Die “blye tyding” in die Apokalips
“Ek het ’n ander engel in die middel van die hemel sien vlieg, en hy het ewige goeie nuus gehad om as blye tyding bekend te maak aan dié wat op die aarde woon.”—OPENBARING 14:6.
1. Waarom kan daar nie gesê word dat Jehovah se Getuies ’n “apokaliptiese sekte” is nie, al glo hulle dat die boek Apokalips geïnspireer is?
IN TEENSTELLING met die beskuldigings wat teen Jehovah se Getuies ingebring word, is hulle nie ’n “apokaliptiese sekte” of ’n “oordeelsdagkultus” nie. Hulle aanvaar egter wel die Apokalips, of die boek Openbaring, as deel van die geïnspireerde Woord van God. Openbaring bevat weliswaar oordeelsboodskappe wat teen die goddelose uitgespreek is. Maar in hulle openbare getuieniswerk, vestig God se knegte hoofsaaklik mense se aandag op die wonderlike hoop wat in die Bybel uiteengesit word, en dit sluit dié in die Apokalips, of Openbaring, in. Hulle voeg dus niks by en neem niks weg uit die profetiese woorde wat daarin geskryf staan nie.—Openbaring 22:18, 19.
Verkondigers van die blye tyding
2. Wat is sommige van die tekste wat Jehovah se Getuies dikwels in hulle predikingswerk gebruik?
2 ’n Skriftuurlike grondslag vir die openbare bediening van Jehovah se Getuies wat dikwels aangehaal word, is Jesus se stelling: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Matteus 24:14). En wat is “hierdie goeie nuus van die koninkryk”? Baie Getuies sal antwoord deur verse uit Openbaring hoofstukke 20 en 21 aan te haal wat verwys na die Duisendjarige Heerskappy van Christus en sy Koninkryksregering en die mensegemeenskap, waar daar “nie meer” dood, verdriet en pyn sal wees nie.—Openbaring 20:6; 21:1, 4.
3. Met watter sending kom die openbare bediening van Jehovah se Getuies ooreen?
3 As verkondigers van hierdie blye tyding is Jehovah se Getuies in werklikheid die mondstuk van ’n simboliese hemelse boodskapper wie se sending ook in Openbaring beskryf word. “Ek het ’n ander engel in die middel van die hemel sien vlieg, en hy het ewige goeie nuus gehad om as blye tyding bekend te maak aan dié wat op die aarde woon, en aan elke nasie en stam en taal en volk” (Openbaring 14:6). Die “ewige goeie nuus” sluit die aankondiging in dat “die koninkryk [of heerskappy] van die wêreld” “die koninkryk van ons Here en van sy Christus geword” het en dat Jehovah se “vasgestelde tyd” aangebreek het “om die verderwers van die aarde te verderf” (Openbaring 11:15, 17, 18). Is dit nie inderdaad goeie nuus nie?
Wat Openbaring bevat
4. (a) Watter fundamentele waarhede word in hoofstuk 1 van Openbaring uiteengesit? (b) Wat word vereis van diegene wat by die blye tyding baat wil vind?
4 Die eerste hoofstuk van die boek Openbaring stel Jehovah bekend as “die Alfa en die Omega . . . , die Een wat is en wat was en wat kom, die Almagtige”. En dit stel sy Seun, Jesus Christus, bekend as “die Getroue Getuie”, “die eersgeborene uit die dode” en “die Heerser van die konings van die aarde”. Dit praat ook van Jesus as “hom wat ons liefhet en wat ons deur middel van sy eie bloed van ons sondes losgemaak het” (Openbaring 1:5, 8). Openbaring maak dus van die begin af fundamentele, lewensreddende waarhede bekend. “Dié wat op die aarde woon”, sal nie baat vind by die blye tyding wat aan hulle verkondig word nie, tensy hulle die soewereiniteit van Jehovah erken, geloof in die vergote bloed van Jesus stel en glo dat Jehovah hom opgewek het en dat Christus nou God se aangestelde Heerser oor die aarde is.—Psalm 2:6-8.
5. In watter rol word Jesus in hoofstukke 2 en 3 van Openbaring uitgebeeld?
5 Die volgende twee hoofstukke beeld Christus Jesus uit as die liefdevolle hemelse Opsiener oor die gemeentes van sy dissipels op die aarde. Die boekrol wat gerig is aan ’n groep van sewe Christengemeentes wat in die eerste eeu G.J. in Klein-Asië bestaan het, het aanmoediging en streng vermanings bevat wat vandag nog steeds van toepassing is. Die boodskappe wat aan die gemeentes gestuur is, begin gewoonlik met woorde soos: “Ek ken jou dade” of “Ek ken jou verdrukking” (Openbaring 2:2, 9). Ja, Christus het presies geweet wat aan die gang was in die gemeentes van sy dissipels. Hy het party van hulle geprys vir hulle liefde, geloof, harde werk in die bediening, volharding en getrouheid aan sy naam en woord. Ander het hy tereggewys omdat hulle toegelaat het dat hulle liefde vir Jehovah en sy Seun afkoel of omdat hulle in geslagsonsedelikheid, afgodediens of afvallige sektevorming verval het.
6. Wat help die visioen in hoofstuk 4 mense om te verstaan?
6 Hoofstuk 4 bevat ’n ontsagwekkende visioen van die hemelse troon van Jehovah God. Dit gee ons ’n kykie in die heerlikheid van Jehovah se teenwoordigheid en die hemelse gesagstruktuur wat hy sal gebruik. Die gekroonde heersers, wie se trone rondom die vernaamste troon in die heelal staan, bring hulde aan Jehovah en roep uit: “U is waardig, Jehovah, ja, ons God, om die heerlikheid en die eer en die krag te ontvang, want u het alles geskep, en weens u wil het hulle bestaan en is hulle geskep.”—Openbaring 4:11.
7. (a) Wat sê die engel moet die aarde se bewoners doen? (b) Wat vorm ’n belangrike deel van ons onderrigtingswerk?
7 Beteken dit vandag iets vir mense? Baie beslis. As hulle onder die Duisendjarige Koninkryk wil lewe, moet hulle ag slaan op wat die ‘engel wat in die middel van die hemel vlieg’, verkondig: “Vrees God en gee hom heerlikheid, want die uur van die oordeel deur hom het aangebreek” (Openbaring 14:6, 7). Een van die vernaamste oogmerke van die Bybelonderrigtingswerk wat Jehovah se Getuies doen, is om “dié wat op die aarde woon” te help om Jehovah te ken en te aanbid, hom as Skepper te erken en hulle gewillig aan sy regverdige soewereiniteit te onderwerp.
Die Lam wat eer verdien
8. (a) Hoe word Christus in hoofstukke 5 en 6 uitgebeeld? (b) Wat kan almal wat na die blye tyding luister uit hierdie visioen leer?
8 Die volgende twee hoofstukke, 5 en 6, beeld Jesus Christus uit as ’n Lam wat waardig bevind is om ’n boekrol met sewe seëls oop te maak, en sodoende is die gebeure wat in ons dag plaasvind in simboliese taal geopenbaar. (Vergelyk Johannes 1:29.) Aan hierdie simboliese Lam sê hemelse stemme: “U is waardig om die boekrol te neem en sy seëls oop te maak, want u is geslag, en met u bloed het u mense uit elke stam en taal en volk en nasie vir God gekoop, en u het hulle ’n koninkryk en priesters vir ons God gemaak, en hulle gaan as konings oor die aarde heers” (Openbaring 5:9, 10). Hierdie visioen leer ons dat sekere mense, uit alle nasies, op grond van Christus se vergote bloed gekies word om saam met hom in die hemel te wees en “as konings oor die aarde [te] heers”. (Vergelyk Openbaring 1:5, 6.) Hulle beperkte getal word later in Openbaring bekend gemaak.
9. Hoe word Christus in hoofstuk 6 uitgebeeld?
9 In ’n ander visioen word Christus uitgebeeld as die gekroonde ruiter van ’n wit perd wat uitgaan, “oorwinnend en om sy oorwinning te voltooi”. Gelukkig sal hy die slegte gevolge oorwin wat deur die ander drie perderuiters van die Apokalips afgebeeld word, wie se onverbiddelike tog oorlog, hongersnood en die dood oor die mensdom gebring het sedert die betekenisvolle jaar 1914 (Openbaring 6:1-8). Die unieke rol van Christus, die Lam van God, in die redding van die mensdom en die uitvoering van Jehovah se wonderlike voornemens is ’n baie belangrike tema van die Bybelonderrigtingswerk van Jehovah se Getuies.
10. (a) Watter belangrike inligting word in hoofstuk 7 gegee? (b) Wat het Christus gesê omtrent diegene wat die Koninkryk ontvang?
10 Hoofstuk 7 bevat inderdaad blye tydings. Slegs in die boek Openbaring vind ons die getal van diegene wat Jesus die “klein kuddetjie” genoem het aan wie die Vader van die Lam die Koninkryk gee (Lukas 12:32; 22:28-30). Jehovah God verseël hulle deur sy gees (2 Korintiërs 1:21, 22). Die apostel Johannes, wat die Openbaring ontvang het, getuig: “Ek het die getal gehoor van dié wat verseël is, honderd-vier-en-veertigduisend” (Openbaring 7:4). Hierdie presiese getal word in ’n latere hoofstuk bevestig as die volle getal van dié wat “uit die mensdom gekoop” is om saam met die Lam op die hemelse berg Sion te regeer (Openbaring 14:1-4). Terwyl die kerke van die Christendom vae en onoortuigende verduidelikings van hierdie getal gee, sê die Bybelgeleerde E. W. Bullinger interessant genoeg hieroor: “Dit is eenvoudig ’n feit wat gemeld word: ’n bepaalde getal in teenstelling met die onbepaalde getal in dieselfde hoofstuk.”
11. (a) Watter blye tydings kan in hoofstuk 7 gevind word? (b) Waarna kan die lede van die “groot skare” uitsien?
11 Na watter onbepaalde getal het Bullinger verwys? In vers 9 het die apostel Johannes geskryf: “Ná hierdie dinge het ek gesien, en kyk! ’n groot skare, wat geen mens kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale” (Openbaring 7:9). Wie vorm hierdie groot skare, wat is hulle huidige posisie voor God en wat hou die toekoms vir hulle in? Die apokaliptiese antwoord is goeie nuus vir die aarde se bewoners. Ons lees: “Hulle is dié wat uit die groot verdrukking kom, en hulle het hulle lang gewade gewas en dit wit gemaak in die bloed van die Lam.” Deur hulle geloof in Christus se vergote bloed sal hulle beskerm word gedurende “die groot verdrukking”. Christus “sal hulle na fonteine van waters van die lewe lei. En God sal elke traan van hulle oë afvee” (Openbaring 7:14-17). Ja, miljoene mense wat vandag lewe, kan deel word van die ontelbare skare wat die einde van die huidige goddelose stelsel van dinge sal oorleef. As onderdane van die Koning Jesus Christus gedurende sy Duisendjarige Heerskappy sal hulle deur hom gelei word na ewige lewe op aarde. Is dit nie goeie nuus nie?
‘Sy oordele is waaragtig en regverdig’
12, 13. (a) Wat word in hoofstuk 8 tot 19 vervat? (b) Waarom moet opregtes van hart nie deur sulke profesieë ontstel word nie?
12 Hoofstukke 8 tot 19 is hoofsaaklik die rede waarom die boek Apokalips, of Openbaring, bekend is as ’n boek wat skrikwekkende rampe voorspel. Dit bevat kragtige oordeelsboodskappe (wat voorgestel word deur trompetgeskal, plae en die bakke van Goddelike toorn) wat teen verskillende elemente van Satan se stelsel van dinge gerig is. Hierdie oordele sal eerstens voltrek word aan valse godsdiens (“Babilon die Grote”) en dan aan die goddelose politieke stelsels, wat deur wilde diere voorgestel word.—Openbaring 13:1, 2; 17:5-7, 15, 16.a
13 Hierdie hoofstukke beskryf die reiniging van die hemel, met Satan en sy demone wat na die omgewing van die aarde neergewerp word. Dit voorsien die enigste logiese verduideliking vir die ongeëwenaarde wêreldbenoudheid wat sedert 1914 bestaan (Openbaring 12:7-12). Dit beskryf ook, in simboliese taal, die vernietiging van Satan se goddelose stelsel van dinge op aarde (Openbaring 19:19-21). Moet opregtes van hart geskok word deur sulke dramatiese gebeure? Nee, want gedurende die voltrekking van God se oordele roep ’n hemelse leërskare uit: “Loof Jah! Die redding en die heerlikheid en die mag behoort aan ons God, omdat sy oordele waaragtig en regverdig is.”—Openbaring 19:1, 2.
14, 15. (a) Hoe sal daar in regverdigheid ’n einde gemaak word aan die huidige goddelose stelsel? (b) Waarom behoort hierdie deel van die Apokalips ’n rede tot vreugde te wees vir opregtes van hart?
14 Jehovah sal nie ’n regverdige stelsel van dinge tot stand bring sonder om die aarde te reinig van diegene wat dit verderf nie (Openbaring 11:17, 18; 19:11-16; 20:1, 2). Geen mens of politieke staat het egter die gesag of die mag om dit te doen nie. Slegs Jehovah en sy aangestelde Koning en Regter, Christus Jesus, kan dit in regverdigheid doen.—2 Tessalonisense 1:6-9.
15 Soos die Apokalips baie duidelik toon, is Jehovah van voorneme om ’n einde te maak aan die huidige goddelose stelsel. Hierdie feit behoort ’n rede tot vreugde te wees vir mans en vroue wat “sug en steun oor al die gruwels wat . . . gedoen word” (Esegiël 9:4). Dit moet hulle laat besef hoe noodsaaklik dit is om ag te slaan op die beroep van die engel met die blye tyding, wat gesê het: “Vrees God . . . , want die uur van die oordeel deur hom het aangebreek, en aanbid dus die Een wat die hemel en die aarde . . . gemaak het” (Openbaring 14:7). Mag sulke mense Jehovah aanbid en dien saam met sy Getuies, “wat die gebooie van God onderhou en die werk het om van Jesus te getuig”.—Openbaring 12:17.
Die glorieryke Duisendjarige Heerskappy
16. (a) Waarom het die kerke van die Christendom die Millenniumhoop verwerp? (b) Waarom glo Jehovah se Getuies dat die modelgebed verhoor sal word?
16 Hoofstukke 20 tot 22 van die boek Openbaring bevat die skriftuurlike grondslag vir die Millenniumhoop. Dit is die enigste gedeelte in die Bybel wat melding maak van ’n duisendjarige tydperk wat die ewigheid van geluk in die hemel en op die aarde sal voorafgaan. Die kerke van die Christendom het die Millenniumhoop verwerp. Aangesien die regverdiges volgens die kerkleer hemel toe gaan en die goddeloses hel toe gaan, laat dit geen ruimte vir ’n paradysaarde nie. Die modelgebed, wat vra dat God se “wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel”, het geen betekenis vir die meeste lidmate van die Christendom se kerke nie (Matteus 6:10, NAV). Maar dit is nie die geval met Jehovah se Getuies nie. Hulle glo vas dat Jehovah God nie die aarde “verniet” geskep het nie, maar dit geskep het “om bewoon te word” (Jesaja 45:12, 18, NW). Eertydse profesieë en die modelgebed stem dus ooreen met die apokaliptiese Millenniumhoop. Gedurende Christus se Duisendjarige Heerskappy sal hy sorg dat Jehovah se wil op aarde geskied, net soos dit in die hemel gedoen word.
17. Wat toon dat “die duisend jaar” as letterlik beskou moet word?
17 Die term “duisend jaar” kom ses keer voor in die eerste sewe verse van Openbaring hoofstuk 20. Dit is opmerkenswaardig dat dit vier keer saam met die bepaalde lidwoord “die” gebruik word, wat toon dat dit na ’n letterlike duisend jaar verwys, nie net na ’n onbepaalde lang tyd, soos baie van die Christendom se kommentators ons probeer wysmaak nie. Wat sal gedurende die Millennium plaasvind? Eerstens word Satan vir die hele tydperk onaktief gemaak. (Openbaring 20:1-3; vergelyk Hebreërs 2:14.) Watter goeie nuus is dit tog!
18. (a) Waarom kan die Millennium ’n “dag” van oordeel genoem word? (b) Wat sal aan die einde van die duisend jaar gebeur?
18 Aangesien die ‘mag om te oordeel’ gegee word aan diegene wat “die duisend jaar lank saam met hom [Christus] as konings heers”, is hierdie tydperk in werklikheid ’n duisendjarige “dag” van oordeel. (Openbaring 20:4, 6; vergelyk Handelinge 17:31; 2 Petrus 3:8.) Die dooies sal opgewek word en, saam met dié wat “die groot verdrukking” oorleef, regverdig geoordeel word volgens hulle dade gedurende daardie tyd (Openbaring 20:12, 13). Aan die einde van die duisend jaar sal Satan ’n kort rukkie vrygelaat word om die mensdom aan ’n finale toets te onderwerp, waarna hy, sy demone en enige rebelle op aarde wat hom volg vir ewig vernietig sal word (Openbaring 20:7-10). Mense wat die toets slaag se name sal onuitwisbaar in “die boek van die lewe” geskryf word en hulle sal daarna tot in alle ewigheid ’n gelukkige lewe geniet, terwyl hulle Jehovah op ’n paradysaarde dien en aanbid.—Openbaring 20:14, 15; Psalm 37:9, 29; Jesaja 66:22, 23.
19. (a) Waarom kan ons daarvan seker wees dat die wonderlike beloftes wat in die boek Openbaring uiteengesit word beslis vervul gaan word? (b) Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?
19 Dit is die blye tyding wat in die Apokalips uiteengesit word. Dit is nie leë beloftes van mense nie. Die apostel Johannes het geskryf: “Die Een wat op die troon sit, het gesê: ‘Kyk! Ek maak alles nuut.’ Ook sê hy: ‘Skryf, want hierdie woorde is betroubaar en waaragtig’” (Openbaring 21:5). Wat moet ons doen om die vervulling van hierdie blye tyding te ondervind? Die boek Openbaring bevat baie raad vir diegene wat God wil behaag. As ons hierdie raad toepas, sal dit ons oneindige geluk verskaf, nou en tot in alle ewigheid, soos die volgende artikel sal toon.
[Voetnoot]
a Sien die boek Openbaring—Sy groot klimaks is ophande!, wat in 1988 uitgegee is deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., vir ’n breedvoerige verduideliking van die boek Openbaring.
Punte ter hersiening
◻ Watter fundamentele waarhede in Openbaring hoofstukke 4 tot 6 vorm ’n belangrike deel van die blye tyding?
◻ Watter blye tydings kan in Openbaring hoofstuk 7 gevind word?
◻ Waarom moet opregtes van hart nie deur die oordeelsboodskappe in Openbaring ontstel word nie?
◻ In watter opsigte sal die Millennium ’n “dag” van oordeel wees?
[Prent op bladsy 10]
Die Koning Jesus Christus sal die aarde heeltemal reinig van oorlog, hongersnood en die dood