Natuurreservate word slagvelde vir koningvlinders
TYDENS ’n verstommende migrasievlug, met hulle oranje-en-swart vlerke uitgesprei, sweef koningvlinders wat die somer in Kanada en die noorde van die Verenigde State deurbring uit Kanada, oor die Verenigde State, en kom in een gebied wes van Mexikostad byeen. Daar, in die berge wat 3400 meter hoog is en met dennebome bedek is, het die Mexikaanse regering in 1986 vyf natuurreservate geskep. Volgens ’n sensus in 1994 oorwinter ten minste 60 miljoen koningvlinders in die reservate.
Die koningvlinders verkies veral dennebome omdat die bome ’n digte blaardak vorm wat die vlinders teen die koue reën en sneeu beskerm. Houtkappery word in hierdie vyf reservate verbied, maar dit keer nie onwettige houtkappery nie. Vlinderwetenskaplikes is daaroor besorg dat “die dennebome wat in die Mexikaanse reservate afgekap word, ten spyte van regeringsverbooie, die koningvlinders kwesbaarder maak vir hewige storms en koue. . . . Die verlies van bome en hulle blaardak vergroot die moontlikheid dat die vlinders aan reën en sneeu blootgestel sal word.” Houtkappery vernietig die beskermende blaardak. Soos Lincoln Brower, ’n dierkundige by die Universiteit van Florida in Gainesville, aangaande die beskermende dak vir die koningvlinders gesê het: “Hoe meer hierdie woude uitgekap word, hoe meer gate is daar in hulle bedekking.”
“Slegte weer en bome wat afgekap word, is dodelik vir vlinders”, het The New York Times gesê. Toe het dit oor ’n sneeubui op die aand van 30 Desember 1995 berig gelewer: “Regeringsveldwagters en -bioloë wat dele van die reservate besoek het, het gesê dat daar sneeubanke was wat dig besaai was met duisende der duisende gevriesde koningvlinders, en baie vlinders was onder die sneeu begrawe.”
Die foto boaan hierdie bladsy bevestig die tragiese berig.
[Foto-erkenning op bladsy 31]
Jorge Nunez/Sipa Press