer en met waardering gevul is deur wat hy geleer het, en as hy sy lewe by Bybelbeginsels aangepas het, kan jy hom nooi om saam met jou aan die veldbediening deel te neem.
DIE VEREISTES
4 Wanneer kan ’n nuweling genooi word om saam met ons velddiens te doen en hom sodoende openlik met die gemeente vereenselwig? Dit sal nuttig wees om bladsy 98 en 99 in die Ons bediening-boek te hersien. Het die student sy begeerte uitgespreek om aan die predikingswerk deel te neem? Indien wel, voldoen hy aan die Skriftuurlike en organisatoriese vereistes? Jy kan ongetwyfeld die nut daarvan insien om seker te wees dat die persoon aan die vereistes voldoen voordat jy hom nooi om saam met ons aan die openbare predikingswerk deel te neem.—2 Tim. 2:15.
5 Reëlings moet getref word dat die persoon wat vir die eerste keer aan die bediening deelneem saam met ’n ervare verkondiger gaan, gewoonlik die een wat met hom studeer. Dit bied die geleentheid vir opleiding. Namate die student meer op sy gemak voel, kan hy ’n groter aandeel in die predikingswerk hê (Gal. 6:6, vgl. NW). Wanneer ’n persoon sy eerste velddiensrapport ingee, sal die gemeentelike sekretaris die prosedure volg wat op bladsy 105 van die Ons bediening-boek uiteengesit word. Die sekretaris of ’n ander lid van die Gemeentelike Dienskomitee sal die saak met die verkondiger bespreek wat die studie hou, en dan moet daar verdere reëlings getref word om met die student te praat. As die student aan die vereistes vir ’n goedgekeurde metgesel voldoen, word ’n Gemeentelike Verkondigerverslagkaart ingevul.
OPLEIDING TUIS
6 Die opleiding van kinders in Jehovah se diens begin tuis en verg baie hulp en aanmoediging van die ouers. Hierdie opleiding moet van kleins af geskied (2 Tim. 3:14, 15). Gesinne word aangemoedig om saam te studeer en te lees sodat hulle begeerte om die waarheid gereeld met ander te deel sterk kan bly. Baie gesinne maak ’n gewoonte daarvan om die dagteks en kommentaar in die Yearbook te bespreek. Die kinders moet aangemoedig word om kommentaar te lewer oor die materiaal. (Vergelyk Prediker 12:9-11.) Wend ’n poging aan om elke dag met jou gesin oor Skriftuurlike waarhede te gesels. Dan sal hulle ook aan die disspelmaakwerk wil deelneem.—Jes. 54:13.
7 Wanneer ’n kind aan die Koninkryksdiens wil begin deelneem en voorbeeldig is in sy gedrag, kan die ouer een van die ouere manne in die Gemeentelike Dienskomitee nader en verneem of die kind kwalifiseer om as ’n verkondiger gereken te word. (Kyk omAF, bladsy 100, paragraaf 1.) Sulke vooruitgang is beslis rede tot vreugde!—Spr. 23:15.
8 Daar is min tyd vir hierdie ou stelsel oor. Ons word dus almal aangespoor om ’n volle aandeel in die oeswerk te hê en om nuwelinge op te lei sodat hulle met hierdie lewensreddende werk kan help.—Matt. 9:37, 38; Openb. 22:17.