Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 12/22 bl. 26-27
  • Maggy se lyding en my seëning

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Maggy se lyding en my seëning
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Geseën met ’n gesonde baba
  • Die dood en die aanpassing agterna
  • Ondersteuning van mede-Christene
  • Vreugdes nou en toekomstige vooruitsigte
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1997
  • Weggooikinders en wegloopkinders
    Ontwaak!—1995
  • “Nou is ek lief vir die bediening!”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan(Studie-uitgawe) — 2021
  • Nie towenaars óf gode nie
    Ontwaak!—1994
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 12/22 bl. 26-27

Maggy se lyding en my seëning

Dinsdag, 2 Mei 1995, was die dag waarop my dogter gebore is en my vrou gesterf het. Ongelukkig het Maggy nooit haar baba se gesiggie gesien nie. Nou is dit my hoop om Tamara aan haar moeder voor te stel wanneer sy opgewek word.

NADAT ons 16 jaar getroud was, het my vrou, Maggy, se dokter vir haar gesê dat sy borskanker het en net ’n paar maande oorhet om te leef. Dit was vyf jaar gelede. Gelukkig kon Maggy tydens daardie laaste jare van haar lewe redelik normaal leef. Net teen die einde het die pyn byna ondraaglik geword.

As gevolg van die omvang van haar kanker het die dokters gesê dat haar kanse om swanger te word maar skraal was. Jy kan jou dus ons skok voorstel toe hulle tydens ’n roetine-ultraklankprosedure om die groei van die kankergewasse te ondersoek ’n baba in haar baarmoeder sien! Dit was ’n dogtertjie. Maggy was vier en ’n half maande swanger. Sy was vreugdevol oor die vooruitsig om vir die eerste keer ’n moeder te wees.

Maggy het absoluut alles gedoen wat sy kon om te verseker dat die baba gesond gebore sou word. Sy het haar dieet dopgehou, en selfs gedurende die laaste twee weke van haar lewe toe die pyn baie erg begin word het, het sy slegs pynstillers geneem wanneer sy die pyn nie meer kon verduur nie.

Geseën met ’n gesonde baba

Op Saterdag, 29 April, het Maggy hartkloppings gekry en gesê: “Ek dink ek gaan sterf.” Ek het die hele naweek by haar gebly. Nadat ek Maandag die dokter gebel het, het ek haar dadelik na die hospitaal geneem in Montreal, Kanada, wat nie ver van ons huis in St. Jérôme was nie.

Teen omstreeks 5:30 die volgende oggend het ’n verpleegster verby Maggy se kamerdeur geloop en opgemerk dat sy in nood verkeer. Sy was blykbaar besig om ’n hartaanval te kry. ’n Dokter is dadelik van die kamer langsaan ontbied. Hoewel Maggy gesterf het, het die mediese span daarin geslaag om ons baba te red. Tamara is twee en ’n half maande te vroeg gebore en het net 1,1 kilogram geweeg.

Aangesien Tamara se bloedtelling laag was, wou die dokters haar ’n bloedoortapping gee. Maar hulle is aangespoor om eerder die sintetiese hormoon eritropoiëtien te gebruik. Hulle het, en toe die gebruik van hierdie produk haar bloedtelling met welslae verhoog het, het ’n verpleegster gesê: “Waarom gebruik hulle dit nie vir al die babas nie?”

Tamara het ander probleme gehad wat met vroeggeboorte verband hou, maar dit is alles opgelos. Trouens, toe dr. Watters, ’n neuroloog, haar later ondersoek het, het hy vir die verpleegster gesê: “Ek dink jy het my die verkeerde baba gegee om te ondersoek; sy lyk vir my heeltemal normaal.”

Die dood en die aanpassing agterna

Om Maggy te sien sterf, was moeilik vir my. Ek het so magteloos gevoel. Dit was baie swaar om oor Maggy se dood te praat. En tog het ek dit gedoen wanneer my Christenbroers en -susters na die hospitaal toe gekom het. Die pyn het stadigaan draagliker geword hoe meer ek daaroor gepraat het. Wanneer ek ook al ’n artikel in Die Wagtoring of Ontwaak! lees wat my in die besonder raak, sit ek dit eenkant in ’n persoonlike deel van my biblioteek sodat ek dit kan uithaal en lees wanneer ek dit nodig het.

Nog ’n uitdaging was om na ’n leë huis terug te keer. Eensaamheid is baie moeilik om te verwerk. Hierdie gevoel kom nog steeds by my op, al vind ek baat by opbouende Christelike geselskap. Ek en Maggy het alles saam gedoen, en ons het gesels oor die probleem wat ek met eensaamheid sou hê. Sy wou hê dat ek weer moet trou. Tog is dinge nie so eenvoudig nie.

Ondersteuning van mede-Christene

Ek weet nie wat ek sonder die ondersteuning van die Hospitaalskakelkomitee (HSK) van Jehovah se Getuies sou gedoen het nie. Die oggend toe Maggy gesterf het, was daar ’n goed ingeligte Getuie van die HSK by die hospitaal, en hy het my die nodige hulp verleen.

Die hospitaalpersoneel is beïndruk deur die bystand wat ek van ons Christengemeente in St. Jérôme asook van die ander gemeentes in die omgewing ontvang het. Die aand toe Maggy se dood by ons Christelike vergadering aangekondig is, het meer as 20 dierbare vriende gereageer deur hulle hulp aan te bied. Die ondersteuning was voorwaar oorweldigend.

Vriende het voedsel vir my voorberei; die vriesgedeelte van my yskas was maande lank vol. My familie en Christenbroers en -susters het selfs gesorg dat my dogter klere kry. Hulle het so baie dinge vir my gekoop dat ek nie genoeg plek gehad het om alles te bêre nie.

Vreugdes nou en toekomstige vooruitsigte

Tamara help my om nie aan my verlies te dink nie. Sy het my hart heeltemal gesteel. Elke dag wanneer ek haar met ’n opgewekte “goeie môre” groet, glimlag sy breed vir my, begin sy “gesels” en swaai sy haar arms en bene van pure opgewondenheid.

As ’n amateursterrekundige sien ek daarna uit om Tamara op my skoot te laat sit en haar deur my teleskoop te laat kyk na die hemelse wonders van ons Grootse Maker, Jehovah. Wanneer ek nadink oor eindelose lewe in die Paradys op aarde is dit ’n ware bron van vertroosting. En die wete dat dit die vooruitsig is wat Tamara het, laat my vreugde toeneem.—Psalm 37:9-11, 29.

As ek terugdink aan die gebeure van die afgelope vyf jaar, kan ek dit ten beste beskryf as traumaties sowel as vreugdevol. Ek het baie van myself en van die lewe self geleer. Ek sien gretig uit na die toekoms wanneer, soos die Bybel beskryf, ‘die dood nie meer daar sal wees nie, en ook verdriet en geskreeu en pyn nie meer daar sal wees nie’.—Openbaring 21:3, 4.

Dan, in die opstanding, sal Maggy ’n diep asemteug sonder pyn kan neem. Bowenal is dit my vaste hoop en begeerte om daar te wees om Tamara aan Maggy voor te stel sodat sy die dogtertjie kan sien vir wie sy so baie gedoen het.—Soos vertel deur Lorne Wilkins.

[Prent op bladsy 26]

Saam met my vrou

[Prent op bladsy 26]

Ons dogter, Tamara

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel