Die “Goddelike Geregtigheid”-Streekbyeenkomste
HOEVEEL lyding is daar tog in die wêreld weens ’n gebrek aan geregtigheid! Algemene magsmisbruik deur sommige politieke heersers het baie onregverdige lyding tot gevolg. Gierige handelsbelange onderdruk mense, en dit veroorsaak groot ontbering. Dan is daar die onderdrukking deur godsdiensleiers van vandag wat soos hulle eweknieë in Jesus se dag is en van wie hy gesê het: “Want hulle bind pakke saam wat swaar en moeilik is om te dra, en sit dit op die skouers van die mense, maar self wil hulle dit nie met hulle vinger verroer nie” (Mattheüs 23:4). In familiekringe is daar ook heelwat magsmisbruik en gevolglike ongeregtigheid.
Die geskiedenis toon dat dit nutteloos sal wees om op onvolmaakte mense te vertrou om sulke dinge reg te stel, hoe goed hulle dit ook al bedoel. Maar die Opperwese en Regter, Jehovah, is in die hemele. Hy is die God van geregtigheid. Moses het tereg gesing: “Die Rots—volmaak is sy aktiwiteit; want al sy weë is geregtigheid. ’n God van getrouheid, by wie geen onreg is nie; regverdig en opreg is hy.”—Deuteronomium 32:4, NW.
Jehovah het al die ongeregtighede van hierdie wêreld lank geduld, maar hy sal dit nie vir altyd doen nie. Daar is ’n vasgestelde tyd wanneer hy sal optree, en dan sal die profesie in Jesaja 14:4-7 vervul word, wat belowe dat alle vorme van tirannie sal ophou en dat ‘die hele aarde sal rus’.
Weens hulle vaste geloof in hierdie profetiese beloftes is Jehovah se Getuies verheug om wyd en syd te verkondig dat Jehovah binnekort ’n einde aan alle onderdrukking, onregverdigheid en ongeregtigheid sal maak deur algehele Koninkryksheerskappy in te lui. Dan sal niemand enige kwaad doen of verderf aanrig nie, want ‘die hele aarde sal vol wees van die kennis van Jehovah soos die waters die seebodem oordek’.—Jesaja 11:9.
Die tema van die streekbyeenkomste vir 1988, wat daarop gemik is om ons geloof in Jehovah se regverdige oordele te versterk, is “Goddelike Geregtigheid”. Die nadruk wat op hierdie tema geplaas word, sal ons nie net aanspoor om ons hoop op goddelike geregtigheid bekend te maak nie, maar ons ook aanmoedig om só op te tree dat al ons handelinge met goddelike geregtigheid strook.
As Jehovah se knegte weet ons almal dat ons as gevolg van ons eerste ouers se oortreding geneig is om selfsugtig en onregverdig te wees. Ons sal dus die puik informasie waardeer wat ons sal ontvang in die vorm van Bybellesings, demonstrasies, onderhoude en dramas wat sal beklemtoon hoe belangrik dit is om goddelike geregtigheid te handhaaf. Dit is in lyn met die bevel in Miga 6:8 (NW) ‘om geregtigheid te beoefen, goedheid lief te hê en beskeie met ons God te wandel’. Dit dra by tot eensgesindheid, tevredenheid en vreugde; dit help ook om die verkondiging van die goeie nuus in die hele aarde te bevorder.
’n Besonderse kenmerk van hierdie byeenkoms sal wees dat ’n aantal stede vir spesiale toesprake deur lede van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies in verbinding sal wees. Sendelinge dwarsdeur die wêreld sal ook vir hierdie byeenkomste van vervoer voorsien word; dit sal hulle ook in staat stel om hulle families weer te besoek.
As dit Jehovah se wil is, sal die “Goddelike Geregtigheid”-Streekbyeenkomste Donderdag om 1:30 nm. begin en Sondag om 4:00 nm. afsluit. Laat ons ons sake so reël dat ons teenwoordig is wanneer die program begin, en beplan om elke dag tot na die slotlied en -gebed te bly. Kom met ’n goeie geestelike aptyt asook toegerus om aantekeninge te maak. Wees verseker dat Jehovah “’n maaltyd” van goeie dinge vir ons in die vooruitsig stel wat ons vir die werk vorentoe sal versterk en bemoedig.—Jesaja 25:6; Hooglied 2:4.
Ja, laat elkeen kom met vasbeslotenheid om die grootste geestelike seën moontlik uit die “Goddelike Geregtigheid”-Streekbyeenkomste te kry.