“Doen alles ter wille van die goeie nuus”
1. Wat is ’n Koninkryksverkondiger bereid om vir ander te doen, en waarom?
1 Die apostel Paulus het gemeen dat hy ’n persoonlike verpligting het om die goeie nuus aan ander bekend te maak (1 Kor. 9:16, 19, 23). Ons besorgdheid oor die ewige welsyn van mense beweeg ons ook om moeite te doen om hulle van die goeie nuus te vertel.
2. Watter aanpassings is ons bereid om te maak wanneer ons die predikingswerk doen, en waarom?
2 Preek waar en wanneer mense gevind kan word: ’n Goeie visserman sal nie sy lyn of sy net ingooi waar en wanneer dit vir hom gerieflik is nie, maar waar en wanneer die visse waarskynlik sal byt. As “vissers van mense” moet ons dalk ook ’n paar persoonlike aanpassings maak sodat ons mense in ons gebied kan vind en gevolglik groter vreugde kan put uit die voorreg om “allerhande soorte vis” bymekaar te bring (Matt. 4:19; 13:47). Kan ons mense vroeg in die aand by hulle huise besoek of vroeg in die oggend straatgetuieniswerk doen? Paulus se doelwit was om “deeglik van die goeie nuus . . . te getuig”, en hy het van gepaste geleenthede gebruik gemaak om dit te doen.—Hand. 17:17; 20:20, 24.
3, 4. Hoe kan ons ons aanbieding aanpas terwyl ons in die bediening is, en wat sal die resultate wees?
3 Pas jou aanbieding aan om in die behoefte te voorsien: Vissermanne pas dikwels hulle metodes aan sodat hulle ’n spesifieke soort vis kan vang. Hoe kan ons die goeie nuus van die Koninkryk aanbied op ’n manier wat die mense in ons gebied se belangstelling sal wek? Ons moet ’n onderwerp wat vir mense oor die algemeen van belang is, taktvol inlei, en dan aandagtig luister na wat hulle daaroor sê (Jak. 1:19). Ons kan ’n beskouingsvraag vra om uit te vind wat hulle dink (Spr. 20:5). Sodoende sal ons ons aanbieding van die goeie nuus kan aanpas sodat dit hulle lewe raak. Paulus het “alles vir alle soorte mense” geword (1 Kor. 9:22). Aanpasbaarheid is nodig om mense se hart te bereik.
4 Watter vreugde verskaf dit tog om mense van die “goeie nuus van iets beters” te vertel! (Jes. 52:7). Mag ons “alles ter wille van die goeie nuus” doen om soveel mense moontlik te bereik.—1 Kor. 9:23.