Ons beskou die wêreld
Huwelike aan die afneem
In Kanada is die huwelik as instelling vinnig aan die afneem. Volgens ’n verslag van Statistics Canada het “die aantal Kanadese wat eenvoudig saamlewe [in die laaste 15 jaar] amper verdrievoudig van 700 000 tot 2 miljoen—’n jaarlikse toename wat ses keer groter is as dié van huwelike”, sê The Toronto Star. Daarbenewens “is die helfte van alle eerste verbintenisse in Kanada nou gemeenregtelike verbintenisse, en in Quebec styg die syfer tot vier uit elke vyf”. Waarom die verandering? Gemeenregtelike verbintenisse is “blykbaar deel van ’n maatskaplike revolusie, een van ’n reeks verwerpings van instellings wat op ’n maatskaplike stelsel gegrond is wat uit die mode raak”, sê die verslag. Die koerantartikel het gesê dat “saamwonery vroeër as ’n proefhuwelik beskou is, maar nou as ’n alternatief [vir die huwelik] gesien word”.
“Die Moses-effek”
Twee fisici van Japan het daarin geslaag om water in ’n laboratorium te skei, berig New Scientist. Masakazoe Iwasaka en Sjogo Ueno, van die Universiteit van Tokio, het kragtige elektriese spoele gebruik om ’n sterk magneetveld voort te bring rondom ’n horisontale buis wat gedeeltelik vol water was. Die magneetveld, wat sowat 500 000 keer sterker as dié van die aarde is, het die water na die kante van die silinder gedwing, wat ’n deel in die middel droog gelaat het. Die verskynsel, wat die wetenskaplikes in 1994 vir die eerste keer ontdek het, is ook deur fisici in Europa en die Verenigde State teweeggebring. Hoe werk dit? Volgens Koitsji Kitazawa, ’n kollega by die Universiteit van Tokio, het water “’n effense afkeer daarvan om gemagnetiseer te word. ’n Kragtige magneet stoot water dus af en forseer dit van plekke waar die magneetveld hoog is na ander plekke waar dit laag is.” Kitazawa het die verskynsel “Die Moses-effek” genoem.
Ongemanierde toeriste
Italië se ryk kultuurerfenis maak dit ’n gewilde toeristebestemming. Ongelukkig is vakansiegangers daar dikwels nalatig wat goeie maniere betref. Volgens Mario Lolli Ghetti, Florence se kommissaris gemoeid met sake rakende die omgewings- en argitektuurerfenis, “meen baie dat hulle die reg het om dinge te doen waaraan hulle nooit sou dink om by die huis te doen nie”. Die stad Florence het gevolglik ’n “Handves van toeristeregte en -pligte” uitgegee wat besoekers herinner aan wat hulle mag en nie mag doen nie, berig La Repubblica. Hier volg ’n paar herinneringe: Moenie in die fonteine swem of jou voete daarin sit nie; moenie voor monumente en museums piekniek hou nie; moenie blikkies of kougom op die grond gooi nie; moenie moulose T-hemde dra wanneer museums besoek word nie en moenie in swemklere ’n sonbad neem in historiese tuine en op pleine nie. Goed gemanierde toeriste word natuurlik nog steeds waardeer en verwelkom.
Babavoedingsdilemma
“Twee dekades lank al gee dokters en openbare gesondheidsagentskappe dieselfde raad vir nuwe moeders in armer lande: Borsvoed julle babas om hulle gesondheid te beskerm”, sê The New York Times. “Maar nou maak die vigs-pandemie daardie eenvoudige raad ongeldig. Studies toon dat moeders wat met die vigs-virus besmet is dit in baie gevalle deur borsvoeding kan oordra. . . . Volgens ’n onlangse skatting van die Verenigde Nasies het ’n derde van alle babas met HIV (Menslike immuungebreksvirus) die virus deur hulle moeder se melk gekry.” Die alternatief is ’n melkformule vir babas, maar dit skep weer ander probleme. In baie lande het moeders nie die middele om die melkformule te bekostig of die bottels te steriliseer nie en het hulle nie toegang tot skoon water nie. Gevolglik ly babas aan diarree en ontwatering, asook aan asemhaling- en spysverteringsiektes. Arm gesinne verwater die mengsel, wat tot die ondervoeding van babas lei. Gesondheidsbeamptes worstel nou met die probleem om ’n balans tussen die twee kwessies te vind. Wêreldwyd is daar elke dag meer as 1000 nuwe gevalle van HIV-besmetting onder babas en kinders.
Wêreld se sanitasievlak daal
“Bykans driemiljard mense, meer as die helfte van die wêreldbevolking, het nie toegang tot selfs ’n eenvoudige sanitêre toilet nie”, berig The New York Times. Hierdie bevinding, wat deel is van die Progress of Nations-opname wat elke jaar deur UNICEF (Verenigde Nasies-kinderfonds) gedoen word, het ook aan die lig gebring dat “een van die statistieke wat wêreldwyd vererger, en nie verbeter nie, dié is wat die sanitasievlak aandui”. Party lande wat byvoorbeeld vordering gemaak het met die verskaffing van skoon water aan die armes, skiet te kort wat rioolverwydering betref. Hierdie gebrek aan basiese higiëne dra grootliks by tot die verspreiding van nuwe peste en die terugkeer van ou siektes, sê die verslag. Daar word geskat dat meer as tweemiljoen kinders elke jaar aan siektes sterf wat met onhigiëniese toestande verband hou. Akhtar Hameed Khan, die samesteller van die studie, sê: “Wanneer jy ’n middeleeuse sanitasievlak het, het jy ’n middeleeuse siektevlak.”
Die huis is die belangrikste leersentrum
Is dagsorg—die toesighouding oor kinders deur ander terwyl die ouers werk—goed vir kinders? Dit is wat ’n Amerikaanse studie deur die Nasionale Instituut vir Kindergesondheid en Menslike Ontwikkeling wou bepaal. Vooraanstaande kindersorgnavorsers aan 14 universiteite het 1364 kinders van geboorte tot die ouderdom van drie gemonitor. Meer as 20 persent van die kinders is tuis deur hulle moeders versorg; die res is na dagsorgsentrums of na die huise van betaalde kinderoppassters gestuur. Die resultate? “Die navorsers het bevind dat kinders wat dagsorg van ’n hoë gehalte ontvang—die soort waarin volwassenes aandag aan hulle geskenk en baie met hulle gepraat het—ietwat van ’n voordeel het bo kinders wat minder aandag kry wat taal- en leervaardighede betref”, sê die tydskrif Time. “Maar die vernaamste gevolgtrekking was dat die impak van dagsorg nie naastenby so belangrik vir die verstandelike en emosionele ontwikkeling van die kinders was as die kwaliteit van hulle gesinslewe nie. . . . Navorsers het bereken dat net 1% van die verskille tussen kinders teruggevoer kon word tot dagsorgfaktore, maar 32% kon verklaar word deur die uiteenlopende gehalte van hulle ervaringe in hulle gesin. Wat beteken dit? Die huis is die belangrikste leersentrum.”
Ongewone vriendskap
Wetenskaplikes verwonder hulle al lank oor die verhouding tussen miere en akasiabome in Afrika. Die bome voorsien die miere van kos en skuiling. Die miere val weer op hulle beurt insekte aan wat die bome beskadig en steek diere wat die blare afvreet. Dit lyk of die bome op hierdie beskerming staatmaak vir hulle oorlewing. Maar die bome het ook vlieënde insekte nodig om hulle blomme te bestuif. In die lig hiervan, hoe kry die insekte wat die bome moet bestuif die geleentheid om hulle werk te doen? Volgens die wetenskapstydskrif Nature gee die bome ’n chemiese stof af wanneer “die blomme gereed is om bevrug te word”, en dit skrik blykbaar die miere af. Dit laat insekte toe om die blomme “op die kritieke oomblik” te besoek. Nadat die blomme dan bevrug is, keer die miere terug na hulle wagpos.
Gutenberg-Bybel ontdek
’n Deel van die Bybel wat in die 15de eeu deur Johannes Gutenberg gedruk is, is in ’n kerkargief in Rendsburg, Duitsland, ontdek. Nadat dit vroeg in 1996 ontdek is, is die Bybeldeel met 150 bladsye noukeurig ondersoek voordat daar verklaar is dat dit ’n egte Gutenberg-Bybel is, berig die Wiesbadener Kurier. Daar is wêreldwyd 48 Gutenberg-Bybels waarvan mense weet, en 20 hiervan is volledig. “Die beroemde Bybels wat uit twee dele bestaan en deur Johannes Gutenberg gedruk is, word as die eerste groot werk in die boekdrukkuns beskou”, sê die koerant. Die jongste ontdekking “het nog die oorspronklike boekketting waarmee die Bybel aan die preekstoel vasgemaak is om te keer dat dit gesteel word”.
Leef langer
Wat is nodig om gesond te bly en langer te leef? “’n Neiging om ’n konstante gemoedstemming te handhaaf wat grotendeels vry van ontsteltenis is, bevorder fisiese gesondheid veel meer as oefening of eetgewoontes”, sê dr. George Vaillant van Brigham en Vrouehospitaal in Boston. Vaillant se standpunt is gebaseer op ’n voortgesette studie van meer as 230 mans wat reeds sedert 1942 bestudeer word. Op die ouderdom van 52 is die mans wat goeie gesondheid geniet het in drie groepe verdeel: diegene wat beskou word as “vol stres” (hulle het alkohol misbruik, gereeld kalmeermiddels gebruik of ’n psigiater geraadpleeg), “stresloos” (hulle het nooit alkohol misbruik, luimwysigende geneesmiddels gebruik of ’n psigiater geraadpleeg nie) en “die tussengroep” (diegene wat tussen die ander twee groepe was). Op die ouderdom van 75 “het net 5 persent van die [stresloses] al gesterf, teenoor 25 persent van die tussengroep en 38 persent van die mans wat vol stres was”, berig Science News. ’n Gesonde dieet en gereelde oefening help beslis om goeie gesondheid te bevorder. Maar “langlewendheid, ten minste vir mans, hang blykbaar af van ’n geneigdheid tot emosionele stabiliteit wat uiterste depressie afweer”, sê Science News.