Getuig vir mense van alle tale en godsdienste
1 Christene in die eerste eeu het ywerig getuig vir mense van ander tale en wat ’n ander godsdiens aangehang het. Gevolglik was daar waarskynlik “teen die jaar 100 ’n Christengemeenskap in elke provinsie wat aan die Middellandse See gegrens het”.—History of the Middle Ages.
2 In die meeste van ons gebiede het ons ’n verskeidenheid mense van baie verskillende tale. Baie het van die plattelandse gebiede na stede en dorpe verhuis. Mense van regoor Afrika het na die groter metropolitaanse stede verhuis op soek na werk. In die meeste stede en dorpe is daar gevolglik mense van verskeie nie-Christelike godsdienste, waaronder duisende Boeddhiste, Hindoes, Jode en Moslems. Weens hierdie verskeidenheid tale en godsdienste is dit nogal ’n uitdaging om te weet hoe om met al hierdie mense te gesels en vir hulle te getuig wanneer ons hulle ontmoet. Ons kan in werklikheid sendinggebied in ons eie omgewing hê. Hoe kan ons Jesus se opdrag uitvoer “om vir die volk te preek en om ’n deeglike getuienis te gee” vir mense van alle tale en godsdienste?—Hand. 10:42.
Wanneer jy vir mense getuig wat ’n ander taal praat
3 ’n Groot vermeerdering in nuwe verkondigers kom uit die anderstalige bevolking wat nou in gebiede woon wat voorheen Engels- en Afrikaanssprekend was. ’n Aantal anderstalige gemeentes is al in hierdie gebiede gestig. Daar kan egter nog meer bereik word.
4 Oorkom die taalhindernis: Baie mense leer ongetwyfeld baie vinniger en met dieper begrip wanneer hulle in hulle moedertaal onderrig word. Baie broers en susters het ’n ander taal aangeleer “ter wille van die goeie nuus” en sodat hulle “met ander ’n deelgenoot daarvan kan word” (1 Kor. 9:23). Hoewel ’n Chineessprekende vrou jare lank op ’n Engelssprekende suster se tydskrifroete was, het die vrou elke keer ’n Bybelstudie van die hand gewys totdat ’n ander suster, wat besig was om Chinees te leer, vir haar ’n boek in daardie taal aangebied het. Sy het die boek en ’n studie geredelik aanvaar. Die feit dat die tweede suster probeer het om ’n paar woorde in die vrou se taal te praat, het die verskil gemaak.—Vergelyk Handelinge 22:2.
5 Die Wagtoring van 1 November 1992 maak tereg hierdie opmerking: “As jongmense . . . ’n vreemde taal aanleer, sal dit nie net hulle verstandelike vermoë ontwikkel nie, maar hulle sal ook meer in Jehovah se organisasie gebruik kan word.” Party lede van die Bethelgesin het die taak aangepak om ’n nuwe taal aan te leer. Sodoende was broers veral van nut in gemeentes waar hulle gebruik kan word om die leiding te neem. As jy ’n ander taal kan praat of bereid is om te leer, kan jy ook moontlik hulp verleen aan ’n anderstalige gemeente of groep.—Matt. 9:37, 38.
6 ’n Broer in Florida, VSA, wat Viëtnamees geleer het voordat hy in die waarheid gekom het, put nou groot vreugde daaruit om die goeie nuus aan Viëtnameessprekende mense te vertel. Om sy kennis van daardie taal beter in die getuieniswerk aan te wend, het hy met sy gesin na die ander kant van die land verhuis na waar daar hulp in die Viëtnamese veld nodig is. Sedert hy verhuis het, kon hy die Bybel met baie mense uit Viëtnam studeer.
7 ’n Pioniersuster in Kalifornië, VSA, het verskeie dowe mense in haar gebied ontmoet. Sy het tot Jehovah om hulp gebid om iemand te vind wat vir haar gebaretaal kon leer sodat sy dowes die waarheid kon leer. Terwyl sy eendag inkopies by ’n supermark in die buurt gedoen het, het ’n jong dowe vrou haar genader en op ’n stukkie papier hulp gevra om ’n produk op te spoor. Nadat sy haar gehelp het om dit te kry, het die pionier ’n nota geskryf waarin sy haar begeerte uitgespreek het om gebaretaal te leer sodat sy die dowes in die gebied kan help. Toe het die dowe vrou geskryf en gevra: “Waarom wil jy dowe mense help?” Die suster het teruggeskryf: “Ek is een van Jehovah se Getuies en ek wil die dowes help om die Bybel te verstaan. Ek sal jou met graagte help om die Bybel te verstaan as jy vir my gebaretaal leer.” Die suster sê: “Julle sal nie glo hoe bly ek was toe sy ingestem het nie.” Die suster het elke aand vir ses weke na die vrou se huis toe gegaan. Sy het gebaretaal geleer, en die dowe vrou het die waarheid geleer en is gedoop! Dit het meer as 30 jaar gelede gebeur, en die pioniersuster getuig nog steeds vir die dowes en is nou in ’n gemeente vir die dowes.
8 As jy ’n ander taal vlot kan praat en na ’n gebied wil en kan verhuis waar hulp nodig is, kan jy die saak gerus met die ouer manne in die gemeente bespreek. As hulle meen dat jy so ’n verandering kan maak, moet jy die kringopsiener vra of daar ’n nabygeleë gebied is waar jy kan dien. As daar nie is nie, kan jy aan die Genootskap skryf, maar dan moet die ouer manne ’n brief saamstuur waarin hulle kommentaar lewer oor jou kwalifikasies en taalvaardighede.—Sien Die Wagtoring van 15 Augustus 1988, bladsye 21-3.
9 Gebruik die hulpmiddels wat voorsien word: Ons lektuur is beskikbaar in die meeste tale wat in ons gebied gepraat word. Dit sal goed wees om traktate en die Vereis-brosjure by jou te hê in die tale wat in julle gebied gepraat word. As dit duidelik is dat Afrikaans nie ’n persoon se moedertaal is nie, moet jy hom vra watter taal hy lees. Dit kan jou ’n groter keuse van lektuur gee om aan te bied. Iemand wat byvoorbeeld Siswati praat, kan dalk ook Zulu lees.
10 Selfs al praat jy nie die taal van die persoon wat jy in jou getuieniswerk ontmoet nie, kan jy nog steeds die goeie nuus aan hom vertel. Hoe? Deur van die boekie Good News for All Nations gebruik te maak. Dit bevat ’n kort gedrukte boodskap in 59 tale. Soos die instruksies op bladsy 2 van die boekie verduidelik, moet jy eers vasstel watter taal die huisbewoner praat en hom dan die gedrukte inligting op die gepaste bladsy in die boekie laat lees. Nadat hy dit gelees het, kan jy vir hom ’n publikasie in sy taal wys. As jy nie een het nie, kan jy vir hom die publikasie in Engels wys. Beduie dat jy sal probeer om met ’n eksemplaar in sy taal terug te keer. Vra sy naam en skryf dit saam met sy adres neer. Dalk kan jy die inligting vir die naaste gemeente of groep gee wat daardie taal praat. Vir verdere inligting oor hoe om sulke inligting vir die betrokke broers aan te stuur, sien Ons Koninkryksbediening vir Oktober 1993, bladsy 11. As niemand wat die taal kan praat die persoon kan besoek nie, kan jy dalk die uitdaging aanvaar en moontlik selfs met die persoon studeer deur in ’n Afrikaanse publikasie te volg.—1 Kor. 9:19-23.
Wanneer jy vir mense getuig wat aan nie-Christelike godsdienste behoort
11 As ons ’n bietjie kennis van ’n persoon se godsdiensagtergrond het, help dit ons om ’n doeltreffende getuienis oor God se Koninkryk te gee. Die boek Die mensdom se soeke na God gee ons insig in die wêreld se vernaamste godsdienste sodat ons mense se opvattings goed genoeg kan verstaan om hulle tot ’n kennis van die waarheid te help kom.
12 In die venster op die laaste bladsy van hierdie byvoegsel is daar ’n lys publikasies wat deur Jehovah se organisasie voorsien is sodat ons vir nie-Christene kan getuig. Deur hierdie publikasies te lees, verstaan ons hoe om mense met die goeie nuus te nader. Ons moet ook nie vergeet dat die Redenering-boek ’n nuttige hulpmiddel is nie. Bladsye 21-4 van hierdie boek voorsien praktiese wenke oor hoe om teenoor Boeddhiste, Hindoes, Jode en Moslems op te tree.
13 Let op wat jy sê: Ons moet versigtig wees om nie alle mense wat aan ’n sekere godsdiens behoort oor dieselfde kam te skeer deur aan te neem dat hulle persoonlike opvattings noodwendig dieselfde is as ander mense van daardie geloof nie. Probeer eerder verstaan hoe die individu met wie jy gesels, dink (Hand. 10:24-35). Salimoon was, as ’n Moslem, van kleins af geleer om te glo dat die Koran God se woord is. Maar hy kon die Moslemlering dat ’n allergenadige God mense in ’n brandende hel sou pynig nooit heeltemal aanvaar nie. Eendag het Jehovah se Getuies hom na ’n vergadering genooi. Hy het onmiddellik besef dat dit die waarheid is, en nou dien hy vreugdevol as ’n ouer man in die Christengemeente.
14 Wanneer ons vir diegene getuig wat tot nie-Christelike godsdienste behoort, moet ons versigtig wees dat ons benadering ons nie die geleentheid kos om met hulle oor die goeie nuus te gesels nie (Hand. 24:16). Aanhangers van sekere godsdienste is baie daarteen gekant dat mense enige pogings aanwend om hulle tot ’n ander geloof oor te haal. Soek dus na punte waaroor julle saamstem sodat jy hulle na die hele waarheid van God se Woord kan aantrek. Skaapgeaardes sal gunstig reageer op ’n vriendelike benadering en ’n duidelike aanbieding van die waarheid.
15 Ons woordkeuse is ook ’n belangrike oorweging sodat ons nie onnodig mense afstoot van ons boodskap nie. As jy jou byvoorbeeld dadelik as ’n Christen identifiseer, sal die persoon jou moontlik outomaties met die Christendom se kerke vereenselwig, wat ’n hindernis kan veroorsaak. Dit sal dalk ook voordelig wees om na die Bybel as “die Skrif” of “die heilige geskrifte” te verwys.—Matt. 21:42; 2 Tim. 3:15.
16 As jy iemand ontmoet wat aan ’n nie-Christelike godsdiens behoort en jy onbevoeg voel om sommer dadelik vir hom te getuig, kan jy die geleentheid gebruik om nader kennis te maak en vir hom ’n traktaat te gee. Keer dan binne ’n dag of twee terug, nadat jy goed genoeg voorberei het om ’n getuienis te gee.—1 Tim. 4:16; 2 Tim. 3:17.
17 Wanneer jy vir Boeddhiste getuig: (Sien hoofstuk 6 in Die mensdom se soeke na God.) Boeddhistiese opvattings verskil grootliks van een gelowige tot ’n volgende. Boeddhisme staan nie die bestaan van ’n persoonlike Skepper voor nie, maar hou eerder die Indiese man Boeddha Gautama, van die sesde eeu v.G.J., voor as ’n godsdiensideaal. Toe Gautama vir die eerste keer ’n siek man, ’n ou man en ’n dooie man gesien het, het hy hom oor die betekenis van die lewe begin kwel. ‘Word die mens net gebore om te ly, oud te word en te sterf?’ het hy gewonder. Ons kan natuurlik hierdie vrae beantwoord vir Boeddhiste wat opreg is en die antwoorde wil weet.
18 Wanneer jy met Boeddhiste gesels, moet jy by die positiewe boodskap en duidelike waarhede bly wat in die grootste van alle heilige boeke, die Bybel, gevind word. Soos die meeste ander mense stel Boeddhiste intens belang in vrede, sedelikheid en gesinslewe en verwelkom hulle dikwels besprekings oor hierdie onderwerpe. Dit kan jou die geleentheid gee om die Koninkryk as die ware oplossing vir die mensdom se probleme te beklemtoon.
19 In die meeste stede en groter dorpe in hierdie land is daar Chinese wat Boeddhisme en ander Oosterse filosofieë aanhang. Toe ’n suster in Montana, VSA, ’n Chinese man in ’n kruidenierswinkel gesien het, het sy vir hom ’n traktaat in sy taal gegee en vir hom ’n Bybelstudie aangebied. Hy het gesê: “Bedoel jy die Heilige Bybel? Ek soek al my hele lewe lank hierna!” Hy het daardie week begin studeer en al die vergaderinge begin bywoon.
20 Meer as ’n dekade al leer ’n pioniersuster in Nevada, VSA, Chinese studente die waarheid. Toe sy in ’n gebou gewerk het waar daar studente in agt van die woonstelle woon, het sy tot Jehovah gebid om haar te help om in elk van die woonstelle ’n studie te begin. Binne twee weke het sy met ten minste een student in elke woonstel gestudeer. ’n Benadering wat goed vir haar werk, is om te sê dat sy ’n gemeenskaplike besorgdheid onder studente gevind het—hulle wil almal vrede en geluk hê. Dan vra sy of hulle ook daaroor besorg is. Hulle stem altyd saam. Sy vestig hulle aandag op die brosjure Lasting Peace and Happiness—How to Find Them, wat vir Chinese mense bedoel is. Ná slegs vyf studiesessies het een student vir haar gesê dat hy al lank na die waarheid soek en dit nou gevind het.
21 Wanneer jy vir Hindoes getuig: (Sien hoofstuk 5 in Die mensdom se soeke na God.) Hindoeïsme het geen definitiewe geloofsbelydenis nie. Die filosofie daarvan is baie ingewikkeld. Hindoes het ’n trinitariese begrip van hulle vernaamste god Brahman (Brahma die Skepper, Wisjnoe die Beskermer en Siwa die Vernietiger). Geloof in ’n onsterflike siel is onontbeerlik vir hulle leerstelling van reïnkarnasie, wat daartoe lei dat Hindoes ’n fatalistiese uitkyk op die lewe het. (Sien die Redenering-boek, bladsye 352-57, en Die Wagtoring van 15 Mei 1997, bladsye 3-8.) Hindoeïsme leer verdraagsaamheid—dat alle godsdienste na dieselfde waarheid lei.
22 ’n Benadering wat jy kan gebruik wanneer jy vir ’n Hindoe getuig, is om ons Bybelse hoop van ewige lewe in menslike volmaaktheid op aarde te verduidelik, asook die bevredigende antwoorde wat die Bybel bied op die belangrike vrae wat die hele mensdom raak.
23 Wanneer jy vir Jode getuig: (Sien hoofstuk 9 in Die mensdom se soeke na God.) Anders as ander nie-Christelike godsdienste vind Judaïsme sy oorsprong in die geskiedenis en nie in die mitologie nie. Deur die geïnspireerde Hebreeuse Geskrifte word ’n onontbeerlike skakel in die mensdom se soeke na die ware God voorsien. En tog, in stryd met God se Woord, is ’n basiese lering van hedendaagse Judaïsme die geloof in ’n onsterflike mensesiel. Ons kan ’n gemeenskaplike terrein vind deur te bevestig dat ons die God van Abraham aanbid en deur te erken dat ons almal in vandag se wêreld voor dieselfde probleme te staan kom.
24 As jy ’n Jood ontmoet wat ’n gebrek aan geloof in God het, kan jy hom vra of hy nog altyd so gevoel het, wat jou moontlik sal help om te bepaal wat die beste benadering sal wees . Byvoorbeeld, hy het dalk nog nooit ’n bevredigende verduideliking gehoor oor waarom God lyding toelaat nie. Jode wat opreg is, kan aangemoedig word om weer die identiteit van Jesus as die Messias te ondersoek, nie deur middel van die Christendom se wanvoorstellings van hom nie, maar op die manier wat Joodse skrywers van die Griekse Geskrifte hom voorstel.
25 Wanneer jy vir Moslems getuig: (Sien hoofstuk 12 in Die mensdom se soeke na God.) Moslems is aanhangers van die Islam (of, Mohammedanisme), wat geloof behels in Allah as hulle enigste godheid en in Mohammed (570-632 G.J.) as sy laaste en belangrikste profeet. Omdat hulle nie glo dat God ’n seun gehad het nie, erken Moslems Jesus Christus as ’n kleiner profeet van God, maar niks meer nie. Die Koran, wat minder as 1 400 jaar oud is, haal uit die Hebreeuse en die Griekse Geskrifte aan. Daar bestaan sterk ooreenkomste tussen die Islam en Katolisisme. Albei godsdienste leer dat die mensesiel onsterflik is, dat daar ’n toestand van tydelike marteling en ’n brandende hel is.
26 ’n Duidelike ooreenkoms is ons geloof in slegs een ware God en dat die Bybel deur hom geïnspireer is. Iemand wat die Koran noulettend lees, sal sien dat daar na die Tora, die Psalms en die Evangelies as God se Woord verwys word en sal lees dat hulle as sodanig erken en gehoorsaam moet word. Jy kan dus aanbied om dit met die persoon te studeer.
27 Hierdie aanbieding sal dalk werk met iemand wat sê dat hy ’n Moslem is: “Ek het nog nie met baie Moslems gesels nie, maar ek het iets oor ’n paar van julle godsdiensleerstellings in hierdie handboek gelees. [Blaai na bladsy 24 in die Redenering-boek.] Hiervolgens glo julle dat Jesus ’n profeet was, maar dat Mohammed die laaste en belangrikste profeet was. Glo julle ook dat Moses ’n ware profeet was? [Wag vir ’n antwoord.] Kan ek vir jou wys wat God vir Moses oor Sy persoonlike naam geleer het?” Lees dan Exodus 6:2, 3, NW. Tydens jou herbesoek kan jy die onderhofie “One God, One Religion” op bladsy 13 in die boekie The Time for True Submission to God bespreek.
28 Vandag tree baie in ooreenstemming op met die woorde van Jesaja 55:6, wat sê: “Soek die HERE terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is.” Dit geld vir alle opregtes van hart, ongeag die taal wat hulle praat of hulle godsdiensagtergrond. Ons kan verseker wees dat Jehovah ons pogings sal seën terwyl ons daarna streef om te gaan en ‘dissipels te maak van mense van al die nasies’.—Matt. 28:19.
[Venster op bladsy 6]
Lektuur bedoel vir nie-Christene
Boeddhiste
In Search of a Father (Boekie)
“Kyk, Ek maak alles nuut” (Brosjure)
Chinese
Lasting Peace and Happiness—How to Find Them (Brosjure)
Hindoes
From Kurukshetra to Armageddon—And Your Survival (Boekie)
Our Problems—Who Will Help Us Solve Them? (Brosjure)
The Path of Divine Truth Leading to Liberation (Boekie)
Victory Over Death—Is It Possible for You? (Boekie)
Why Should We Worship God in Love and Truth? (Brosjure)
Jode
A Peaceful New World—Will It Come? (Traktaat Nr. 17)
Jehovah’s Witnesses—What Do They Believe? (Traktaat Nr. 18)
Will There Ever Be a World Without War? (Brosjure)
Moslems
How to Find the Road to Paradise (Traktaat)
The Time for True Submission to God (Boekie)