Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek
7-13 AUGUSTUS
SKATTE UIT GOD SE WOORD | ESEGIËL 28-31
“Jehovah het ’n heidense nasie beloon”
(Esegiël 29:18) “Mensekind, Nebukadreʹsar, die koning van Babilon, het sy krygsmag ’n groot diens teen Tirus laat verrig. Elke kop is kaal gemaak en elke skouer is deurgeskaaf. Maar wat loon betref, was daar vir hom en sy krygsmag niks uit Tirus vir die diens wat hy teen hom verrig het nie.
it-2-E 1136 ¶4
Tirus
Vernietiging van die stad. Tydens die lang aanval van Nebukadnesar teen Tirus is die soldate se koppe “kaal gemaak” omdat hulle helms hulle geskaaf het en hulle skouers is “deurgeskaaf” van die boumateriaal wat hulle gedra het om die stad te kon beleër. Omdat Nebukadnesar “niks” betaal is toe Jehovah hom as Sy instrument gebruik het om oordeel aan Tirus te voltrek nie, het Jehovah belowe om hom met die rykdom van Egipte te vergoed (Ese 29:17-20). Volgens die Joodse geskiedkundige Josefus het die aanval 13 jaar geduur (Against Apion, I, 156 [21]) en het die Babiloniërs groot verliese gely. Sekulêre geskiedenis sê nie presies hoe deeglik of hoe doeltreffend Nebukadnesar se pogings was nie. Maar Tirus het moontlik baie lewens en eiendom verloor.—Ese 26:7-12.
(Esegiël 29:19) “Daarom, só het die Soewereine Heer Jehovah gesê: ‘Kyk, ek gee Egipteland aan Nebukadreʹsar, die koning van Babilon, en hy sal die rykdom daarvan wegdra en ’n groot buit daaruit neem en dit grootliks plunder; en dit sal die loon vir sy krygsmag word.’
it-1-E 698 ¶5
Egipte, Egiptenaar
’n Babiloniese teks, wat uit Nebukadnesar se 37ste jaar (588 VHJ) dateer, is ontdek wat van ’n veldtog teen Egipte praat. Daar kan nie met sekerheid gesê word of dit na die oorspronklike aanval of ’n latere aanval verwys nie. Maar Nebukadnesar het op die ou end Egipte se rykdom gekry as betaling vir militêre diens wat hy verrig het toe hy Jehovah se oordeel aan Tirus, ’n teenstander van God se volk, voltrek het.—Ese 29:18-20; 30:10-12.
(Esegiël 29:20) “‘As sy vergoeding vir die diens wat hy daarteen verrig het, het ek hom Egipteland gegee, omdat hulle vir my opgetree het’, is die woord van die Soewereine Heer Jehovah.
g86 11/8 27 ¶4-5
Moet alle belasting betaal word?
In antwoord hierop kan ons dit vergelyk met hoe die Skepper self skuld vir gelewerde dienste by ’n sekulêre regering vereffen het. Jehovah het op grond van regverdige verontwaardiging die vernietiging van die eertydse stad Tirus verorden. God het die militêre mag van Babilon onder aanvoering van hulle koning Nebukadnesar gebruik om dit uit te voer. Hoewel Babilon geseëvier het, was die geveg duur. Jehovah het dus gemeen dat hulle vir gelewerde dienste betaal moet word. Sy woorde is in Esegiël 29:18, 19 opgeteken: “Mensekind, Nebukadresar, die koning van Babel, het sy leër ’n swaar diens teen Tirus laat verrig. . . . Maar hy en ook sy leër het ook van Tirus geen loon ontvang vir die krygsdiens wat hy daarteen verrig het nie. Daarom, so sê die Here HERE: Kyk, Ek gee Egipteland aan Nebukadresar, die koning van Babel, en hy sal die rykdom daarvan wegdra en die buit daarvan buitmaak en die roof daarvan rowe, en dit sal die loon vir sy leër wees.”
Bybelstudente weet dat Nebukadnesar ’n hoogmoedige, selfsugtige, heidense koning was. Babilon en sy leërs was bekend vir hulle wrede behandeling van gevangenes. Jehovah het sulke gedrag afgekeur, maar het skuld as skuld beskou en het dit ten volle vereffen.
Soek na geestelike skatte
(Esegiël 28:12-19) “Mensekind, hef ’n klaaglied oor die koning van Tirus aan, en jy moet vir hom sê: ‘Só het die Soewereine Heer Jehovah gesê: “‘“Jy verseël ’n voorbeeld, vol wysheid en volmaak in skoonheid. 13 In Eden, die tuin van God, was jy. Allerhande edelstene was jou bedekking: robyn, topaas en jaspis; chrisoliet, oniks en niersteen; saffier, turkoois en smarag; en van goud was die werk van jou monterings en jou kassies in jou. Die dag toe jy geskep is, is hulle gereedgemaak. 14 Jy is die gesalfde gerub wat beskut, en ek het jou aangestel. Op die heilige berg van God was jy. Tussen vurige stene het jy rondgewandel. 15 Jy was onberispelik in jou weë van die dag af dat jy geskep is totdat onregverdigheid in jou gevind is. 16 “‘“Weens die oorvloed van jou handelsware het hulle jou binneste met geweld gevul, en jy het begin sondig. En ek sal jou as onheilig van die berg van God verdryf, en ek sal jou tussen die vurige stene uit vernietig, o gerub wat beskut. 17 “‘“Jou hart het hoogmoedig geword weens jou skoonheid. Jy het jou wysheid verderf weens jou stralende prag. Op die grond sal ek jou werp. Voor konings sal ek jou stel, sodat hulle op jou kan neersien. 18 “‘“As gevolg van die oorvloed van jou oortredings, weens die onreg met betrekking tot jou handelsware, het jy jou heiligdomme ontheilig. En ek sal ’n vuur uit jou laat uitgaan. Dit sal jou verteer. En ek sal jou as op die aarde maak voor die oë van almal wat jou sien. 19 Wat almal onder die volke betref wat jou ken, hulle sal jou beslis verbaas aanstaar. Skielike verskrikkinge sal jy word, en tot onbepaalde tyd sal jy daar nie meer wees nie.”’”
it-2-E 604 ¶4-5
Volmaaktheid
Die eerste sondaar en die koning van Tirus. Die mens se sonde en onvolmaaktheid is natuurlik voorafgegaan deur die sonde en onvolmaaktheid in die geesteryk, soos Jesus se woorde in Johannes 8:44 en die verslag in Genesis hoofstuk 3 wys. Hoewel die klaaglied in Esegiël 28:12-19 aan die menslike “koning van Tirus” geskryf is, stem dit ooreen met die optrede van die geesseun van God wat die eerste sonde gepleeg het. “Die koning van Tirus” was trots, het homself ‘’n god’ gemaak, is ’n “gerub” genoem en daar word verwys na “Eden, die tuin van God”. Dit stem beslis ooreen met wat die Bybel sê oor Satan die Duiwel, wat opgeblase van trots geword het, met die slang in Eden verbind word en “die god van hierdie stelsel van dinge” genoem word.—1Ti 3:6; Ge 3:1-5, 14, 15; Op 12:9; 2Ko 4:4.
Die anonieme koning van Tirus, wat gewoon het in die stad wat glo “volmaak in skoonheid” was, was self “vol wysheid en volmaak [byvoeglike naamwoord verbind met die Heb. ka·lalʹ] in skoonheid” en “onberispelik [Heb., ta·mimʹ]” in sy optrede van sy skepping af aan totdat onregverdigheid in hom gevind is (Ese 27:3; 28:12, 15). Dit wil voorkom of die klaaglied in Esegiël die eerste keer gepraat het met die lyn van Tiriese heersers en nie met ’n spesifieke koning nie. (Vergelyk die profesie teen die anonieme “koning van Babilon” in Jes 14:4-20.) In daardie geval verwys dit moontlik na die vroeë vriendskap en samewerking met die Tiriese heersers gedurende die heerskappy van koning Dawid en Salomo toe Tirus selfs bygedra het tot die bou van Jehovah se tempel op die berg Moria. In die begin het Tirus dus ’n goeie gesindheid teenoor Jehovah se volk Israel gehad (1Kn 5:1-18; 9:10, 11, 14; 2Kr 2:3-16). Latere konings het nie hierdie selfde ‘onberispelike’ gesindheid gehad nie en daarom is Tirus mettertyd deur God se profete Joël, Amos en Esegiël veroordeel (Jl 3:4-8; Am 1:9, 10). Daar is nie net ’n duidelike ooreenkoms tussen “die koning van Tirus” en God se vernaamste Teenstander nie, maar die profesie wys weer eens dat “volmaaktheid” en “onberispelikheid” in ’n beperkte betekenis gebruik kan word.
14-20 AUGUSTUS
SKATTE UIT GOD SE WOORD | ESEGIËL 32-34
“Die wag se groot verantwoordelikheid”
(Esegiël 33:7) “En wat jou betref, o mensekind, ’n wag het ek jou vir die huis van Israel gemaak, en uit my mond moet jy die woord hoor en hulle namens my waarsku.
it-2-E 1172 ¶2
Wag
Figuurlike gebruik. Jehovah het profete aangestel wat as figuurlike wagte vir die nasie Israel gedien het (Jer 6:17) en hulle het soms op hulle beurt op ’n simboliese manier van wagte gepraat (Jer 6:17; Jes 21:6, 8; 52:8; 62:6; Ho 9:8). Hierdie profetiese wagte het die verantwoordelikheid gehad om goddeloses oor naderende vernietiging te waarsku, en as hulle dit nie gedoen het nie, is hulle daarvoor aanspreeklik gehou. Maar as die mense nie op die waarskuwing gereageer het nie, was hulle bloed op hulle eie hande (Ese 3:17-21; 33:1-9). ’n Ontroue profeet was byna net soveel werd soos ’n blinde wag of ’n stom hond.—Jes 56:10.