Gebruik die Bybel op vaardige wyse
1. Waarom is die Bybel so nuttig?
1 As ons God se geïnspireerde Woord op vaardige wyse gebruik, kan ons die waarheid op duidelik verstaanbare wyse verkondig en aan ander leer en die valse leringe en oorleweringe van mense blootlê.—2 Tim. 2:15; 1 Pet. 3:15.
2. Wat sal ons help om tekste met groter vaardigheid na te slaan?
2 Raak meer vertroud met die Skrif: Soos met enige stuk gereedskap die geval is, moet ’n mens meer vertroud raak met die Skrif om dit op vaardige wyse te kan gebruik. As jy die Bybel deurlees, kry jy ’n geheelbeeld van die tema van die Bybel. Dit help jou ook om tekste te onthou en om hulle makliker na te slaan. Namate jy meer vertroud raak met die Skrif, sal jy met groter ywer en oortuiging praat wanneer jy informeel en in die veldbediening vir ander getuig.—1 Tess. 1:5.
3, 4. (a) Wat is party maniere waarop ons meer vertroud kan raak met die Bybel? (b) Het jy al ander maniere gebruik om meer vertroud te raak met die Skrif?
3 Kom in die gewoonte om jou Bybel gedurende gemeentelike vergaderinge oop te maak en daarin te volg. Wanneer jy persoonlike studie doen en vir gemeentelike vergaderinge voorberei, moet jy die teksverwysings naslaan en oor die toepassing daarvan peins. Baie vind dat hulle Bybeltekste wat hulle regstreeks uit die Bybel lees eerder as op ’n rekenaarskerm of ’n drukstuk, makliker kan naslaan wanneer dit later in die bediening nodig is.—Joh. 14:26.
4 Party gesinne sit gereeld tyd opsy om Bybeltekste te memoriseer. Dit kan gedoen word deur flitskaarte te gebruik wat die teksverwysing aan die een kant en die teks self aan die ander kant het. Hulle gebruik om die beurt die kaarte om te sien of hulle die teks kan aanhaal of kan onthou waar dit staan. Ons vaardighede verbeter ook wanneer ons oefen om velddiensaanbiedings te doen en om die Bybel te gebruik om ’n beswaar te oorkom of ’n vraag te beantwoord.
5. Waarom wil ons vaardiger daarin word om die Bybel te gebruik?
5 Geen ander boek kan die Bybel ewenaar nie. Dit bevat die enigste geskrifte wat mense “wys kan maak tot redding” (2 Tim. 3:15). Aangesien die meeste mense in ons gebied nie vertroud is met die kosbare skatte in die Bybel nie, het ons goeie rede om vaardiger daarin te word om hulle te wys wat die Bybel werklik bied.—Spr. 2:1-5.