Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 1/8 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Oë kry te min suurstof
  • Brasiliaanse vriendskappe aan die afneem
  • Droefheid en depressie
  • Verslaaf aan Internetpornografie
  • Vigs verwoes Afrika
  • Stede se klimaat verander
  • Besoedeling verminder die aanvraag na walvisse
  • Lotus wat homself “skoonmaak”
  • Geskik om te drink?
  • Die waterwerende lotusblaar
    Ontwaak!—2009
  • Hoe erg is vigs in Afrika?
    Ontwaak!—1992
  • Waarom verduur Afrika soveel lyding?
    Ontwaak!—1992
  • Skokkende vigs-statistiek!
    Ontwaak!—2001
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 1/8 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Oë kry te min suurstof

Sommige mense wat kontaklense dra se oë kry dalk te min suurstof, berig The Globe and Mail. “Vaskularisasie vind plaas wanneer die kornea [die oog se deurskynende vlies] nie die nodige suurstof uit die lug deur die oogoppervlak kan opneem nie en bloedvate begin vorm om daarvoor te vergoed.” Dit kan tot verswakte gesigsvermoë of selfs blindheid lei. Dr. Raymond Stein, hoof van oogheelkunde by ’n hospitaal in Toronto, sê die “ergste scenario is wanneer ’n pasiënt nie na sy of haar lense omsien nie en nie vir opvolgbesoeke inkom nie.” Optometriste spoor pasiënte aan om ’n professionele oogarts te raadpleeg om seker te maak dat hulle die regte kontaklense vir hulle oë het en dat hulle dit volgens voorskrif dra en die lense volgens die instruksies versorg.

Brasiliaanse vriendskappe aan die afneem

Brasiliane kweek nou minder vriendskappe aan as tien jaar gelede, berig die koerant O Globo. Volgens die geestesgesondheidsdeskundige Maria Abigail de Souza, van die Universiteit van Sao Paulo, is strawwe mededinging in die arbeidsmark, die stryd om ’n sekere lewenstyl te handhaaf en ’n afname in vrye tyd alles bydraende faktore. César Vasconcelos de Souza, mediese direkteur by die Adventiste se Gesonde Lewe-sentrum, Sao Paulo, sê: “Om ware vriende te hê, moet ons ons gevoelens deel, ons hart oopmaak en uiting gee aan gelukkige en hartseer emosies, aan moeilike en maklike dinge. Dit vereis tyd en hegter emosionele bande. Die meeste mense sal graag hulle gevoelens met ander wil deel, maar is te bang om dit te doen. Hulle verkies oppervlakkige vriendskappe om risiko’s te vermy.”

Droefheid en depressie

’n Opname onder mans en vroue tussen die ouderdomme van 70 en 79 toon dat party weduwees en wewenaars tot twee jaar ná die dood van hulle huweliksmaat hoë vlakke van depressie ondervind. Diegene wat aan die studie deelgeneem het, is in ses groepe verdeel, gebaseer op hoeveel tyd verloop het sedert die dood van hulle huweliksmaat. Onderhoude sowel as vraelyste is gebruik om die simptome van depressie te bepaal. Agt-en-dertig persent van die respondente was mans, en 62 persent was vroue. Die studie het bevind dat die voorkoms van depressie onder diegene wat onlangs ’n geliefde verloor het, nege keer hoër is as onder getroude persone wat nie ’n soortgelyke verlies gely het nie.

Verslaaf aan Internetpornografie

Navorsers het gevind dat “ten minste 200 000 Internetgebruikers verslaaf is aan pornografiese webwerwe, kletskamers met ’n X-gradering of ander seksuele materiaal op die Internet”, berig The New York Times. Die studie is deur sielkundiges by Stanford- en Duquesne-universiteit gedoen en is een van die eerste studies wat die aantal “kuberseksverslaafdes” op die Internet geskat het. Die navorsers het gesê dat hierdie persone webwerwe met ’n X-gradering meer as 11 uur per week besoek. Volgens die koerant het die navorsers gesê: “Dit is ’n verskuilde openbare gesondheidsgevaar wat vinnig toeneem, deels omdat baie min mense dit as ’n gevaar beskou of ernstig opneem.”

Vigs verwoes Afrika

Volgens Kofi Annan, sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, het vigs die afgelope jaar meer mense in Afrika doodgemaak as dié wat in oorlog gesterf het. Dit sluit die oorloë in die Demokratiese Republiek van die Kongo, Sierra Leone, Angola, die Republiek van die Kongo, Etiopië, Somalië, Eritrea en Soedan in. Byna twee derdes van die wêreld se 36 miljoen vigslyers woon in Afrika suid van die Sahara. In Côte d’Ivoire sterf een onderwyser elke skooldag aan vigs, en in Botswana het die lewensverwagting van 70 jaar tot 41 gedaal. Teen die jaar 2005 verwag Zimbabwe dat hulle 60 persent van die gesondheidsbegroting aan MIV en vigs sal bestee, en selfs dit sal nie genoeg wees nie. Die vigs-kwessie word in Malawi en Zambië geïgnoreer, waar besmettingsyfers baie hoog is; en in Suid-Afrika word mense met vigs vermy, berig die Londense koerant The Guardian. “Nie een van ons het al die volle impak van hierdie gruwel begin besef nie—hetsy op die gehalte van lewe in Afrika, die ekonomiese potensiaal en die maatskaplike en politieke bestendigheid”, het mnr. Annan gesê.

Stede se klimaat verander

“Die geweldige toename in stedelike gebiede skep kragtige ‘hittesones’ met hulle eie plaaslike weerpatrone”, berig The Times van Londen. Die stede vang hitte vas gedurende die dag en stel dit in die aand in die atmosfeer vry. Temperature in stede soos Beijing en Atlanta het derhalwe met 5,5 grade Celsius of meer gestyg. Atlanta het die afgelope 19 jaar ’n gebied met 150 000 hektaar bome verloor om plek te maak vir paaie en huise. Die stedelike ontwikkeling verhoog lugbesoedeling, veroorsaak buiteseisoense donderstorms en verminder die fotosintetiese produktiwiteit van landbougrond. In sy kommentaar oor die uitwerking van hierdie “hittesones”, het dr. Marc Imhoff, ’n wetenskaplike by die Nasionale Lugvaart- en Ruimte-administrasie, gesê: “Die mens se oorlewing hang van die grond se vermoë af om voedsel te produseer. As die vermoë van landbougrond om fotosintese te onderhou aansienlik verminder, sal die planeet se vermoë om lewe te onderhou ook verminder.” In die meeste gevalle maak die beste landbougrond plek vir stedelike uitbreiding.

Besoedeling verminder die aanvraag na walvisse

Besoedeling het moontlik ’n onwaarskynlike bondgenoot geword in die stryd om die walvis te red. Onlangse navorsing het getoon dat walvisse en dolfyne wat naby die kus van Japan gevang is, erg besmet is met DDT, dioksien, PCB’s en dimetielkwik. Een toets het getoon dat net 50 gram besmette dolfynvleis ’n groot gesondheidsgevaar vir ’n mens inhou. Party verwag dat hierdie nuus dalk ’n einde sal maak aan die aanvraag na walvisvleis.

Lotus wat homself “skoonmaak”

Waarom lyk die lotusplant, wat lank reeds in Oosterse godsdienste as heilig beskou word, altyd so skoon? Duitse wetenskaplikes beweer nou dat hulle die antwoord op hierdie vraag het wat eeue lank al vir bioloë ’n raaisel was. “Die waterwerende eienskappe van plantoppervlaktes is al lank bekend”, sê die wetenskaplikes W. Barthlott en C. Neinhuis. “Maar die vermoë om hulleself skoon te maak . . . , is heeltemal oor die hoof gesien.” Soos in The Sunday Times of India verduidelik word, “was die waterdruppeltjies wat van ’n lotusblaar afrol vuil deeltjies weg en maak dit sodoende die oppervlakte silwerskoon”. Dit is nie omdat die oppervlakte glad is nie. Onder ’n mikroskoop het die blaar ’n growwe oppervlakte van “bulte, voue en knoppies” met “bol- of koepelvormige waterwerende” eienskappe. Maar wat hiertoe bydra, is die waterwerende waskristalle wat die plant bedek. Die navorsers sê dat hierdie “eienskap van die lotus” die kleefvermoë van water en onsuiwerhede drasties verminder, en hulle voeg by dat die plant nuwe was kan vorm ten spyte van ongunstige omgewingstoestande. Hulle sê dit maak die lotus se natuurlike vermoë ver verhewe bo mensgemaakte waterdigte verf of skoonmaakmiddels.

Geskik om te drink?

’n Studie deur die Wêreld-natuurfonds (WWF) waarsku dat “voorsorgmaatreëls getref moet word” voordat die kwaliteit van Frankryk se water “onherstelbaar beskadig word”. Volgens die WWF word Frankryk se ondergrondse en oppervlakwater deur plaagdoders en nitrate besoedel. Nitraatbesoedeling vind hoofsaaklik plaas wanneer vark- en veemis in die watertoevoer beland. Die verslag sê dat “die mis van die agtmiljoen varke in die Bretagne-gebied vergelyk kan word met die afval van 24 miljoen inwoners in ’n stad waar daar geen rioolverwerkingsaanleg is nie”! Bowendien besoedel “die omvattende gebruik van kunsmis vir grootskaalse boerdery” ook die watertoevoer met nitrate, sê die WWF. Daarbenewens het die oormatige gebruik van plaagdoders in graanproduksie veroorsaak dat plaagdodervlakke 40 persent hoër as die vasgestelde standaard is. Die verslag van die WWF beveel aan dat vleilande en beboste walle herstel word om as natuurlike filtreerders te dien.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel