Bied die Goeie Nuus Aan—Deur doeltreffende straatgetuienis
1 “Die wysheid self bly luidkeels op die strate roep” (Spr. 1:20, NW). Jesus Christus het van plek tot plek gegaan en die evangelie in die openbaar geleer (Luk. 8:1). Dit blyk uit Handelinge 17:17 dat Paulus op die markte gepreek het. Straatgetuienis is ’n doeltreffende manier om mense vandag met die goeie nuus te bereik.
2 Ons kan straatgetuienis doen by bushaltes, voor ingange van stasies, voor ondernemings of naby woonstelle waartoe ons nie toegang het nie. Wat van besige straathoeke of openbare parke? Wanneer ons straatgetuienis doen, moet ons oppas dat ons nie voor uitstalvensters staan, ingange versper of die normale vloei van verkeer belemmer nie.
HOE OM DIT TE DOEN
3 Nader mense! Wanneer ons dit doen, moet ons selektief wees. Party ervare verkondigers probeer die persoon se oog vang wanneer hulle hom nader, en nadat hulle hom vriendelik gegroet het, gaan hulle oor tot hulle aanbieding.
4 Kort aanbiedings is gewoonlik die beste. Dit is baie doeltreffend as ons ’n vraag stel of ’n stelling maak wat die aandag van die verbyganger sal trek. Wanneer jy Ontwaak! van 8 April aanbied, kan jy sê: “Goeiemore. Dink u dat die wêreld ooit die rookgewoonte sal laat vaar? [Wag vir ’n antwoord.] Hierdie nommer van Ontwaak! bespreek die antwoord. Ek bied hierdie twee tydskrifte aan teen 60 sent.” Of jy wil dalk die illustrasies op die voorblad gebruik om jou aanbieding te begin. Wanneer ’n persoon belangstelling toon, kan jy moontlik sy naam en adres kry en aanbied om hom tuis te besoek ten einde die gesprek voort te sit.
VOORBEREIDING NOODSAAKLIK
5 Voorbereiding is noodsaaklik om doeltreffende straatgetuienis te lewer. Probeer om die tydskrifte voor die tyd te lees en kies dan een of twee gedagtes waarin jy meen ander belang sal stel. Dit help as jy jou aanbieding met ’n gesinslid of ander verkondiger oefen. Dit kan jou help om te sien waar verbeteringe aangebring kan word.—Spr. 27:17.
6 Indien dit moeilik is om toegang tot woonstelle in die gebied te verkry, kan straatgetuienis daar naby ’n praktiese manier wees om met die woonstelbewoners in aanraking te kom. Dit sal moontlik die beste wees om smôrens vroeg straatwerk te doen wanneer mense op pad werk toe is of saans wanneer hulle huis toe kom. Diegene wat aan tydskrifwerk op straat deelneem, het al talle aanmoedigende ondervindinge geniet.
7 Ja, doeltreffende straatgetuienis sal talle ander in staat stel om tot ’n juiste kennis van die waarheid te kom. Laat ons dit ywerig en entoesiasties doen!