Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 1/8 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die plundering van kerke
  • Dodelike besittings
  • Voorkoming van malaria
  • “Megakerke”
  • Haas om Opus Dei-“heilige” salig te verklaar
  • Hepatitis en oorplantings
  • Libië se kunsmatige rivier
  • Meer rotte as mense
  • Strate nie met goud besaai nie
  • Vigs en borsvoeding
  • Eenvoudige maatreëls in die stryd teen malaria
    Ontwaak!—1997
  • Peste in die 20ste eeu
    Ontwaak!—1997
  • Vigs—Loop ek gevaar?
    Ontwaak!—1993
  • VIGS—sy tragiese slagting onder kinders
    Ontwaak!—1991
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 1/8 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Die plundering van kerke

“Brittanje se kerke wat eens ’n toevlugsoord vir Middeleeuse wetsoortreders was, is vinnig besig om hulle gewildheid onder die misdadigergemeenskap te herwin”, sê The Economist. Maar nou is dit ’n stygende vlaag van misdade deur inbrekers, brandstigters en vandale wat die kerkgeboue beroof. Anglikaanse kerkeiendom het in 1990 alleen verliese en skade van sowat R20,4 miljoen gely. Die probleem waarmee ons tans te kampe het, sê The Economist, is “professionele bendes diewe wat oudhede steel, en hulle steel dikwels op bestelling. Baie van die buit gaan na die buiteland waar dit moeiliker is om dit terug te vind en makliker is om dit weg te praat.” Hoewel kerke se silwerware in brandkluise gehou word, het die diewe orrelpype, bydraebussies, kisstaanders, gebrandskilderde glasvensters en hele deure begin steel. Die vermetele diewe daag selfs in amptelike kleredrag op en steel “voor kerkgangers se neuse”. Die meeste kerke is nou ’n gedeelte van die dag gesluit en sit wagte uit wanneer hulle die deure oopmaak. Die kerke wat die ergste getref is, “het die ingang met glas toegemaak, wat besoekers se aanbidding beperk deurdat hulle net in die voorportaal in die rigting van die altaar mag kniel”. ’n Boekie oor veiligheid van die polisie parafraseer Openbaring 3:2 só: “Wees op julle hoede en versterk die dinge wat oorbly.”

Dodelike besittings

“’n Vuurwapen gee die man op straat moed. Hy dink dat hy veilig is, maar hy loop ook ’n groot risiko om ’n misdadiger te word”, sê polisiehoof Nelson Silveira Guimarães van São Paulo, Brasilië, van die talle mense in die stad wat vuurwapens dra om hulleself te beskerm. “Die meeste mense behoort glad nie ’n vuurwapen te hê nie”, sê Robinson do Prado, burgerlike polisiespeurder. “Hulle is mense wat geen emosionele beheersing het om uiters spanningsvolle situasies die hoof te bied nie.” Dit kos nie veel van ’n mens om sy selfbeheersing te verloor nie, sê die Brasiliaanse koerant Jornal da Tarde. “’n Belediging, ’n argument, ’n onbeheerste gebaar, en enigeen kan pleks van ’n slagoffer ’n moordenaar wees.”

Dit geld veral vir kinders. “Die feit dat vuurwapens oral in die [Verenigde State] maklik bekombaar is, het geweldig baie alledaagse ontmoetings in dodelike gevegte verander”, sê die U.S.News & World Report. “Die redes daarvoor is duidelik. Vandag se kinders word soos nog nooit tevore nie ongevoelig gemaak vir geweld, omdat hulle heeldag sien hoe mense mekaar doodskiet en omdat die media hulle gedagtes vol beelde prop van Rambo’s wat willekeurig doodmaak.”

Voorkoming van malaria

’n Eenvoudige voorsorgmaatreël kan die sterfgevalle wat deur malaria veroorsaak word grootliks verminder. ’n Onlangse studie wat in 73 dorpies in Gambië, Wes-Afrika, onderneem is, het getoon dat waar beddens beskerm is met muskietnet wat met ’n insekdoder behandel is sterfgevalle onder jong kinders weens malaria 70 persent laer was as in dorpies wat nie die nette gebruik het nie. Aangesien die muskiet wat die siekte oordra hoofsaaklik snags byt, beskerm die nette mense wanneer hulle op hul kwesbaarste is—wanneer hulle slaap. Die behandeling van die nette met die insekdoder permetrien maak die nette baie doeltreffender selfs al het hulle gaatjies en skeurtjies. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie sterf daar jaarliks tot tweemiljoen mense weens malaria. Ongeveer 25 persent van die slagoffers is kinders.

“Megakerke”

“Welkom by die wêreld van ‘megakerke’”, sê The Economist. “Daar is nou ses Amerikaanse kerke wat elke Sondag meer as 10 000 mense lok en 35 wat ten minste 5000 lok.” Die Eerste Baptistekerk van Hammond, Indiana, VSA, sê dat hulle die grootste gemeente het—meer as 20 000 woon hulle Sondagdienste by. Byna al die “megakerke” is fundamentalisties, dit wil sê, hulle glo aan geloofsgenesing en talespraak, of albei. Die aandag word veral op kinders gevestig. Die kerk in Hammond het nie net ’n Sondagskool nie, maar bied ook bofbal sowel as ’n somerkamp vir kinders aan. “Al wat jy nodig het om ’n megakerk te stig, is ’n kragtige boodskap oor goed en kwaad, ’n begaafde prediker met ’n gawe om te kan organiseer en ’n groot ouditorium”, sê The Economist. “Vir verveelde, versplinterde bewoners van die voorstede in die Midde-Weste en die sonnige suide [van die VSA] bied sulke kerke pasklaar seëninge.”

Haas om Opus Dei-“heilige” salig te verklaar

Opus Dei, ’n geheimsinnige elitegemeenskap in die Katolieke Kerk, is in 1928 deur Katolieke priester José María Escrivá de Balaguer in Spanje gestig. Hy het in 1975 gesterf, en sedertdien het Opus Dei-ondersteuners ’n veldtog gevoer om hom salig te laat verklaar. Die Catholic Herald van Londen het onder die opskrif “Ontsteltenis oor Opus Dei-‘heilige’” verslag gedoen van die reaksie van Spaanse kardinaal Enrique Tarancon, voormalige aartsbiskop van Madrid, en van Jesuïtiese provinsiaal Michael Campbell-Johnson oor die “‘onverklaarbare’ haas ten opsigte van die saligverklaringsproses” van die Opus Dei-stigter. Sulke haas, sê die koerant, is in teenstelling met die stadige proses van saligverklaring van kardinaal Newman, wat in 1890 gesterf het, en dié van pous Johannes XXIII, wat in 1963 gesterf het. “Ek . . . sal nie sê dat hy ’n voorbeeldige mens was nie”, het Wladimir Felzmann, ’n voormalige lid van die Opus Dei, gesê wat Escrivá persoonlik geken het. “Hy was in baie opsigte ’n anachronisme. Die vraag is: Waarvan word hy as voorbeeld voorgehou?”

Hepatitis en oorplantings

Hepatitis C, ’n potensieel dodelike lewersiekte, is by die lys siektes gevoeg wat deur oorplantings oorgedra kan word, ’n lys wat al hoe langer word. Die lys bevat ook ander vorme van hepatitis, vigs en sitomegalovirus. Die bevindinge wat in The New England Journal of Medicine gepubliseer is, kan moontlik verduidelik waarom daar so baie gevalle van pasiënte met langtermynlewersiekte ná oorplantingsoperasies is. ’n Studie van 29 oorplantingspasiënte wat organe ontvang het van mense met die hepatitis C-virus het bevind dat 14 hepatitis C opgedoen het en dat 6 gesterf het. Die navorsers meen dat dokters in die meeste gevalle nie moet toelaat dat draers van die hepatitis C-virus organe skenk nie.

Libië se kunsmatige rivier

“Kamele wat die ou karavaanroete van die woestynoase van Wes-Libië af na die kusstad Benghazi volg, het ’n nuwe baken om hulle te lei”, sê die tydskrif New Scientist. “Hulle loop meer as duisend kilometer ver langs ’n waterpyp wat groot genoeg is dat ’n motor daardeur kan ry.” Hierdie kunsmatige rivier, wat byna so lank soos die Ryn is, is al sewe jaar lank die wêreld se grootste siviele ingenieursprojek. Dit vervoer tweemiljoen kubieke meter water per dag van putte af wat in die binneland in Sirte gegrawe is na plase aan die kus waarvan die grondwaterbronne uitgeput is. Vier ander fases van die voorgestelde reusewaternetwerk oor Libië moet nog gebou word. Dit is geweldig duur om hierdie water van onder die Sahara te vervoer. Die water moet op sommige plekke oor heuwels gepomp word wat meer as 100 meter hoog is. Ingenieurs is bang dat die putte binne 50 jaar sal opdroog. ’n Waterspesialis, Tony Allen, noem die projek ’n “nasionale fantasie—dit is dwaasheid om hierdie water, wat nooit vervang kan word nie, vir boerdery te gebruik”.

Meer rotte as mense

Die Wêreldgesondheidsorganisasie skat dat daar ongeveer 70 miljoen rotte, of ’n hele paar vir elke inwoner, in São Paulo, Brasilië, is, berig die koerant Jornal da Tarde. Siektes soos leptospirose, ’n siekte wat deur die urine van rotte oorgedra word, kom gevolglik algemeen voor wanneer oorstromings die stad tref. “As dit net ’n kwessie van gif was, sou dit baie maklik gewees het om die rotte uit te roei”, sê Minekazu Matsuo, direkteur van die Bestryding van Knaagdiere en Siektedraers in São Paulo. Maar wanneer kos en water volop is, help die gif nie omdat die rotte dit nie eet nie. Matsuo sê dat dit noodsaaklik is om van die vullis waarvan die rotte lewe ontslae te raak as ’n mens hulle wil uitroei.

Strate nie met goud besaai nie

Byna 34 miljoen Amerikaners lewe nou in armoede, sê die Amerikaanse Sensusburo. Dit is die eerste keer in sewe jaar dat die armoedesyfer gestyg het, van 12,8 persent van die bevolking in 1989 tot 13,5 persent in 1990. Die definisie van armoede wat vir 1990 vasgestel is, is ’n inkomste van R36 737 ($13359) of minder vir ’n gesin van vier. Twee derdes van dié wat onder die armoedsgrens verdien, was wit mense, maar swart mense, wat 32 persent uitmaak, het die hoogste armoedsyfer van enige rasse- of etniese groep gehad. Een uit vyf kinders lewe onder die armoedsgrens.

Vigs en borsvoeding

Navorsers sê moeders met vigs kan die siekte deur borsvoeding teen ’n baie vinniger tempo as wat voorheen gedink is aan hulle babas oordra. Die verslag wat in The New England Journal of Medicine gepubliseer is, is gebaseer op ’n studie wat onder moeders in Kigali, die hoofstad van Rwanda in Sentraal-Afrika, gedoen is. Hoewel die kanse dat die babas besmet kan word tot 50 persent is, is die risiko van kindersterfte weens die gebruik van besmette water om melkformules mee aan te maak baie hoër. Borsvoeding word dus nog in hierdie gebiede aanbeveel. Nie alle vroue wat met vigs besmet is, dra die virus deur hulle melk oor nie, en dit is moontlik dat die siekte so vinnig oorgedra is vanweë die feit dat die vroue wat bestudeer is eers drie maande of langer nadat hulle geboorte gegee het positief getoets is vir vigs. Die aantal virusse in die liggaam is die hoogste net na ’n mens besmet is.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel