STUDIE 33
Taktvol maar ferm
TAKT is die vermoë om met ander mense om te gaan sonder om hulle onnodig aanstoot te gee. Dit behels dat ’n mens weet hoe en wanneer om dinge te sê. Dit impliseer nie ’n afwatering van wat reg is of ’n verdraaiing van die feite nie. Takt moet nie met mensevrees verwar word nie.—Spr. 29:25.
Die vrugte van die gees is die beste grondslag vir takt. Iemand wat deur liefde beweeg word, wil ander dus nie irriteer nie; hy wil hulle help. Iemand wat goedhartig en sagmoedig is, is bedagsaam in sy optrede. ’n Vredeliewende persoon soek na maniere om goeie verhoudings met ander te bevorder. Selfs wanneer mense onbeskof is, bly ’n lankmoedige persoon kalm.—Gal. 5:22, 23.
Maar party mense sal aanstoot neem aan die Bybel se boodskap, ongeag hoe dit aangebied word. Weens die goddelose hartstoestand van die meeste eerste-eeuse Jode, het Jesus Christus “’n steen van struikeling en ’n rots van aanstoot” vir hulle geword (1 Pet. 2:7, 8). Jesus het in verband met sy werk van Koninkryksverkondiging gesê: “Ek het gekom om ’n vuur op die aarde te maak” (Luk. 12:49). En die boodskap van Jehovah se Koninkryk, wat onder andere vir mense toon dat hulle die soewereiniteit van hulle Skepper moet erken, is nog steeds die brandende geskil waarvoor die mensdom vandag staan. Baie mense neem aanstoot aan die boodskap dat God se Koninkryk binnekort die huidige goddelose stelsel van dinge uit die weg sal ruim. Maar in gehoorsaamheid aan God hou ons aan met die predikingswerk. Terwyl ons dit doen, hou ons egter die Bybel se raad in gedagte: “Wees, indien moontlik, sover dit van julle afhang, vreedsaam teenoor alle mense.”—Rom. 12:18.
Taktvol wanneer ons getuig. Ons praat onder baie omstandighede met ander oor ons geloof. Ons doen dit natuurlik wanneer ons aan die veldbediening deelneem, maar ons soek ook na gepaste geleenthede wanneer ons saam met familielede, werksmaats en skoolmaats is. In al hierdie omstandighede is takt nodig.
As ons die Koninkryksboodskap so oordra dat ander voel dat ons vir hulle ’n preek afsteek, sal hulle dalk nie daarvan hou nie. Wanneer hulle nie ons hulp gevra het nie en moontlik nie dink dat hulle dit nodig het nie, kan hulle aanstoot neem as ons hoegenaamd impliseer dat hulle reggehelp moet word. Wat kan ons doen om nie die verkeerde indruk te skep nie? As jy die kuns van vriendelike gesprekvoering aanleer, kan dit nuttig wees.
Probeer ’n gesprek begin deur ’n onderwerp te noem waarin die ander persoon belangstel. As daardie persoon ’n familielid, ’n medewerker of ’n skoolmaat is, weet jy moontlik reeds waarin hy belangstel. Al het jy die persoon nog nooit vantevore ontmoet nie, kan jy oor iets begin praat wat jy oor die nuus gehoor of waarvan jy in die koerant gelees het. Dit is gewoonlik die onderwerpe waaroor mense besorg is. Wees oplettend wanneer jy van huis tot huis werk. Huisversierings, speelgoed op die werf, godsdiensvoorwerpe en bufferplakkers op ’n motor wat in die oprit geparkeer is, kan verdere aanduidings gee van die dinge waarin die huisbewoner belangstel. Luister na wat die huisbewoner sê wanneer hy na die deur toe kom. Wat hy sê, sal jou help om te sien of jou gevolgtrekkings oor sy belangstellings en standpunt reg of verkeerd was en sal jou verdere aanduidings gee van wat jy in ag moet neem om ’n getuienis te gee.
In die loop van die gesprek kan jy vir hom punte uit die Bybel en Bybellektuur wys wat met die onderwerp verband hou. Maar moenie die gesprek oorheers nie (Pred. 3:7). Betrek die huisbewoner in die bespreking as hy bereid is om te gesels. Toon belangstelling in sy beskouings en menings. Dit kan jou die leidrade gee wat jy nodig het om taktvol te wees.
Voordat jy iets sê, moet jy dink hoe dit vir die ander persoon gaan klink. Spreuke 12:8 prys ’n “oordeelkundige mond”. Die Hebreeuse uitdrukking wat hier gebruik word, hou verband met eienskappe soos insig en verstandigheid. Oordeelkundigheid behels dus dat ’n mens jou woorde versigtig kies wanneer jy praat omdat jy ’n saak goed deurgedink het sodat jy verstandig kan optree.Vers 18 van daardie selfde hoofstuk van Spreuke waarsku daarteen om ‘onnadenkend te praat soos met swaardsteke’. Dit is moontlik om Bybelwaarheid te verdedig sonder om aanstoot te gee.
As jy eenvoudig jou woorde oordeelkundig kies, kan dit jou help om mense nie onnodig te vervreem nie. As die gebruik van die woorde “die Bybel” mense hulle verstande laat sluit vir die boodskap, kan jy ’n uitdrukking gebruik soos “heilige geskrifte” of “’n boek wat nou in meer as 2 000 tale uitgegee word”. As jy wel na die Bybel verwys, kan jy vir die persoon vra wat hy daarvan dink en dan sy kommentare gedurende die res van julle gesprek in ag neem.
Om taktvol te wees, behels dikwels dat ’n mens bepaal wat die regte tyd is om iets te sê (Spr. 25:11). Jy stem dalk nie saam met alles wat die ander persoon sê nie, maar jy hoef nie ’n geskil te maak van elke onskriftuurlike beskouing wat hy noem nie. Moenie die huisbewoner alles op een slag probeer vertel nie. Jesus het vir sy dissipels gesê: “Ek het nog baie dinge om vir julle te sê, maar julle kan dit nie nou dra nie.”—Joh. 16:12.
Prys diegene met wie jy praat opreg wanneer dit moontlik is. Selfs wanneer die huisbewoner stryerig is, kan jy hom miskien nog steeds prys omdat hy ’n sekere standpunt inneem. Die apostel Paulus het dit gedoen toe hy met die filosowe op die Areopagus in Atene gepraat het. Die filosowe het “met hom begin stry”. Hoe kon hy sy punt maak sonder om aanstoot te gee? Vroeër het hy gesien hoeveel altare hulle vir hulle gode gemaak het. Hy het nie die Ateners weens hulle afgodsaanbidding veroordeel nie, maar hulle taktvol geprys vir hulle sterk godsdiensoortuiging. Hy het gesê: “Ek sien dat julle in alles blykbaar meer tot die vrees vir die gode geneig is as ander.” Hierdie benadering het vir hom die weg gebaan om sy boodskap oor die ware God bekend te maak. As gevolg daarvan het party gelowiges geword.—Hand. 17:18, 22, 34.
Moenie oorreageer wanneer besware geopper word nie. Bly kalm. Beskou dit as geleenthede om insig in die persoon se denke te kry. Jy kan hom bedank omdat hy sy menings uitgespreek het. Sê nou hy antwoord kortaf: “Ek het my eie kerk”? Jy kan taktvol vra: “Was u nog altyd godsdienstig?” Nadat hy geantwoord het, kan jy byvoeg: “Dink u dat die mensdom ooit net een geloof sal hê?” Dit kan die weg baan vir verdere bespreking.
As ons die regte beskouing van onsself het, kan dit ons help om taktvol te wees. Ons is vas oortuig van die regverdigheid van Jehovah se weë en die waaragtigheid van sy Woord. Ons praat met oortuiging oor hierdie dinge. Maar ons het geen rede om eiegeregtig te wees nie (Pred. 7:15, 16). Ons is dankbaar dat ons die waarheid ken en Jehovah se seën geniet, maar ons weet alte goed dat ons sy goedkeuring het weens sy onverdiende goedhartigheid en ons geloof in Christus, nie weens ons eie regverdigheid nie (Ef. 2:8, 9). Ons besef dat ons ‘voortdurend moet toets of ons in die geloof is en ons voortdurend op die proef moet stel’ (2 Kor. 13:5). Wanneer ons dus mense vertel hoe belangrik dit is om aan God se vereistes te voldoen, pas ons die Bybel se raad ook nederig op onsself toe. Ons het nie die reg om ons medemens te oordeel nie. Jehovah “het die oordeel geheel en al aan die Seun toevertrou”, en dit is voor sy regterstoel wat ons verantwoording moet doen vir ons dade.—Joh. 5:22; 2 Kor. 5:10.
Met familie en mede-Christene. Ons moenie net in die veldbediening taktvol wees nie. Aangesien takt ’n natuurlike uitvloeisel van die vrugte van God se gees is, moet ons ook altyd met gesinslede by die huis taktvol wees. Liefde sal ons beweeg om ander se gevoelens in ag te neem. Koningin Ester se man was nie ’n aanbidder van Jehovah nie, maar sy het respek vir hom getoon en groot onderskeidingsvermoë aan die dag gelê toe sy hom genader het oor sake in verband met Jehovah se knegte (Ester, hfst. 3-8). In sommige gevalle sal takt teenoor familielede wat nie Getuies is nie, verg dat ons deur ons gedrag die weg van die waarheid by hulle aanbeveel, en nie soseer deur ’n verduideliking van ons oortuigings nie.—1 Pet. 3:1, 2.
Net so beteken die feit dat ons gemeentelede goed ken nie dat ons kortaf of onvriendelik teenoor hulle kan wees nie. Ons moenie redeneer dat hulle dit behoort te kan verdra omdat hulle volwasse is nie. Ons moet ons ook nie verskoon deur te sê: “Wel, dit is maar hoe ek is” nie. As ons vind dat die manier waarop ons ons uitdruk ander aanstoot gee, moet ons vasbeslote wees om te verander. Ons “intense liefde vir mekaar” moet ons beweeg om ‘goed te doen aan dié wat in die geloof aan ons verwant is’.—1 Pet. 4:8, 15; Gal. 6:10.
Wanneer jy met ’n gehoor praat. Diegene wat van die verhoog af praat, moet ook taktvol wees. ’n Gehoor bestaan uit mense uit verskillende agtergronde en omstandighede. Hulle is op verskillende stadiums van geestelike ontwikkeling. Party besoek die Koninkryksaal dalk vir die eerste keer. Ander gaan moontlik deur ’n besonder moeilike tyd waarvan die spreker nie bewus is nie. Wat kan ’n spreker help om nie sy gehoor aanstoot te gee nie?
In ooreenstemming met die apostel Paulus se raad aan Titus moet jy jou dit ten doel stel “om van niemand kwaad te spreek nie, . . . om redelik te wees en alle sagmoedigheid teenoor alle mense aan die dag te lê” (Tit. 3:2). Moenie soos die wêreld woorde gebruik wat mense van ’n ander ras, taalgroep of nasionaliteit verkleineer nie (Op. 7:9, 10). Bespreek Jehovah se vereistes openhartig, en toon waarom dit verstandig is om dit toe te pas; maar moenie neerhalende aanmerkings maak oor diegene wat nog nie ten volle in Jehovah se weë wandel nie. Moedig almal eerder aan om God se wil te onderskei en om te doen wat hom behaag. Versag raad met hartlike en opregte lof. Weerspieël die broederlike geneentheid wat ons almal vir mekaar moet hê deur die manier waarop jy praat en deur jou stemtoon.—1 Tess. 4:1-12; 1 Pet. 3:8.