Lewensverhaal
Ons het geleer om volkome op Jehovah te vertrou
SOOS VERTEL DEUR NATALIE HOLTORF
Dit was Junie 1945. Op ’n dag in daardie maand het ’n blekerige man na ons huis gekom en geduldig by die voordeur bly staan. My jongste dogter, Ruth, het grootogig uitgeroep: “Mamma, daar’s ’n vreemde man by die deur!” Min het sy geweet dat die vreemdeling haar pa is—my geliefde man, Ferdinand. Twee jaar vroeër, net drie dae nadat Ruth gebore is, is Ferdinand by die huis weg. Hy is in hegtenis geneem en het in ’n Nazi-konsentrasiekamp beland. Maar nou het Ruth uiteindelik haar pa ontmoet, en ons gesin is herenig. Ek en Ferdinand het soveel gehad om mekaar te vertel!
FERDINAND is in 1909 in die stad Kiel, in Duitsland, gebore, en ek is in 1907 in die stad Dresden, ook in Duitsland, gebore. Toe ek 12 was, het ons gesin vir die eerste keer in aanraking gekom met die Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies destyds bekend gestaan het. Op 19-jarige ouderdom het ek die Evangeliese Kerk verlaat en my lewe aan Jehovah toegewy.
Intussen het Ferdinand aan ’n seevaartskool gegradueer en ’n matroos geword. Tydens sy seereise het hy gewonder oor die bestaan van ’n Skepper. Toe hy weer aan land was, het Ferdinand sy broer besoek, wat ’n Bybelstudent was. Hierdie besoek was genoeg om hom te oortuig dat die Bybel die antwoorde het op die vrae wat hom gekwel het. Hy het die Lutherse Kerk verlaat en ook besluit om nie meer ’n matroos te wees nie. Ná sy eerste dag in die predikingswerk het hy ’n diep begeerte gehad om hierdie werk vir die res van sy lewe te doen. Daardie selfde aand het Ferdinand sy lewe aan Jehovah toegewy. Hy is in Augustus 1931 gedoop.
’n Matroos en ’n prediker
In November 1931 het Ferdinand ’n trein Nederland toe geneem om daar met die predikingswerk te gaan help. Toe Ferdinand vir die broer wat die werk in daardie land georganiseer het, sê dat hy ’n matroos was, het die broer uitgeroep: “Jy is net die man wat ons nodig het!” Die broers het ’n boot gehuur sodat ’n groep pioniers (voltydse bedienaars) vir die mense kon getuig wat langs die waterweë in die noordelike deel van die land woon. Die boot het ’n bemanning van vyf gehad, maar nie een van hulle het geweet hoe om dit te stuur nie. Ferdinand het derhalwe die kaptein geword.
Ses maande later is Ferdinand gevra om as ’n pionier in Tilburg, in die suide van Nederland, te dien. Omstreeks daardie tyd het ek ook in Tilburg aangekom om as ’n pionier te dien, en ek het Ferdinand ontmoet. Maar ons is dadelik gevra om na Groningen te gaan, in die noordelike deel van die land. Daar is ons in Oktober 1932 getroud, en ons het ons wittebrood deurgebring in ’n huis waarin verskeie pioniers gewoon het, terwyl ons terselfdertyd pionierdiens gedoen het!
In 1935 is ons dogter Esther gebore. Hoewel ons inkomste maar skraps was, was ons vasbeslote om aan te hou pionier. Ons het na ’n dorpie getrek, waar ons in ’n baie klein huisie gebly het. Terwyl ek tuis na die baba omgesien het, het my man ’n lang dag in die bediening deurgebring. Die volgende dag het ons plekke geruil. So het dit gegaan totdat Esther oud genoeg was om saam met ons in die bediening te gaan.
Nie lank hierna nie het donker wolke op Europa se politieke horison saamgepak. Ons het gehoor van die vervolging van die Getuies in Duitsland, en ons het besef dat ons beurt binnekort sou kom. Ons het gewonder hoe ons onder hewige vervolging sou vaar. In 1938 het die Nederlandse owerheid ’n bevel uitgevaardig wat buitelanders verbied het om kolporteurwerk met godsdienspublikasies te doen. Om ons te help om met ons bediening voort te gaan, het Nederlandse Getuies vir ons die name van mense gegee wat belangstelling in ons werk getoon het, en ons kon die Bybel met party van hulle studeer.
Omstreeks hierdie tyd sou ’n streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies gehou word. Hoewel ons nie geld gehad het om treinkaartjies te koop om na die byeenkoms te reis nie, wou ons graag daar wees. Ons het dus ’n drie dae lange fietsreis aangepak, met klein Esther in ’n stoeltjie voor op een van die fietse. Ons het saans by Getuies oorgeslaap wat langs die roete gebly het. Hoe bly was ons tog om ons eerste nasionale streekbyeenkoms by te woon! Die program het ons versterk vir die beproewinge wat voorgelê het. Bowenal is ons daaraan herinner om op God te vertrou. Die woorde van Psalm 31:6 het ons leuse geword: “Wat my betref, ek vertrou op Jehovah.”
Gejag deur die Nazi’s
In Mei 1940 het die Nazi’s Nederland binnegeval. Kort daarna het die Gestapo, of geheime polisie, ons onverwags besoek terwyl ons besig was om ’n besending Bybellektuur te sorteer. Ferdinand is na die Gestapo-hoofkwartier geneem. Ek en Esther het hom gereeld daar gaan besoek, en soms is hy reg voor ons ondervra en geslaan. In Desember is Ferdinand skielik vrygelaat, maar sy vryheid was van korte duur. Een aand toe ons huis toe kom, het ons ’n Gestapo-motor naby die huis gesien. Ferdinand het daarin geslaag om weg te kom terwyl ek en Esther by die huis ingestap het. Die Gestapo het vir ons gewag. Hulle wou Ferdinand hê. Daardie selfde nag, nadat die Gestapo daar weg is, het die Nederlandse polisie my vir ondervraging kom haal. Die volgende dag het ek en Esther na die huis van die Norder-gesin gevlug, ’n pas gedoopte Getuie-egpaar wat aan ons skuiling en beskerming gebied het.
Aan die einde van Januarie 1941 is ’n pionieregpaar wat in ’n huisboot gebly het, in hegtenis geneem. Die volgende dag het ’n kringopsiener (reisende bedienaar) en my man aan boord gegaan om van die egpaar se besittings te gaan haal, maar persone wat met die Gestapo saamgewerk het, het hulle beetgepak. Ferdinand het daarin geslaag om los te breek en op sy fiets te ontsnap. Die kringopsiener is egter tronk toe geneem.
Ferdinand is deur die verantwoordelike broers gevra om die plek van die kringopsiener in te neem. Dit het beteken dat hy nie vir langer as drie dae per maand huis toe kon kom nie. Dit was ’n nuwe uitdaging vir ons, maar ek het aanhou pionier. Die Gestapo het hulle soektog na die Getuies verskerp; daarom moes ons heeltyd rondtrek. In 1942 het ons drie keer getrek. Uiteindelik het ons in die stad Rotterdam beland, ver van waar Ferdinand sy ondergrondse bediening uitgevoer het. Teen hierdie tyd het ek my tweede kind verwag. Die Kamp-gesin, wie se twee seuns kort tevore na konsentrasiekampe gedeporteer is, het ons liefdevol in hulle huis ingeneem.
Die Gestapo is kort op ons hakke
Ons tweede kind, Ruth, is in Julie 1943 gebore. Ná Ruth se geboorte kon Ferdinand drie dae by ons bly, maar toe moes hy vertrek, en ons het hom daarna lank nie weer gesien nie. Omtrent drie weke later is Ferdinand in Amsterdam in hegtenis geneem. Hy is na die Gestapo-stasie geneem, waar sy identiteit bevestig is. Die Gestapo het hom aan intense ondervraging onderwerp in ’n poging om hom te dwing om inligting oor ons predikingsbedrywighede te onthul. Maar al wat Ferdinand bereid was om te sê, was dat hy een van Jehovah se Getuies is en dat hy nie by enige politieke bedrywighede betrokke is nie. Die Gestapo-amptenare was woedend dat Ferdinand, ’n Duitse burger, nie vir militêre diens aangemeld het nie, en hulle het gedreig om hom as ’n verraaier tereg te stel.
Ferdinand is die volgende vyf maande in ’n tronksel aangehou, waar hy voortdurend gedreig is met teregstelling deur ’n vuurpeloton. Tog het hy onwrikbare lojaliteit teenoor Jehovah gehandhaaf. Wat het hom gehelp om geestelik sterk te bly? God se Woord, die Bybel. As ’n Getuie is Ferdinand natuurlik nie toegelaat om ’n Bybel te hê nie. Maar ander gevangenes kon een vra. Ferdinand het derhalwe sy selmaat oortuig om sy gesin te vra om ’n Bybel te stuur, wat die man toe gedoen het. Jare later, wanneer Ferdinand oor hierdie episode gepraat het, het sy oë geskitter en het hy uitgeroep: “Hoe het daardie Bybel my tog nie vertroos nie!”
Vroeg in Januarie 1944 is Ferdinand skielik na ’n konsentrasiekamp in Vught, Nederland, geneem. Hierdie verandering was eintlik vir hom ’n onverwagte seën, want hy het 46 ander Getuies daar ontmoet. Toe ek hoor dat hy geskuif is, was ek baie bly om te weet dat hy nog lewe!
Predikingswerk in die konsentrasiekamp
Die lewe in die kamp was baie moeilik. Ernstige ondervoeding, ’n gebrek aan warm klere en bitter koue weer was algemeen. Ferdinand het ’n ernstige aanval van mangelontsteking gekry. Ná ’n lang rollesing in die snerpende koue het hy by die siekeboeg aangemeld. Pasiënte met ’n koors van 40 grade Celsius of hoër is toegelaat om te bly. Maar daar was geen genade vir Ferdinand nie, want sy temperatuur was net 39 grade Celsius! Hy is gesê om terug te gaan werk toe. Simpatieke medegevangenes het hom egter gehelp deur hom vir kort rukkies op ’n warm plek te laat skuil. Verdere verligting het gekom toe die weer warmer geword het. En wanneer party van die broers kospakkies gekry het, het hulle dit met ander gedeel; gevolglik het Ferdinand van sy krag herwin.
Voordat my man tronk toe is, het sy lewe om die predikingswerk gedraai, en in die kamp het hy voortgegaan om ander van sy geloofsoortuigings te vertel. Kampbeamptes het dikwels smalende aanmerkings gemaak oor sy pers driehoek, die kenteken wat ’n gevangene as ’n Getuie geïdentifiseer het. Maar Ferdinand het sulke aanmerkings as ’n geleentheid beskou om ’n gesprek met hulle aan te knoop. Aanvanklik was die broers se predikingsgebied beperk tot die barakke wat hoofsaaklik Getuies gehuisves het. Die broers het hulle afgevra: ‘Hoe kan ons meer gevangenes bereik?’ Sonder dat hulle dit besef het, het die kampbestuur ’n oplossing gebied. Hoe?
Die broers het ’n geheime voorraad Bybellektuur en ook 12 Bybels gehad. Eendag het die wagte van die lektuur gekry, maar hulle kon nie uitvind aan wie dit behoort nie. Daarom het kampbeamptes besluit dat die eenheid van die Getuies verbreek moes word. As straf is al die broers dus na barakke oorgeplaas waar die gevangenes nie Getuies was nie. Ook moes die broers tydens maaltye langs ander sit wat nie Getuies was nie. Hierdie reëling was ’n seën. Nou kon die broers doen wat hulle in die eerste plek wou doen—vir soveel van die gevangenes as moontlik getuig.
Ek maak twee dogters alleen groot
Intussen het ek en my twee dogters nog steeds in Rotterdam gebly. Die winter van 1943/44 was besonder straf. Agter ons huis was ’n battery van lugafweergeskut wat deur Duitse soldate beman is. Voor ons was die Waal-hawe, ’n vername teiken van Geallieerde bomwerpers. Dit was nie juis die veiligste plek om te skuil nie. Daarbenewens was kos skaars. Ons het meer as ooit tevore geleer om volkome op Jehovah te vertrou.—Spreuke 3:5, 6.
Die agtjarige Esther het ons gesinnetjie gehelp deur by ’n sopkombuis tou te staan. Maar wanneer dit haar beurt was om kos te kry, was daar dikwels niks oor nie. Een keer toe sy uit was op soek na kos, het sy haar in die middel van ’n lugaanval bevind. Ek het paniekerig geword toe ek die ontploffings hoor, maar my angs is gou vervang deur trane van vreugde toe sy ongedeerd teruggekom en selfs ’n paar suikerbete saamgebring het. “Wat het gebeur?” was my eerste woorde. Sy het kalm geantwoord: “Toe die bomme val, het ek presies gedoen wat Pappa vir my gesê het: ‘Val plat op die grond, bly lê en bid.’ En dit het gewerk!”
Weens my Duitse aksent was dit veiliger dat Esther die paar inkopies doen wat nog moontlik was. Dit het nie die aandag van die Duitse soldate ontgaan nie, wat Ester begin uitvra het. Maar sy het geen geheime verklap nie. Ek het Esther tuis in die Bybel onderrig, en omdat sy nie skool toe kon gaan nie, het ek haar leer lees en skryf en haar ook ander vaardighede geleer.
Esther het my ook in die bediening gehelp. Voordat ek ’n Bybelstudie met iemand gaan hou het, het Esther vooruitgegaan om te kyk of alles veilig is. Sy het seker gemaak dat die tekens waaroor ek met die Bybelstudent ooreengekom het, daar is. Die persoon wat ek sou gaan besoek, sou byvoorbeeld ’n blompot in ’n sekere posisie op die vensterbank plaas om vir my aan te dui dat ek kan inkom. Gedurende die Bybelstudie het Esther buite gebly om te let op enige teken van gevaar terwyl sy die stootwaentjie met klein Ruth op en af in die straat gestoot het.
Na Sachsenhausen
Hoe het Ferdinand gevaar? In September 1944 is hy en baie ander na ’n treinstasie geneem waar groepe van 80 gevangenes ingeprop is by goederewaens wat daar gestaan het. Elke wa het een emmer gehad wat as ’n toilet gebruik is en een emmer met drinkwater. Die tog het drie dae en drie nagte geduur, en daar was net staanplek! Daar was amper geen vars lug nie. Die goederewaens was heeltemal toe met net ’n loergaatjie hier en daar! Die hitte, honger en dors wat hulle moes verduur—om nie van die stank te praat nie—was onbeskryflik.
Die trein het by die berugte Sachsenhausen-konsentrasiekamp tot stilstand gekom. Al die gevangenes se laaste paar persoonlike besittings is van hulle weggeneem—behalwe die 12 klein Bybeltjies wat die Getuies saamgeneem het op die tog!
Ferdinand en agt ander broers is na ’n satellietkamp in Rathenow gestuur om oorlogstoerusting te help maak. Al is hulle dikwels met teregstelling gedreig, het die broers geweier om daardie soort werk te doen. Om mekaar aan te moedig om standvastig te bly, het hulle soggens ’n Bybelteks, soos Psalm 18:2, gelees sodat hulle gedurende die dag daaroor kon peins. Dit het hulle gehelp om oor geestelike sake na te dink.
Uiteindelik het die gedreun van geskutvuur die aantog van die Geallieerde en Russiese troepe aangekondig. Die Russe het eerste by die kamp aangekom waar Ferdinand en sy metgeselle was. Hulle het die gevangenes ’n bietjie kos gegee en hulle beveel om die kamp te verlaat. Teen die einde van April 1945 het die Russiese leër hulle toegelaat om huis toe te gaan.
Uiteindelik saam as ’n gesin
Op 15 Junie het Ferdinand in Nederland aangekom. Die broers in Groningen het hom hartlik verwelkom. Hy het weldra gehoor dat ons nog lewe en êrens in die land is, en ons het die nuus van sy terugkeer ontvang. Dit het gevoel of ons eeue lank op sy tuiskoms gewag het. Maar uiteindelik het klein Ruth eendag uitgeroep: “Mamma, daar’s ’n vreemde man by die deur!” Dit was ons geliefde man en vader!
Ons moes talle probleme uitstryk voordat ons weer soos ’n normale gesin kon leef. Ons het nie blyplek gehad nie, en dit was ’n groot uitdaging om weer ons status as permanente inwoners te kry. Omdat ons Duitsers was, het die Nederlandse amptenare ons ’n paar jaar lank as uitgeworpenes behandel. Maar ons het uiteindelik ons voete gevind en kon met die lewe begin wat ons begeer het—om Jehovah as ’n gesin saam te dien.
“Ek vertrou op Jehovah”
In latere jare, wanneer ek en Ferdinand saam met vriende bymekaargekom het wat ook daardie moeilike dae beleef het, het ons gepraat oor Jehovah se liefdevolle leiding gedurende daardie swaar tye (Psalm 7:1). Ons was verheug dat Jehovah ons deur die jare heen toegelaat het om Koninkryksbelange te help bevorder. Ons het ook dikwels genoem hoe bly ons was dat ons ons jeug in Jehovah se heilige diens kon gebruik.—Prediker 12:1.
Ná die tydperk van Nazi-vervolging het ek en Ferdinand Jehovah nog meer as 50 jaar lank saam gedien voordat hy sy aardse loopbaan op 20 Desember 1995 voltooi het. Ek sal binnekort 98 jaar oud wees. Ek dank Jehovah daagliks daarvoor dat ons kinders gedurende daardie moeilike jare so ondersteunend was en dat ek nog in staat is om in sy diens te doen wat ek kan tot verheerliking van sy naam. Ek is dankbaar vir alles wat Jehovah vir my gedoen het, en dit is my hartsbegeerte om altyd te bly by my leuse: “Wat my betref, ek vertrou op Jehovah.”—Psalm 31:6.
[Prent op bladsy 19]
Saam met Ferdinand in Oktober 1932
[Prent op bladsy 19]
Die evangelisasieboot “Almina” met sy bemanning
[Prent op bladsy 22]
Saam met Ferdinand en die kinders