Ons beskou die wêreld
“Die Christene se God is nie dood in die Amerikaanse lewe nie, maar hy het ’n kleiner invloed op ons politiek en kultuur as op enige ander tyd in die onlangse geskiedenis.”—NEWSWEEK, VSA.
“Die resessie en ekonomiese probleme skep ’n nuwe groep slagoffers: Egpare wat nie ’n egskeiding kan bekostig nie. In hierdie moeilike tye vind baie mense dat dit goedkoper is om bymekaar te bly, al kan hulle mekaar nie verdra nie.”—THE WALL STREET JOURNAL, VSA.
In Duitsland leer 1 ma uit elke 3 wat aan ’n meningspeiling deelgeneem het, by haar dogter—oor modes, vriendskappe, om meer ontspanne te wees of ’n beter selfbeeld te hê.—BERLINER MORGENPOST, DUITSLAND.
Teenliggaampies nog steeds daar
“Nege dekades nadat die dodelikste griep in die geskiedenis tot ’n einde gekom het, het oorlewendes nog steeds uiters doeltreffende beskerming teen die virus van 1918 in hulle bloedstroom, wat toon hoe ongelooflik lank die menslike immuunstelsel sy werk kan doen”, sê die International Herald Tribune. Toe wetenskaplikes die bloed van bejaarde oorlewendes van die Spaanse griep ondersoek het, is “teenliggaampies [gevind] wat nog steeds deur die liggaam beweeg om die ou griepvirus te vind en uit te wis”. Navorsers het met hierdie teenliggaampies ’n entstof gemaak wat muise kan genees wat met die dodelike griepvirus ingespuit is. Die immuunstelsel se geheue het navorsers verstom. “Die Here het ons met teenliggaampies geseën wat lewenslank werk!” het een navorser uitgeroep. “Wat jou nie doodmaak nie, maak jou sterker.”
Vrae vir God
“Waarom is daar lyding as u goed is?” Dit was een van die eerste vrae wat Sweedse kollegestudente God sou vra as hulle die geleentheid gehad het om dit te doen, sê die Sweedse dagblad Dagen. ’n Meningsopname het ander algemene vrae aan die lig gebring: “Wat is die doel van die lewe?” en “Wat sal ná die dood gebeur?” Swede is bekend as ’n uiters gesekulariseerde land. Nietemin “het mense steeds hierdie vrae”, het ’n verteenwoordiger gesê van die Christelike studente-organisasie wat die opname gedoen het. “Jongmense wonder oor hierdie soort vrae.”
Fisiese gebreke vergroot huweliksgeluk
“Mans sowel as vroue—van alle ouderdomme—het gemeld dat hulle groter geluk in hulle huwelik gevind het nadat hulle fisies gestremd geraak het”, sê navorsers. Dit kan baie stresvol wees om jou vermoë te verloor om alledaagse dinge te doen, maar dit kan huweliksmaats ook verenig. Veral ouer mans sê dat hulle meer gehaltetyd saam met hulle huweliksmaat het. “Wanneer mans versorgingsrolle en verantwoordelikhede aanvaar het wat dalk nuut of meer spesifiek is as vroeër in hulle huwelik, het dit die mans ’n geleentheid gebied om hulle vrouens te ondersteun en meer tyd saam met hulle deur te bring en het dit bowenal hulle waardering vir hulle verhouding vergroot”, sê Karen Roberto, direkteur van die Sentrum vir Gerontologie by die Politegniese Instituut van Virginië, VSA.