Wat sal jy sê wanneer jy teruggaan?
1 Om welslae in ons bediening te behaal, verg voorbereiding. Wanneer ons goed voorbereid is, sal ons diegene wat aanvanklik belanggestel het se belangstelling weer kan aanwakker en ons gesprek kan voortsit. Hoe kan ons dit doen?
2 Aangesien ware Christene opreg in ander belangstel, kan jy aanvanklik melding maak van iets wat jy tydens die vorige besoek omtrent die huisbewoner te wete gekom het.
Jy kan moontlik die volgende aan ’n persoon sê wat sy besorgdheid oor misdadigheid uitgespreek het:
◼“Toe ons die vorige keer gesels het, het jy gesê dat jy bekommerd is oor die merkbare toename in wetteloosheid. Dink jy dat die probleem deur ’n groter polisiemag opgelos kan word?”
As iemand sy kommer uitgespreek het oor onlangse verwikkelinge in die wêreldsituasie kan jy sê:
◼“Toe ons die vorige keer gesels het, het jy ’n interessante punt genoem oor die gebrek aan vrede in die wêreld. Dink jy dat wêreldleiers ’n nuwe wêreldorde tot stand sal bring?”
Vir iemand wat ontsteld is oor die hebsug van ander kan jy sê:
◼“Toe ons die vorige keer gesels het, het jy ’n interessante punt gemeld oor die hebsug wat ons in mense oor die algemeen sien. Wat dink jy is God se beskouing van hebsugtige mense? [Laat huisbewoner antwoord.] Dit is wat die Bybel in Efesiërs 5:5 sê.”
3 Ander kommentare wat al met sukses gebruik is, sluit die volgende in:
◼“Ek het ons laaste gesprek baie geniet, en daarom het ek navorsing gedoen oor hierdie gedagte om kortliks vir jou te wys wat Jehovah se beskouing is oor die lot van die haweloses. Let op wat Jesaja 65:21-23 sê.”
◼“Ek het jou kommentaar geniet dat die mensdom ’n beter regering nodig het.”
◼“Jy het ’n interessante vraag gevra oor watter godsdiens God se goedkeuring wegdra.”
◼“Ek het nagedink oor wat jy oor predestinasie gesê het.”
◼“Ek het oor ons gesprek nagedink, en hier in die boek Ware vrede en veiligheid—Hoe kan jy dit vind? is daar ’n gedagte wat ek seker is jy sal geniet. [Kan gekose punte in die boek aan die huisbewoner toon.]”
Inleidings soos hierdie toon dat ons ons vorige gesprek geniet het en dat ons graag weer met die huisbewoner wil gesels.
4 Dink na oor wat jy wil sê voordat jy die herbesoek doen. Pas jou aanbieding by elke persoon aan.
5 As die persoon wat ons besoek besig is, kan ons ons besoek steeds suksesvol maak deur te sê:
◼“Ek weet dat jy net ’n paar minute het, maar hier is iets waaroor jy kan dink terwyl jy verder werk. [Lees Mattheüs 5:3.]”
Of jy kan sê:
◼“Ek het hierdie drie tekste vir jou neergeskryf. Aangesien dit nie nou ’n geleë tyd is om te gesels nie, wil ek hulle graag by jou laat, en wanneer ek terugkom, sal ek graag vyf minute van jou tyd wil gebruik om hulle met jou te bespreek.”
6 Negatiewe benaderings wat vermy moet word: Vrae wat ’n negatiewe antwoord kan uitlok of wat die huisbewoner in die verleentheid kan bring, lewer gewoonlik nie goeie resultate op nie. Hulle sluit die volgende in: “Het jy die leesstof wat ek by jou gelaat het, gelees?” “Het jy enige ander vrae?” “Kan jy my onthou?” “Ek het kom uitvind of jy nog daarin belangstel om oor God se voornemens met hierdie aarde te gesels.”
7 Ons sal gretig wees om na mense terug te gaan wat voorheen belanggestel het as ons vooraf voorberei om hulle op ’n sinvolle wyse te help.