Is jy bereid om aan te pas?
1. Watter aanpassings moet ons maak weens veranderinge in die wêreld?
1 In 1 Korintiërs 7:31 vergelyk die Bybel die wêreld met ’n verhoog waarop die tonele en toneelspelers voortdurend verander. Veranderinge in die wêreld vereis dat ons ons predikingsmetodes, ons rooster en ons benadering van tyd tot tyd aanpas. Is jy bereid om aan te pas?
2. Waarom moet ons aanpasbaar wees om met die organisasie tred te hou?
2 Jou predikingsmetodes: Die Christengemeente was nog altyd aanpasbaar. Toe Jesus sy dissipels aanvanklik uitgestuur het, het hy vir hulle gesê om nie ’n voedselsak of geld vir hulle beurse te verkry nie (Matt. 10:9, 10). Maar later het hy vir sy dissipels ander instruksies gegee ter voorbereiding van die toekomstige vyandigheid teenoor hulle en die uitbreiding van die predikingswerk in ander gebiede (Luk. 22:36). Gedurende die afgelope eeu het Jehovah se organisasie verskillende predikingsmetodes gebruik—byvoorbeeld, getuieniskaarte, radio-uitsendings en klankmotors—volgens wat op daardie stadium nodig was. Aangesien mense in baie gebiede deesdae selde tuis is, word al hoe groter klem daarop gelê om ons huis-tot-huis-bediening aan te vul met die openbare en informele getuieniswerk. Ons is ook aangemoedig om vroegaand van huis tot huis te gaan as mense gedurende die dag werk. Hou jy tred met Jehovah se hemelse strydwa wanneer dit van rigting verander?—Eseg. 1:20, 21.
3. Hoe help aanpasbaarheid ons om doeltreffender in ons gebied te wees?
3 Jou aanbieding: Waaroor is die mense in jou gebied tans besorg? Die ekonomie? Hulle gesin? Oorlog? Dit is goed om bewus te wees van huidige probleme en omstandighede wat algemeen is in ons gebied sodat ons ’n gepaste aanbieding kan voorberei (1 Kor. 9:20-23). Wanneer huisbewoners hulle gedagtes uitspreek, moet ons nie net ’n standaardantwoord gee en met ons aanbieding voortgaan nie, maar eerder ons aanbieding aanpas en bespreek wat hulle op die hart het.
4. Waarom moet ons gou wees om aan te pas?
4 Hierdie wêreld se laaste “toneel” sal binnekort eindig, en die groot verdrukking sal begin. “Die oorblywende tyd is kort” (1 Kor. 7:29). Hoe belangrik is dit tog om aan te pas en om dit sonder versuim te doen sodat ons soveel as moontlik kan bereik in die kort tydjie wat oor is!