Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 11/22 bl. 18-19
  • Die koddige vlakvark

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die koddige vlakvark
  • Ontwaak!—1993
  • Soortgelyke materiaal
  • Op Safari in Ghana
    Ontwaak!—2001
  • Die walrus en die dwelmhandel
    Ontwaak!—1990
  • Die luiperd—’n geheimsinnige kat
    Ontwaak!—1995
  • Die Jagluiperd—die vinnigste van alle katte
    Ontwaak!—1997
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 11/22 bl. 18-19

Die koddige vlakvark

EEN van die komieklikste dinge wat ’n mens in die Afrika-bosveld sien, is ’n vlakvarkgesin wat deur die veld draf. ’n Mens kan sien hoe hulle op ’n waardige vlakvarkmanier teen ’n vinnige pas voortdraf, elkeen met sy dun kwasstert wat soos ’n klein radio-antenna regop staan. Die vlakvark probeer toeskouers natuurlik nie vermaak nie. Volgens die boek Maberly’s Mammals of Southern Africa “help hierdie gewoonte die diere waarskynlik om mekaar in lang gras te sien wanneer hulle op die vlug slaan, veral in die geval van kleintjies wat ’n baie beperkte uitsig het”.

Die manier waarop hulle hulle “tuiste” binnegaan, is selfs koddiger, veral as hulle dit baie vinnig doen. Die vlakvark se “tuiste” kan ’n vergrote erdvark- of ystervarkgat in die grond wees, en vlakvarke gaan hulle “tuiste” op ’n unieke manier binne. Die jong varkies, wat nog nie betaamlike vlakvarkmaniere aangeleer het nie, sal soos enige ander waardige dier met hulle kop eerste in die skuiling duik. Maar nie die ouers nie! Hulle sal in volle vaart, en met militêre noukeurigheid, vinnig by hulle skuiling omswaai—en haastig agteruitbeweeg tot in die veiligheid van hulle tuiste! Hierdie beweging word nie bloot gedoen om bystanders te vermaak nie. Jy sien, die vlakvark het nou die besliste voordeel dat hy na sy vyand gedraai is en enige verdere aanvalle met sy dodelike slagtande kan afweer.

Dit spreek vanself dat hierdie halsoorkop beweging soms ’n onverwagse nasleep het. Die probleem is dat vlakvarke dalk nie die enigstes is wat hierdie stowwerige ondergrondse skuilings bewoon nie. Hiënas, ratels, jakkalse en ystervarke soek moontlik ook skuiling in hierdie gate. “As die gate reeds bewoon word, kan [vlakvarke] soms onaangename ontmoetings hê”, sê die tydskrif Custos. “Vlakvarke is al in ’n paar gevalle met [ystervark]penne in hulle agterstewe gesien.” Dit is seker glad nie vir die ongelukkige vlakvark baie snaaks nie.

Met sy onheilspellende slagtande lyk die vlakvark soos ’n boosaardige roofdier wat op soek is na prooi. Maar dit is geensins die geval nie. Die vlakvark is al beskryf as ’n “dier wat oor die algemeen vreedsaam is”. Hy is eintlik ’n grasvreter, en baie kieskeurig daarby! Hy eet feitlik net kort grassoorte en smul slegs aan die sagte punte van graslote; hy vermy onkruid, lang grassoorte of ander plante. Allesbehalwe ’n “vark”! Daarbenewens is die vlakvark bereid om selfs op die ongemaklikste plekke na ’n maaltyd te soek. En wanneer hy sy gesig deur doringrige ruigtes steek op soek na smaaklike nuwe grassies wat dalk daaronder groei, beskerm sy slagtande sy gesig.

Gedurende die warmste ure van die dag kan jy vlakvarke dikwels “tuis” vind in ’n verlate erdvarkgat wat hulle met hulle slagtande groter gemaak het. As hulle nie rus nie, sal jy hulle dalk by ’n nabygeleë waterbron sien drink of in die modder sien rol. Wanneer dit etenstyd is, kan ’n mens hulle oor die grasvelde sien draf. (Hulle weier om te hardloop tensy hulle daartoe gedwing word.) Hulle beweeg met waardigheid, en almal—van volwassene tot kleintjie—se seningrige stert staan penorent.

Vlakvarke is vanweë die opvallende “vratte” op hulle langwerpige gesigte nie juis die aantreklikste lede van die varkfamilie nie. Hierdie vratte is nie eintlik ware vratte nie, maar uitgroeisels van verdikte vel wat baie nuttig kan wees. Hulle kan help om die vlakvark se oë te beskerm wanneer hy grawe en vreet. Hulle kan ook nuttig wees wanneer daar onenigheid tussen mannetjies is aangesien hulle as ’n beskerming teen die opponent se swaaiende slagtande dien.

Agter hierdie koddige gesig skuil ’n kwaai vegter. Vlakvarkwyfies is baie sorgsaam en beskermend teenoor hulle kleintjies. Ander volwasse lede van die trop sal jong varkies eweneens beskerm, al word hulle self sodoende in gevaar gestel. As ’n jagluiperd byvoorbeeld ’n jong vlakvarkie aanval, sal ’n volwassene die aanvaller bestorm. Wanneer ’n verwoede vlakvark met sy skerp slagtande op die jagluiperd afstorm, is dit gewoonlik genoeg om hom die hasepad te laat kies. Intussen sal die varkies rondhardloop en veilig onder hulle ma se maag probeer bly. As die bedreiging ernstiger is, soos in die geval van ’n leeu of ’n luiperd, sal die vlakvarke natuurlik wyslik die aftog blaas, met hulle sterte wat steeds regop staan. Die volwassenes sal egter die agterhoede vorm en die kleintjies sodoende toelaat om eerste veiligheid te bereik.

Dr. Darryl Mason sê nietemin in die tydskrif Custos: “Volwasse vlakvarke kan gedugte teenstanders van jagluiperds, luiperds en hiënas wees.” Daar is al gesien hoe ’n vlakvarksog een van haar kleintjies teen ’n groot luiperdmannetjie verdedig. Sy het die luiperd moedig bestorm en hom dertig meter ver gejaag voordat hy haastig in ’n boom skuiling gaan soek het. By ’n ander geleentheid is daar gesien hoe twee vlakvarke ’n trop van 16 wildehonde weghou.

Hoe fassinerend is dit tog om die manewales van hierdie gedugte komediant van Afrika se bosveld dop te hou!

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel