Soek ywerig na Bybelstudies
1 Daar is al hoe meer bewyse dat hierdie ou wêreld se tyd min word (2 Tim. 3:1-5). Wat beteken dit? Dit beteken dat mense se lewe op die spel is. Dit is egter in ons mag om party te help om gered te word (Spr. 3:27). Daarom moet ons ywerig probeer om Bybelstudies te begin en te hou.
2 Baie goeie dinge is al deur die verspreiding van ons Bybelgebaseerde lektuur bereik. Maar wat mense die nodigste het, is persoonlike hulp deur middel van ’n gereelde tuisbybelstudie. Hoe kan ons hulle help om dit te besef?
3 Ons kan vrae opper waaroor baie mense bekommerd is. Sulke vrae kan die aandag op die redes vestig waarom sedes drasties afgeneem het, waarom die gesinslewe so onbestendig is, waarom geweld en misdaad so ’n bedreiging is, waarom ’n liefdevolle God die huidige toestande toelaat, ensovoorts. Let op sake en gebeure wat vir mense in jou gebied van besondere belang is. Vestig hulle aandag op die Bybel se duidelike antwoorde op hierdie vrae. Toon hoe die lektuur wat ons versprei hulle kan help om te leer wat die Bybel sê oor hierdie en ander lewensbelangrike sake wat ons almal raak.
4 Dit is belangrik om die huisbewoner by die gesprek te betrek. Wees oplettend sodat jy kan agterkom wat hom bekommer. Ontwikkel die gesprek rondom sy belange of bekommernisse. Vestig die aandag op die informasie in ’n boek, brosjure, tydskrif of traktaat wat die Bybel se oplossing vir die mensdom se probleme verduidelik. Vra voor jy vertrek ’n vraag of twee wat jy dink afwagting vir jou volgende besoek sal wek. Maak seker dat jy hom aan hierdie vrae herinner wanneer jy terugkeer, en gebruik dan die lektuur om hom die Bybel se antwoorde te help vind.
5 As ons studies begin en hulle gereeld hou, kan dit mense se lewe verander. Ons moet opregte belangstelling toon in die bekommernisse van diegene wat ons in die velddiens of in informele getuienis ontmoet. Dit verg goeie voorbereiding om hulle belangstelling progressief te stimuleer. Dit verg geduld om terug te gaan totdat jy hulle in ’n gereelde geestelike voedingsprogram kry. Dit verg liefdevolle belangstelling in die mense self. Ons moet hulle opreg wil help om van die naderende vernietiging gered te word. Ons Bybelstudiewerk moet ’n saak van gereelde en ernstige gebed wees.—1 Thess. 5:17.
6 Ons beplan om gedurende die volgende paar maande ’n aantal herinneringe in Ons Koninkryksbediening te plaas wat verkondigers verder sal help om progressiewe Bybelstudies te hou. Onthou asseblief dat Bybelstudies, waar moontlik, uit die Paradys op aarde-boek gehou moet word. Die tweede publikasie wat bestudeer moet word, is die Verenig in aanbidding-boek. (Sien asseblief Vraebus, kmAF 5/86.)
7 Dit is baie bemoedigend om te sien dat byna ’n miljoen mense in die afgelope drie jaar gedoopte dissipels geword het (Matt. 28:19, 20). Ons hou nou ongeveer vier en ’n half miljoen Bybelstudies elke maand, en dit toon ons besorgdheid oor ander se lewe. Wat van jou? Span jy jou kragtig in om aan die tuisbybelstudiewerk deel te neem? Hou in gedagte dat ons lewe en dié van ander van ons getrouheid in hierdie opsig afhang.—Eseg. 3:17-19.