Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • jv hfst. 15 bl. 204-235
  • Die ontwikkeling van die organisasie se struktuur

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die ontwikkeling van die organisasie se struktuur
  • Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vroeë broederskap van die Bybelstudente
  • Daar word in die vroeë behoeftes van die groeiende broederskap voorsien
  • Organisering om die goeie nuus te verkondig
  • Die regte voorbeeld vir die kudde
  • Teokratiese organisasie
  • Voordele van teokratiese leiding
  • Reisende opsieners versterk die gemeentes
  • “Iemand wat die diens liefhet”
  • Verdere teokratiese aanpassings
  • Gespesialiseerde opleiding vir opsieners
  • Voorbereiding vir snelle groei
  • Georganiseer om “die God van vrede” te dien
    God se Koninkryk regeer!
  • Interne toetsing en sifting
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Verkondig die goeie nuus sonder ophou (1942-1975)
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Noemenswaardige gebeurtenisse in die hedendaagse geskiedenis van Jehovah se Getuies
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
Sien nog
Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
jv hfst. 15 bl. 204-235

Hoofstuk 15

Die ontwikkeling van die organisasie se struktuur

DIE werking van die organisasie van Jehovah se Getuies het belangrike veranderinge ondergaan sedert Charles Taze Russell en sy metgeselle die Bybel in 1870 saam begin bestudeer het. Toe die vroeë Bybelstudente nog net ’n klein groepie was, het hulle nie juis gehad wat buitestanders ’n organisasie sou noem nie. Maar wanneer mense vandag na die gemeentes van Jehovah se Getuies, hulle byeenkomste en hulle verkondiging van die goeie nuus in meer as 200 lande kyk, verwonder hulle hulle oor hoe vlot die organisasie funksioneer. Hoe het dit gebeur?

Die Bybelstudente het nie net intens belanggestel in ’n begrip van Bybelleerstellings nie, maar ook in die manier waarop God se diens verrig moet word, soos deur die Skrif getoon. Hulle het besef dat die Bybel nie voorsiening maak vir ’n getitelde geestelikeklas wat vir ’n lekeklas preek nie. Broer Russell was vasbeslote dat daar geen geestelikeklas onder hulle sou wees nie.a Deur middel van Die Wagtoring is lesers dikwels daaraan herinner dat Jesus vir sy volgelinge gesê het: “Een is julle leermeester: Christus”, maar “julle is almal broeders”.—Matt. 23:8, 10.

Vroeë broederskap van die Bybelstudente

Lesers van Die Wagtoring en verwante publikasies het spoedig gesien dat as hulle God wil behaag hulle alle bande moet verbreek met enige kerk wat ontrou aan God is deur geloofsbelydenisse en tradisies van mense voor sy geskrewe Woord te stel (2 Kor. 6:14-18). Maar waarheen moes hulle gaan nadat hulle hulle aan die kerke van die Christendom onttrek het?

In ’n artikel met die titel “Die ekklesia”b het broer Russell daarop gewys dat die ware kerk, die Christengemeente, nie ’n organisasie is met lede wat die een of ander mensgemaakte geloofsbelydenis onderskryf en hulle naam in ’n kerkregister laat opteken nie. Hy het verduidelik dat dit eerder bestaan uit mense wat hulle tyd, talente en lewe aan God “toegewy” het en wat die vooruitsig het om saam met Christus deel aan die hemelse Koninkryk te hê. Hy het gesê dat dit Christene is wat verenig is in bande van Christelike liefde en dieselfde belange, wat op die leiding van God se gees reageer en wat hulle aan Christus se hoofskap onderwerp. Broer Russell het nie daarin belanggestel om enige ander reëling in te stel nie, en hy wou hoegenaamd nie bydra tot die sektegees wat onder naamchristene bestaan nie.

Hy het terselfdertyd goed besef hoe belangrik dit is dat die Here se knegte, in ooreenstemming met die raad in Hebreërs 10:23-25, bymekaarkom. Hy het persoonlik gereis om lesers van Die Wagtoring te besoek en op te bou en hulle met ander eendersdenkendes in hulle eie gebied byeen te bring. Vroeg in 1881 het hy gevra dat diegene wat gereeld vergaderinge hou die Wagtoringkantoor in kennis stel van waar dit gehou word. Hy het besef hoe belangrik dit is dat hulle met mekaar in aanraking bly.

Broer Russell het egter beklemtoon dat hulle nie ’n “aardse organisasie” probeer oprig nie. Nee, het hy gesê, “ons hang slegs daardie hemelse organisasie aan—‘waarvan die name in die hemele opgeskrywe is’ (Hebr. 12:23; Luk. 10:20)”. Vanweë die Christendom se veragtelike verlede het die woord “kerkorganisasie” mense gewoonlik laat dink aan ’n sektegees, oorheersing deur die geestelikes asook lidmaatskap op grond van die aanvaarding van ’n geloofsbelydenis wat deur ’n godsdienskonsilie geformuleer is. Broer Russell het dus gemeen dat dit beter is om die woord “broederskap” te gebruik wanneer hulle van hulleself praat.

Hy was deeglik daarvan bewus dat Christus se apostels gemeentes gestig en in elke gemeente ouere manne aangestel het. Maar hy het geglo dat Christus weer teenwoordig is, hoewel op onsigbare wyse, en dat hy self die finale oes rig van diegene wat erfgename saam met hom sou wees. Met die oog op die omstandighede het broer Russell aanvanklik gemeen dat die reëling vir ouere manne wat in die eerste-eeuse Christengemeentes bestaan het nie gedurende die oestyd nodig is nie.

Namate die Bybelstudente se getalle egter toegeneem het, het broer Russell besef dat die Here sake anders rig as wat hy verwag het. ’n Verandering van beskouing was nodig. Maar op grond waarvan?

Daar word in die vroeë behoeftes van die groeiende broederskap voorsien

Die Wagtoring (Engelse uitgawe) van 15 November 1895 is byna in sy geheel gewy aan die onderwerp “Welvoeglik en ordelik”. Broer Russell het daar openhartig erken: “Die apostels het baie vir die vroeë Kerk gesê oor orde in die vergaderinge van die heiliges; en ons was blykbaar taamlik nalatig in die toepassing van hierdie wyse raad, daar ons gemeen het dat dit nie so belangrik is nie omdat die Kerk so na aan die einde van sy loopbaan is en die oes ’n skeidingstyd is.” Wat het hulle opnuut na daardie raad laat kyk?

Daardie artikel het vier situasies genoem: (1) Dit was duidelik dat mense se geestelike ontwikkeling verskil het. Daar was versoekings, beproewings, probleme en gevare, en nie almal was ewe voorbereid om hierdie dinge die hoof te bied nie. Daar was dus ’n behoefte aan verstandige en oordeelkundige opsieners, manne met ondervinding en kundigheid wat opreg daarin belanggestel het om na die geestelike welsyn van almal om te sien en wat hulle in die waarheid kon onderrig. (2) Daar is gesien dat die kudde teen ‘wolwe in skaapsklere’ beskerm moes word (Matt. 7:15). Hulle moes versterk word deur gehelp te word om grondige kennis van die waarheid op te doen. (3) Die ondervinding het getoon dat sommige, indien daar nie ’n reëling was vir die aanstelling van ouere manne om die kudde te beskerm nie, daardie posisie sou neem en die kudde as hulle eiendom sou begin beskou. (4) Sonder ’n ordelike reëling sou party wat lojaal aan die waarheid was miskien gevind het dat hulle dienste nie nodig was nie weens die invloed van ’n paar wat met hulle van mening verskil het.

In die lig hiervan het Die Wagtoring gesê: “Ons beveel sonder huiwering by die Kerkec op alle plekke, of hulle getalle nou klein of groot is, die Apostoliese raad aan dat ouere manne in elke groep gekies moet word om die kudde te ‘versorg’ en ‘opsieners’ van die kudde te wees” (Hand. 14:21-23; 20:17, 28). Die plaaslike gemeentes het hierdie goeie skriftuurlike raad gevolg. Dit was ’n belangrike stap in die vorming van ’n gemeentelike struktuur in ooreenstemming met wat in die dae van die apostels bestaan het.

In ooreenstemming met hulle destydse begrip is ouere manne, en diakens om hulle te help, egter deur middel van ’n gemeentelike stemming verkies. Elke jaar, of meer dikwels indien nodig, is daar gekyk na die kwalifikasies van diegene wat moontlik as sodanig kon dien, en dan is daar gestem. Dit was basies ’n demokratiese prosedure, maar ’n prosedure met bepaalde beperkinge wat as beskerming gedien het. Almal in die gemeente is aangespoor om die Bybelse vereistes sorgvuldig te hersien en dan deur middel van ’n stemming nie hulle eie opinie nie, maar wat hulle glo die wil van die Here is, weer te gee. Aangesien net diegene kon stem wat “ten volle toegewy” was, is hulle gesamentlike stemming, wanneer dit deur die Woord en gees van die Here gerig is, as die Here se wil in die saak beskou. Hoewel broer Russell dit moontlik nie ten volle besef het nie, is sy aanbeveling van hierdie reëling miskien in sekere mate nie net beïnvloed deur die feit dat hy vasbeslote was om enige sweem van ’n verhewe geestelikeklas te vermy nie, maar ook deur sy eie agtergrond as ’n tiener in die Kongregasionalistiese Kerk.

Toe die Millennial Dawn se deel met die titel The New Creation (wat in 1904 verskyn het) die rol van ouere manne en die manier waarop hulle gekies moet word weer in besonderhede bespreek het, is die aandag veral op Handelinge 14:23 gevestig. Konkordansies wat deur James Strong en Robert Young saamgestel is, is aangehaal as gesaghebbende bronne ter stawing van die beskouing dat die verklaring “hulle het hulle as ouderlinge georden” (KJ), vertaal moet word as “hulle het hulle as ouderlinge gekies deur die opsteek van hande”.d Sommige Bybelvertalings sê selfs dat die ouere manne ‘deur stemming aangestel is’ (Young se Literal Translation of the Holy Bible; Rotherham se Emphasised Bible). Maar wie moes stem?

Die beskouing dat die stemming deur die hele gemeente gedoen moet word, het nie altyd die verwagte resultate gelewer nie. Diegene wat gestem het, moes “ten volle toegewy” wees, en party wat verkies is, het waarlik aan die skriftuurlike vereistes voldoen en hulle broers nederig gedien. Maar die stemming het dikwels persoonlike voorkeur pleks van God se Woord en gees weerspieël. Gevolglik het sommige in Halle, Duitsland, wat gedink het dat hulle ouere manne moet wees en nie die posisies gekry het wat hulle wou hê nie, ernstige tweedrag gesaai. In Barmen, Duitsland, was daar in 1927 onder die kandidate mense wat teen die Genootskap se werk gekant was, en daar was tydens verkiesingstyd heelwat skreeuery wanneer die hande opgesteek is. Dit was dus nodig om oor te slaan na geheime stemming.

Broer Russell het reeds in 1916, jare voor hierdie insidente, met groot besorgdheid geskryf: “’n Verskriklike toedrag van sake heers in sommige Klasse wanneer ’n verkiesing gehou gaan word. Die knegte van die Kerk probeer om heersers, diktators, te wees—en blykbaar gebruik hulle soms selfs hulle posisie as voorsitter van die vergadering om te sorg dat hulle en hulle spesiale vriende as Ouere manne en Diakens gekies word. . . . Sommige probeer stilletjies om van die Klas misbruik te maak deur die verkiesing te hou wanneer dit veral vir hulle en hulle vriende gunstig is. Ander stop die vergadering vol met hulle vriende en bring betreklike vreemdelinge in wat glad nie daarin belangstel om die Klas gereeld by te woon nie, maar wat bloot uit vriendskap kom om vir een van hulle vriende te stem.”

Moes hulle maar net leer hoe om demokratiese verkiesings gladder te laat verloop of was daar iets in God se Woord wat hulle nog nie onderskei het nie?

Organisering om die goeie nuus te verkondig

Broer Russell het op ’n baie vroeë tydstip besef dat die evangelisasiewerk een van die belangrikste verantwoordelikhede van elke lid van die Christengemeente is (1 Pet. 2:9). Die Wagtoring het verduidelik dat die profetiese woorde van Jesaja 61:1 nie net op Jesus nie, maar op al sy geesgesalfde volgelinge van toepassing is: ‘Die HERE het my gesalf om ’n blye boodskap te bring’, of, soos die King James Version Jesus se aanhaling van hierdie gedeelte weergee: “Hy het my gesalf om die evangelie te verkondig.”—Luk. 4:18.

Die artikel “Benodig: 1 000 predikers” het reeds in 1881 in Die Wagtoring (Engelse uitgawe) verskyn. Dit was ’n oproep wat tot elke gemeentelid gerig is om soveel tyd moontlik (’n halfuur, ’n uur of twee of drie) daaraan te bestee om Bybelwaarheid bekend te maak. Mans en vroue wat geen afhanklikes gehad het nie en wat die helfte of meer van hulle tyd uitsluitlik aan die Here se werk kon wy, is aangemoedig om as kolporteurevangeliste te werk. Die aantal kolporteurs het van jaar tot jaar heelwat gewissel, maar teen 1885 was daar reeds ongeveer 300 wat die kolporteurwerk gedoen het. Party ander het ook daaraan deel gehad, maar in ’n meer beperkte mate. Die kolporteurs is wenke gegee oor hoe om hulle werk te doen. Maar die veld was ontsaglik groot, en hulle het, ten minste aan die begin, hulle eie gebied gekies en hoofsaaklik self besluit wanneer dit die beste is om van een gebied na ’n ander te verskuif. Wanneer hulle dan by byeenkomste bymekaargekom het, het hulle die nodige aanpassings gemaak om hulle pogings te koördineer.

Dieselfde jaar toe daar met die kolporteurdiens begin is, het broer Russell ’n aantal traktate (of boekies) vir gratis verspreiding laat druk. Een wat uitsonderlik was, was Food for Thinking Christians, waarvan daar in die eerste vier maande 1 200 000 eksemplare versprei is. Daar was soveel werk by die druk en verspreiding hiervan betrokke dat die Zion’s Watch Tower Tract Society gestig is sodat daar na die nodige besonderhede omgesien kon word. Om ontwrigting van die werk te keer ingeval hy sterf en om die hantering van bydraes wat vir die werk gebruik moes word, te vergemaklik, het broer Russell om die wetlike registrasie van die Genootskap aansoek gedoen, en dit is op 15 Desember 1884 amptelik geregistreer. Sodoende is ’n noodsaaklike regsliggaam in aansyn geroep.

Wanneer daar ’n behoefte daaraan ontstaan het, is takkantore van die Wagtoringgenootskap in ander lande gestig. Die eerste een is op 23 April 1900 in Londen, Engeland, geopen. Nog een is in 1902 in Elberfeld, Duitsland, geopen. Twee jaar later is daar aan die ander kant van die aardbol in Melbourne, Australië, reëlings vir ’n takkantoor getref. Toe hierdie boek geskryf is, was daar 99 takkantore wêreldwyd.

Hoewel daar vordering gemaak is met die organisatoriese reëlings vir die verskaffing van groot hoeveelhede Bybellektuur moes die gemeentes aanvanklik plaaslik reëlings tref vir die verspreiding van daardie materiaal onder die publiek. Broer Russell het in ’n brief met die datum 16 Maart 1900 gesê hoe hy oor die saak voel. Daardie brief, wat aan “Alexander M. Graham en die Kerk in Boston, Mass.” gerig was, het gesê: “Soos julle almal weet, is dit my vaste voorneme om elke groep van die Here se volk hulle eie sake volgens hulle eie oordeel te laat behartig, en ek sal voorstelle doen, nie omdat ek wil inmeng nie, maar bloot om hulle van raad te bedien.” Dit het nie net vir hulle vergaderinge gegeld nie, maar ook vir die manier waarop hulle aan die veldbediening deelgeneem het. Nadat hy vir die broers ’n bietjie praktiese raad gegee het, het hy dus met hierdie kommentaar afgesluit: “Dit is net ’n voorstel.”

Sommige bedrywighede het vereis dat die Genootskap meer spesifieke riglyne verskaf. Wat die vertoning van die “Fotodrama van die Skepping” betref, kon elke gemeente besluit of hulle ’n teater of ander plek wou en kon huur om dit plaaslik te vertoon. Dit was egter nodig om toerusting van die een stad na die ander te vervoer en dit betyds daar te kry; die Genootskap het dus in hierdie aangeleenthede die leiding gegee. Elke gemeente is aangemoedig om ’n Dramakomitee te hê wat na die plaaslike reëlings kon omsien. Maar ’n superintendent wat deur die Genootskap uitgestuur is, het sorgvuldige aandag aan die besonderhede geskenk om te verseker dat alles glad verloop.

Namate 1914 en toe 1915 verstryk het, het daardie geesgesalfde Christene gretig op die verwesenliking van hulle hemelse hoop gewag. Hulle is terselfdertyd aangemoedig om in die Here se diens besig te bly. Hoewel hulle gedink het dat hulle nog net ’n baie kort tydjie in die vlees sou wees, het dit duidelik geword dat meer leiding nodig was om die verkondiging van die goeie nuus ordelik te doen as toe hulle net ’n paar honderd was. Kort nadat J. F. Rutherford die tweede president van die Wagtoringgenootskap geword het, het daardie leiding nuwe aspekte begin insluit. Die Wagtoring (Engelse uitgawe) van 1 Maart 1917 het aangekondig dat die Genootskap se kantoor voortaan alle gebied sou toewys wat deur kolporteurs en pastorale werkerse in die gemeentes gedek moes word. Waar plaaslike werkers sowel as kolporteurs in ’n stad of distrik aan hierdie velddiens deelgeneem het, is die gebied deur ’n plaaslik aangestelde streekkomitee onder hulle verdeel. Hierdie reëling het daartoe bygedra dat ’n waarlik merkwaardige aantal eksemplare van The Finished Mystery in 1917-18 in net ’n paar maande versprei is. Dit het ook baie gehelp met ’n blitsverspreiding van 10 000 000 eksemplare van ’n traktaat oor die onderwerp “Die val van Babilon”, waarin die Christendom op ’n kragtige wyse aan die kaak gestel is.

Kort hierna is lede van die Genootskap se administratiewe personeel in hegtenis geneem, en hulle is op 21 Junie 1918 tot 20 jaar gevangenisstraf gevonnis. Die verkondiging van die goeie nuus het byna tot stilstand gekom. Sou hulle nou eindelik met die Here in hemelse heerlikheid verenig word?

Die oorlog het ’n paar maande later geëindig. Die Genootskap se amptenare is die volgende jaar vrygelaat. Hulle was nog steeds in die vlees. Dit was nie wat hulle verwag het nie, maar hulle het tot die slotsom gekom dat God nog werk vir hulle hier op die aarde het.

Hulle het kort tevore strawwe toetse van hulle geloof ondergaan. Maar in 1919 het Die Wagtoring (Engelse uitgawe) hulle versterk met besielende skriftuurlike studies met die tema: “Geseënd is die onverskrokkenes.” Dit is gevolg deur die artikel “Diensgeleenthede”. Maar die broers het nie die uitgebreide organisatoriese ontwikkelings verwag wat gedurende die daaropvolgende dekades sou plaasvind nie.

Die regte voorbeeld vir die kudde

Broer Rutherford het besef dat, ongeag hoe kort die tyd dalk is, dit noodsaaklik is dat die regte voorbeeld vir die kudde gestel word sodat die werk op ’n ordelike en verenigde wyse kon voortgaan. Jesus het sy volgelinge as skape beskryf, en skape volg hulle herder. Jesus self is natuurlik die Goeie Herder, maar hy gebruik ook ouere manne as onderherders van sy volk (1 Pet. 5:1-3). Daardie ouere manne moet self deelneem aan die werk wat Jesus gegee het en moet ander aanspoor om dit te doen. Hulle moet waarlik die evangelisasiegees hê. Terwyl The Finished Mystery versprei is, het van die ouere manne egter nie daardie werk gedoen nie; party het ander selfs sterk ontmoedig om dit te doen.

’n Baie belangrike stap om die situasie reg te stel, is in 1919 gedoen toe daar begin is met die publisering van die tydskrif The Golden Age. Dit sou ’n kragtige instrument word om die Koninkryk van God te verkondig as die enigste blywende oplossing vir die mensdom se probleme. Elke gemeente wat graag aan hierdie werk wou deelneem, is genooi om die Genootskap te vra om hulle as ’n “diensorganisasie” te registreer. Daarna is ’n leier, of diensleier soos hy later bekend geword het, wat nie deur die jaarlikse stemming geraak is nie, deur die Genootskap aangestel.f As die Genootskap se plaaslike verteenwoordiger moes hy die werk organiseer, gebied aanwys en die gemeente aanmoedig om velddiens te doen. Benewens die demokraties gekose ouere manne en diakens het daar dus ’n ander soort organisatoriese reëling in werking getree, ’n reëling wat aangestelde gesag buite die plaaslike gemeente erken het en groter klem op die verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk gelê het.g

Gedurende die daaropvolgende jare het die Koninkryksverkondigingswerk ’n geweldige stoot gekry, asof deur ’n onstuitbare krag. Die gebeure in 1914 en daarna het dit duidelik laat blyk dat die groot profesie waarin die Here Jesus Christus die voleinding van die ou stelsel beskryf het, besig was om in vervulling te gaan. In die lig hiervan het Die Wagtoring in 1920 gesê dat dit nou die tyd was om, soos Mattheüs 24:14 voorspel het, die goeie nuus oor “die einde van die ou orde van dinge en die oprigting van die Messias se koninkryk” te verkondigh (Matt. 24:3-14). Nadat hulle in 1922 die Bybelstudente-byeenkoms in Cedar Point, Ohio, bygewoon het, het die byeenkomsgangers die byeenkoms verlaat met hierdie slagspreuk wat in hulle ore weerklink het: “Adverteer, adverteer, adverteer die Koning en sy koninkryk.” Die rol van ware Christene is in 1931 selfs duideliker onderskei toe die naam Jehovah se Getuies aangeneem is.

Dit was duidelik dat Jehovah sy knegte ’n werk gegee het waaraan hulle almal kon deelneem. Hulle het met geesdrif gereageer. Talle het groot veranderinge in hulle lewe aangebring om voltyds aan hierdie werk deel te neem. Selfs onder diegene wat hierdie werk net deeltyds gedoen het, was daar baie wat oor naweke volle dae in die velddiens deurgebring het. Baie van Jehovah se Getuies wat gereageer het op aanmoediging wat in 1938 en 1939 in Die Wagtoring en die Voorligter gegee is, het destyds pligsgetrou probeer om elke maand 60 uur aan die velddiens te wy.

Onder daardie ywerige Getuies was daar talle nederige, toegewyde knegte van Jehovah wat ouere manne in die gemeentes was. Maar daar was gedurende die twintiger- en vroeë dertigerjare op sommige plekke ook heelwat teenkanting teen die idee dat almal velddiens moet doen. Demokraties verkose ouere manne was dikwels heel uitgesproke oor die feit dat hulle nie saamgestem het met wat Die Wagtoring gesê het oor die verantwoordelikheid om vir mense buite die gemeente te preek nie. Die weiering om te luister na wat God se gees deur middel van die Heilige Skrif vir die gemeente oor hierdie saak gesê het, het die vloei van God se gees in daardie groepe belemmer.—Openb. 2:5, 7.

Stappe is in 1932 gedoen om hierdie situasie reg te stel. Die belangrikste saak was nie of party prominente ouere manne aanstoot sou neem en of party wat met die gemeentes omgegaan het hulle dalk daaraan sou onttrek nie. Dit was eerder die broers se begeerte om Jehovah te behaag en sy wil te doen. Daarom het Die Wagtoring se (Engelse) nommers van 15 Augustus en 1 September spesiale aandag aan die onderwerp “Jehovah se organisasie” geskenk.

Daardie artikels het pertinent daarop gewys dat almal wat werklik deel van Jehovah se organisasie uitmaak die werk sou doen wat sy Woord gesê het gedurende hierdie tyd gedoen moet word. Die artikels het die beskouing voorgestaan dat ’n Christen se oueremanskap nie ’n amp is waarvoor ’n mens verkies kon word nie, maar ’n staat wat deur geestelike groei bereik word. Spesiale klem is gelê op Jesus se gebed dat sy volgelinge “almal een mag wees”—verenig met God en Christus en dus verenig met mekaar in die uitvoering van God se wil (Joh. 17:21). En wat sou die resultaat wees? Die tweede artikel het geantwoord dat “elke lid van die oorblyfsel ’n getuie vir die naam en koninkryk van Jehovah God moet wees”. Niemand wat versuim of geweier het om te doen wat hy redelikerwyse kon doen om aan die openbare getuieniswerk deel te neem, moes die werk van opsiener toevertrou word nie.

Gemeentes is aan die einde van die studie van hierdie artikels genooi om ’n resolusie aan te neem wat sou toon dat hulle daarmee saamstem. Die jaarlikse gemeentelike verkiesing van manne as ouere manne en diakens is dus stopgesit. In Belfast, Noord-Ierland, soos op ander plekke, het van die voormalige “gekose ouere manne” die gemeente verlaat; ander wat hulle beskouing gedeel het, het saam met hulle gegaan. Dit het veroorsaak dat die geledere uitgedun, maar die hele organisasie versterk is. Diegene wat oorgebly het, was bereid om die Christelike verantwoordelikheid van die getuieniswerk op hulle te neem. Pleks van vir ouere manne te stem, het die gemeentes—steeds deur demokratiese metodes—’n dienskomiteei gekies wat bestaan het uit geestelike ryp manne wat daadwerklik aan die openbare getuieniswerk deelgeneem het. Die gemeentelede het ook deur stemming ’n voorsitter gekies om hulle vergaderinge te lei, asook ’n sekretaris en ’n tesourier. Al hierdie manne was bedrywige getuies van Jehovah.

Aangesien diegene wat nou toesig oor die gemeentes gehou het manne was wat nie in persoonlike status belanggestel het nie, maar in die doen van God se werk—om vir sy naam en Koninkryk te getuig—en wat ’n goeie voorbeeld gestel het deur self daaraan deel te neem, het die werk nou gladder verloop. Hoewel hulle dit destyds nie geweet het nie, was daar baie om te doen—’n meer uitgebreide getuienis as wat reeds gegee is, ’n insameling wat hulle nie verwag het nie (Jes. 55:5). Jehovah het hulle klaarblyklik daarvoor voorberei.

’n Paar wat die hoop gekoester het om vir ewig op die aarde te lewe, het met hulle begin omgaan.j Maar die Bybel het voorspel dat ’n groot menigte ingesamel sou word wat deur die komende groot verdrukking behoue sou bly (Openb. 7:9-14). Daar is in 1935 verduidelik wie hierdie groot menigte is. Die veranderinge gedurende die dertigerjare ten opsigte van die verkiesing van opsieners het die organisasie beter toegerus om na die insameling, onderrigting en opleiding van die groot menigte om te sien.

Die meeste van Jehovah se Getuies was verheug oor hierdie uitbreiding van die werk. Hulle veldbediening het vir hulle ’n nuwe betekenis aangeneem. Maar sommige was nie gretig om te preek nie. Hulle het nie aan die werk deelgeneem nie, en hulle het hulle onbedrywigheid probeer regverdig deur te sê dat daar eers ná Armageddon ’n groot menigte ingesamel sou word. Maar die meeste het dit as ’n nuwe geleentheid beskou om hulle lojaliteit teenoor Jehovah en hulle liefde vir hulle medemens te toon.

Hoe het die lede van die groot menigte in die organisasie se struktuur ingepas? Daar is vir hulle getoon watter rol die “klein kuddetjie” geesgesalfdes volgens God se Woord moet speel, en hulle het met graagte in ooreenstemming met daardie reëling gewerk (Luk. 12:32-44). Hulle het ook geleer dat hulle, soos die geesgesalfdes, die verantwoordelikheid het om die goeie nuus aan ander te verkondig (Openb. 22:17). Aangesien hulle aardse onderdane van God se Koninkryk wou wees, moes daardie Koninkryk die belangrikste plek in hulle lewe inneem en moes hulle dit ywerig aan ander verkondig. As hulle wou pas in die Bybel se beskrywing van diegene wat deur die groot verdrukking heen tot in God se nuwe wêreld behoue sal bly, moes hulle mense wees wat ‘met ’n groot stem roep en sê: Heil aan onse God wat op die troon sit, en aan die Lam!’ (Openb. 7:10, 14). In 1937, toe hulle getalle begin toeneem en hulle ywer vir die Here duidelik begin blyk het, is hulle ook genooi om die verantwoordelikheidslas ten opsigte van gemeentelike toesig te help dra.

Hulle is egter daaraan herinner dat dit Jehovah se organisasie is en nie dié van ’n mens nie. Daar moes geen skeiding tussen die oorblyfsel geesgesalfdes en die groot menigte ander skape wees nie. Hulle moes as broers en susters in Jehovah se diens saamwerk. Soos Jesus gesê het: “Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder” (Joh. 10:16). Dit het begin duidelik word dat dit wel die geval is.

Daar het in ’n betreklik kort tydjie verbasende dinge in die organisasie gebeur. Maar was daar meer wat gedoen moes word sodat gemeentelike sake in volle ooreenstemming met Jehovah se weë behartig sou word soos dit in sy geïnspireerde Woord uiteengesit is?

Teokratiese organisasie

“Teokrasie” beteken “heerskappy deur God”. Was dit die soort heerskappy wat die gemeentes gerig het? Het hulle Jehovah nie net aanbid nie, maar ook op hom vertrou vir leiding in gemeentelike sake? Het hulle hulle ten volle geskik na wat hy oor hierdie aangeleenthede in sy geïnspireerde Woord sê? Die artikel “Organisasie” wat in twee dele in Die Wagtoring (Engelse uitgawe) van 1 en 15 Junie 1938 verskyn het, het gepas gesê: “Jehovah se organisasie is geensins demokraties nie. Jehovah is die Allerhoogste, en sy regering of organisasie is streng teokraties.” Tog is demokratiese prosedure destyds nog in die plaaslike gemeentes van Jehovah se Getuies gebruik om die meeste van dié te kies wat die leiding tydens vergaderinge en die velddiens geneem het. Nog veranderinge sou aangebring moes word.

Maar het Handelinge 14:23 dan nie getoon dat ouere manne in die gemeentes vir hulle amp aangewys moes word deur die ‘uitstrek van die hand’, soos wanneer ’n mens stem nie? Die eerste van daardie Wagtoring-artikels met die titel “Organisasie” het erken dat hierdie teks in die verlede misverstaan is. Aanstellings onder die eerste-eeuse Christene is nie deur die ‘uitstrek van die hand’ deur al die gemeentelede gedoen nie. Daar is gewys dat dit eerder die apostels en dié aan wie hulle die magtiging verleen het, was wat ‘hulle hande uitgestrek het’. Dit is nie gedoen deur ’n gemeentelike stemming te hou nie, maar deur bekwame persone die hande op te lê. Dit was ’n simbool van bevestiging, goedkeuring of aanstelling.k Die vroeë Christengemeentes het soms bekwame manne aanbeveel, maar die apostels, wat regstreeks deur Christus gemagtig is, of diegene aan wie die apostels magtiging verleen het, het die finale keuse gedoen of goedkeuring gegee (Hand. 6:1-6). Die Wagtoring het die aandag gevestig op die feit dat die apostel Paulus, onder leiding van die heilige gees, net in briewe wat aan verantwoordelike opsieners (Timotheüs en Titus) gerig was, opdrag gegee het dat opsieners aangestel word (1 Tim. 3:1-13; 5:22; Tit. 1:5). Nie een van die geïnspireerde briewe wat aan die gemeentes gerig is, het sulke opdragte bevat nie.

Hoe moes aanstellings in diensposisies in die gemeentes nou gedoen word? Die Wagtoring se ontleding van teokratiese organisasie het uit die Skrif getoon dat Jehovah Jesus Christus as “die Hoof van die . . . gemeente” aangestel het; dat Christus by sy terugkeer as die Heer aan sy “getroue en verstandige dienskneg” die verantwoordelikheid “oor al sy besittings” sou toevertrou; dat hierdie getroue en verstandige dienskneg bestaan het uit almal op die aarde wat met die heilige gees gesalf is om mede-erfgename saam met Christus te wees en wat verenig onder sy leiding dien; en dat Christus daardie diensknegklas sou gebruik as sy werktuig om die nodige toesig oor die gemeentes te hou (Kol. 1:18; Matt. 24:45-47; 28:18). Dit sou die diensknegklas se plig wees om die instruksies wat duidelik in God se geïnspireerde Woord uiteengesit is biddend toe te pas en dit te gebruik om te bepaal wie vir diensposisies kwalifiseer.

Aangesien die getroue en verstandige dienskneg die sigbare werktuig is wat deur Christus gebruik sou word (en die feite oor die hedendaagse geskiedenis wat reeds bespreek is, toon dat hierdie “dienskneg” die Wagtoringgenootskap as ’n regsinstrument gebruik), het Die Wagtoring verduidelik dat teokratiese prosedure sou vereis dat diensaanstellings deur hierdie werktuig gedoen word. Net soos die gemeentes in die eerste eeu die bestuursliggaam in Jerusalem erken het, sal die hedendaagse gemeentes ook nie sonder sentrale toesig geestelik floreer nie.—Hand. 15:2-30; 16:4, 5.

Maar om die regte perspektief van sake te behou, is daar getoon dat wanneer Die Wagtoring van “Die Genootskap” praat dit nie net ’n blote regsmiddel bedoel nie, maar die liggaam van gesalfde Christene wat daardie regsentiteit gestig het en gebruik. Die uitdrukking het dus die getroue en verstandige dienskneg en sy Bestuursliggaam beteken.

Selfs voor die Wagtoring-artikels met die titel “Organisasie” in 1938 verskyn het, het die gemeentes in Londen, New York, Chicago en Los Angeles, toe hulle so groot geword het dat dit raadsaam was om hulle in kleiner groepe te verdeel, gevra dat die Genootskap al hulle knegte aanstel. Die Wagtoring (Engelse uitgawe) van 15 Junie 1938 het toe alle ander gemeentes genooi om dieselfde te doen. Die volgende resolusie is vir daardie doel aan die hand gedoen:

“Ons, die . . . . . . . . . . . . -groep van God se volk wat vir sy naam uitgekies is, erken dat God se regering ’n suiwer teokrasie is en dat Christus Jesus by die tempel is en in volle beheer van Jehovah se sigbare, sowel as onsigbare, organisasie is, en dat ‘DIE GENOOTSKAP’ die sigbare verteenwoordiger van die Here op die aarde is, en ons vra ‘Die Genootskap’ dus om hierdie groep vir diens te organiseer en om die verskillende knegte daarvan aan te stel sodat ons almal in vrede, regverdigheid, harmonie en algehele eenheid kan saamwerk. Ons sluit hierby ’n lys name in van persone in hierdie groep wat volgens ons ryper is en wat dus blykbaar die geskikste is om die onderskeie diensposisies te vul.”l

Byna al die gemeentes van Jehovah se Getuies het geredelik hiertoe ingestem. Die paar wat dit nie gedoen het nie, het spoedig opgehou om die Koninkryk te verkondig en het dus opgehou om Jehovah se Getuies te wees.

Voordele van teokratiese leiding

Dit is vanselfsprekend dat die organisasie weldra sy identiteit en eenheid sou verloor as besluite ten opsigte van leerstellings, gedragstandaarde en organisatoriese of getuienisprosedure plaaslik geneem kon word. Die broers sou maklik deur sosiale, kulturele en nasionale verskille verdeel kon word. Teokratiese leiding sou andersyds verseker dat die voordele van geestelike vooruitgang onbelemmerd na al die gemeentes wêreldwyd sou versprei. Dan sou die ware eenheid bestaan wat Jesus gebid het onder sy ware volgelinge moet heers, en die evangelisasiewerk wat hy beveel het gedoen moet word, sou volbring kon word.—Joh. 17:20-22.

Sommige het egter beweer dat J. F. Rutherford hierdie organisatoriese verandering voorgestaan het bloot om groter beheer oor die Getuies te probeer verkry en dat hy dit gebruik het om sy eie gesag te laat geld. Was dit werklik die geval? Broer Rutherford was ongetwyfeld ’n man van sterk oortuiging. Hy het kragtig en beginselvas opgekom vir wat hy geglo het die waarheid is. Hy kon taamlik kortaf wees in situasies waar hy gesien het dat mense meer besorg oor hulleself as oor die Here se werk was. Maar broer Rutherford was opreg nederig voor God. Karl Klein, wat in 1974 ’n lid van die Bestuursliggaam geword het, het later geskryf: “Broer Rutherford se gebede by die oggenddiens . . . het hom gelief gemaak by my. Hy het ’n baie sterk stem gehad, maar wanneer hy met God gepraat het, het hy soos ’n klein seuntjie geklink wat met sy pa praat. Wat ’n goeie verhouding met Jehovah het dit tog geopenbaar!” Broer Rutherford was vas oortuig van die identiteit van Jehovah se sigbare organisasie, en hy het probeer verseker dat geen mens of groep mense die plaaslike broers sou kon verhinder om ten volle baat te vind by die geestelike voedsel en leiding wat Jehovah aan Sy knegte voorsien nie.

Hoewel broer Rutherford 25 jaar lank as president van die Wagtoringgenootskap gedien het en al sy kragte ingespan het om die organisasie se werk te bevorder, was hy nie die leier van Jehovah se Getuies nie, en hy wou dit ook nie wees nie. Hy het in 1941, kort voor sy dood, by ’n byeenkoms in St. Louis, Missouri, oor die kwessie van leierskap gepraat en gesê: “Ek wil enige vreemdelinge hier vertel wat julle van ’n mens as julle leier dink sodat hulle dit nie sal vergeet nie. Telkens wanneer iets ontstaan en begin groei, sê hulle dat die een of ander mens ’n leier is met baie volgelinge. As daar enigiemand in hierdie gehoor is wat dink dat ek, hierdie man wat hier staan, die leier van Jehovah se Getuies is, sê Ja.” Die reaksie was ’n indrukwekkende stilte wat net deur ’n uitdruklike “Nee” van etlike mense in die gehoor verbreek is. Die spreker het voorts gesê: “As julle wat hier is, glo dat ek maar net een van die Here se knegte is en ons verenig skouer aan skouer werk terwyl ons God en Christus dien, sê Ja.” Die byeenkomsgangers het eenparig ’n besliste “Ja!” uitgebulder. ’n Gehoor in Engeland het die volgende maand presies dieselfde gereageer.

Die voordele van teokratiese organisasie is in sommige gebiede gou ervaar. Op ander plekke het dit langer geduur; diegene wat nie ryp, nederige knegte was nie, is mettertyd uit hulle amp verwyder en ander is aangestel.

Namate teokratiese prosedure meer gevestig geraak het, het Jehovah se Getuies hulle nietemin verheug toe hulle begin ondervind wat in Jesaja 60:17 voorspel is. Jehovah gebruik figuurlike taal om die beter toestande te beskryf wat onder God se knegte sou ontstaan en sê daar: “Vir koper bring Ek goud en vir yster bring Ek silwer, en vir hout koper en vir klippe yster; en Ek sal Vrede as jou owerheid aanstel en Geregtigheid as jou bestuurders.” Dit beskryf nie wat mense sou doen nie, maar eerder wat God self sou doen en hoe dit sy knegte tot nut sou strek as hulle hulle daaraan onderwerp. Daar moet vrede in hulle midde heers. Liefde vir geregtigheid moet die dryfkrag agter hulle diens wees.

Uit Brasilië het Maud Yuille, die vrou van die takopsiener, aan broer Rutherford geskryf: “Die artikel ‘Organisasie’ in [Die Wagtorings (Engelse uitgawe)] van 1 en 15 Junie [1938] dwing my om in ’n paar woorde vir u, wie se getroue diens Jehovah gebruik, te sê hoe dankbaar ek teenoor Jehovah is vir die wonderlike reëling wat hy vir sy sigbare organisasie daargestel het, soos in hierdie twee Wagtorings uiteengesit is. . . . Wat ’n verligting is dit tog om die einde van selfbestuur in klein dorpies te sien, met inbegrip van ‘vroueregte’ en ander onskriftuurlike prosedures wat sommige aan plaaslike opinies en die oordeel van mense onderwerp het pleks van aan [Jehovah God en Jesus Christus], en sodoende oneer op Jehovah se naam gebring het. Die Genootskap het weliswaar maar ‘onlangs gesê dat almal in die organisasie “knegte” is’, maar ek sien dat u al baie jare voor daardie tyd in u korrespondensie met u broeders na uself verwys het as ‘julle broer en kneg, deur Sy genade’.”

Die takkantoor in die Britse Eilande het oor hierdie organisatoriese verandering gesê: “Dit is heel verbasend watter goeie uitwerking dit gehad het. Die poëtiese en profetiese beskrywing hiervan in Jesaja hoofstuk sestig is pragtig, maar nie oordrewe nie. Almal in die waarheid het daaroor gepraat. Dit was die vernaamste onderwerp van bespreking. Daar het ’n algemene gevoel van besieling geheers—’n bereidwilligheid om ywerig ’n positiewe stryd te voer. Namate wêreldspanning toegeneem het, het hulle oorgeloop van vreugde oor teokratiese heerskappy.”

Reisende opsieners versterk die gemeentes

Organisatoriese bande is verder versterk deur die diens van reisende opsieners. Die apostel Paulus het gedurende die eerste eeu op uitsonderlike wyse aan hierdie bedrywigheid deelgeneem. Manne soos Barnabas, Timotheüs en Titus het soms ook daaraan deelgeneem (Hand. 15:36; Filip. 2:19, 20; Tit. 1:4, 5). Hulle was almal ywerige evangeliedienaars. Daarbenewens het hulle die gemeentes deur hulle toesprake aangemoedig. Wanneer daar geskille ontstaan het wat die eenheid van die gemeentes kon aantas, is dit aan die sentrale bestuursliggaam voorgelê. Dan het diegene aan wie die verantwoordelikheid toevertrou is “op hulle reis deur die stede . . . die verordeninge wat deur die apostels en die ouderlinge in Jerusalem vasgestel was, aan hulle oorgegee om te onderhou”. Die gevolg? “Die gemeentes is versterk in die geloof en het elke dag vermeerder in getal.”—Hand. 15:1–16:5; 2 Kor. 11:28.

Broer Russell het reeds gedurende die 1870’s die groepe Bybelstudente besoek—die groepe van twee en drie asook die groter groepe—om hulle geestelik op te bou. Gedurende die 1880’s het ’n paar ander broers dit ook gedoen. In 1894 is daar toe reëlings getref dat die Genootskap op ’n gereelder grondslag bekwame sprekers uitstuur om die Bybelstudente te help om hulle kennis en waardering vir die waarheid te vergroot en hulle nader aan mekaar te bring.

Indien moontlik het die spreker ’n dag of soms ’n paar dae saam met ’n groep deurgebring en een of twee openbare toesprake gehou en dan kleiner groepe en individue besoek om van die dieper dinge van God se Woord met hulle te bespreek. ’n Poging is aangewend om elke groep in die Verenigde State en Kanada twee keer per jaar te laat besoek, hoewel dit gewoonlik nie deur dieselfde broer gedoen is nie. Wanneer hierdie reisende sprekers gekies is, is daar veral gelet op dinge soos sagmoedigheid, nederigheid en ’n duidelike begrip van die waarheid, en ook of hulle lojaal daarby gebly het en die vermoë gehad het om dit duidelik oor te dra. Dit was beslis nie ’n besoldigde leraarsamp nie. Die plaaslike broers het hulle bloot van kos en huisvesting voorsien, en die Genootskap het hulle sover dit nodig was met hulle reiskoste gehelp. Hulle het as pelgrims bekend geword.

Talle van hierdie reisende verteenwoordigers van die Genootskap was baie gelief onder diegene waar hulle gedien het. A. H. Macmillan, ’n Kanadees, word onthou as ’n broer vir wie God se Woord soos “’n brandende vuur” was (Jer. 20:9). Hy het ’n dwingende begeerte gehad om oor God se Woord te praat, en hy het ook. Hy het nie alleen in Kanada nie, maar ook in baie dele van die Verenigde State en in ander lande gehore toegespreek. William Hersee, nog ’n pelgrim, word met liefde onthou vir die spesiale aandag wat hy aan jongmense geskenk het. Sy gebede het ook ’n blywende indruk gemaak omdat hulle ’n diepe geestelikheid weerspieël het wat die harte van oud en jonk geraak het.

Dit was nie vir die pelgrims in die vroeë dae maklik om te reis nie. Om byvoorbeeld die groep naby Klamath Falls, Oregon, te bedien, moes Edward Brenisen eers ’n treinrit aflê, toe deur die nag met ’n poskoets ry en eindelik met ’n stampende perdekar die berge inry na die plaas waar hulle sou vergader. Die dag ná hulle vergadering het ’n broer vroegoggend vir hom ’n perd gegee om die sowat 100 kilometer na die naaste stasie toe te ry sodat hy na sy volgende toewysing kon reis. Dit was ’n veeleisende lewe, maar die pelgrims se pogings het goeie resultate gelewer. Jehovah se volk is versterk, in hulle begrip van God se Woord verenig en het nader aan mekaar gekom selfs al was hulle geografies wydverspreid.

Broer Rutherford het in 1926 begin om reëlings te implimenteer wat die pelgrims se werk verander het sodat hulle nie meer bloot reisende sprekers was nie, maar reisende toesighouers en bevorderaars van die velddiens wat deur die gemeentes gedoen is. Hulle is in 1928 ter beklemtoning van hulle nuwe verantwoordelikhede distriksdiensleiers genoem. Hulle het saam met die plaaslike broers gewerk en hulle persoonlik in die velddiens opgelei. Dit was in daardie stadium vir hulle moontlik om elke gemeente in die Verenigde State en in sommige ander lande ongeveer een keer per jaar te besoek, terwyl hulle ook in aanraking gebly het met individue en klein groepies wat nog nie vir die diens georganiseer was nie.

Die werk van die reisende opsieners het gedurende die daaropvolgende jare verskeie veranderinge ondergaan.a Hulle werk het in 1938 grootliks toegeneem toe al die knegte in die gemeentes teokraties aangestel is. Die feit dat die gemeentes gedurende die volgende paar jaar met gereelde tussenpose besoek is, het die reisende opsieners die geleentheid gegee om elke aangestelde kneg persoonlik op te lei en almal meer hulp in die velddiens te gee. In 1942 het die reisende opsieners, voordat hulle weer na die gemeentes gestuur is, intensiewe onderrig ontvang; gevolglik was daar groter eenvormigheid in hulle werk. Hulle besoeke was taamlik kort (een tot drie dae, na gelang van die grootte van die gemeente). Tydens so ’n besoek het hulle die gemeenteverslae nagegaan, saam met al die knegte vergader om die nodige raad te gee, een of meer toesprake in die gemeente gehou en die leiding in die velddiens geneem. In 1946 is die besoeke tot een week per gemeente verleng.

Hierdie reëling vir besoeke aan die gemeentes is in 1938 aangevul deur die diens van die distrikskneg in ’n nuwe hoedanigheid. Hy het ’n groter gebied gedek en van tyd tot tyd ’n week bestee saam met elkeen van die broers wat die gemeentes in ’n sone (kring) besoek het. Gedurende sy besoek het hy op die byeenkomsprogram gedien wat deur al die gemeentes in daardie sone bygewoon is.b Hierdie reëling was ’n groot aansporing vir die broers en het gereeld die geleentheid gebied dat nuwe dissipels gedoop kon word.

“Iemand wat die diens liefhet”

John Booth, wat in 1974 ’n lid van die Bestuursliggaam geword het, was een van dié wat van 1936 af aan hierdie diens deelgeneem het. Toe daar met hom as ’n potensiële reisende opsiener ’n onderhoud gevoer is, is daar vir hom gesê: “Ons het nie goeie sprekers nodig nie, net iemand wat die diens liefhet en wat die leiding daarin sal gee en by die vergaderinge oor die diens sal praat.” Broer Booth het daardie liefde vir Jehovah se diens gehad, soos blyk uit sy ywerige pionierdiens sedert 1928, en hy het deur sy voorbeeld sowel as aanmoedigende woorde ywer vir die evangelisasiewerk in ander opgewek.

Die eerste gemeente wat hy besoek het, was in Easton, Pennsilvanië, in Maart 1936. Hy het later geskryf: “Ek het gewoonlik betyds vir velddiens in die oggend op ’n plek aangekom; dan het ek saans vroeg ’n vergadering met die knegte van die groep gehad en daarna nog een met die hele groep. Ek het gewoonlik net twee dae saam met ’n groep deurgebring en slegs een dag saam met ’n kleiner groep; met die gevolg dat ek soms ses sulke groepe per week besoek het. Ek was voortdurend op reis.”

Hy is twee jaar later, in 1938, as ’n distrikskneg aangestel en moes elke week na ’n sonebyeenkoms (nou bekend as ’n kringbyeenkoms) omsien. Hierdie byeenkomste het gehelp om die broers te versterk toe vervolging in sommige gebiede baie hewig begin raak het. Broer Booth het oor daardie dae en sy verskillende verantwoordelikhede gesê: “Daardie einste week [waartydens ek ’n getuie was in ’n hofsaak waar sowat 60 Getuies in Indianapolis, Indiana, aangekla is] was ek ’n verweerder in nog ’n saak in Joliet, Illinois, ’n saakwaarnemer vir ’n broer in ’n ander saak in Madison, Indiana, en daarbenewens was ek elke naweek verantwoordelik vir ’n sonebyeenkoms.”

Twee jaar nadat hierdie sonebyeenkomste weer in 1946 (nou as kringbyeenkomste) begin is, was Carey Barber onder diegene wat as streekknegte gedien het. Hy was toe reeds 25 jaar lank ’n lid van die Bethelgesin in Brooklyn, New York. Sy eerste streek het uit die hele westelike deel van die Verenigde State bestaan. Aanvanklik moes hy elke week 1 600 kilometer tussen byeenkomste aflê. Namate die gemeentes meer en groter geword het, het daardie afstande gekrimp, en daar is dikwels talle kringbyeenkomste binne ’n enkele metropolitaanse gebied gehou. Broer Barber is in 1977, ná 29 jaar se ondervinding as reisende opsiener, genooi om as ’n lid van die Bestuursliggaam na die wêreldhoofkwartier terug te keer.

Reisende opsieners het dikwels in tye van oorlog en hewige vervolging hulle vryheid en hulle lewe gewaag om na die geestelike welsyn van hulle broers om te sien. André Wozniak het tydens die Nazi-besetting van België aangehou om die gemeentes te besoek en te help om hulle van lektuur te voorsien. Die Gestapo was dikwels kort op sy hakke, maar kon hom nooit vang nie.

Mense in Rhodesië (nou Zimbabwe) het aan die einde van die sewentigerjare in vrees gelewe, en dit was gedurende ’n tydperk van interne oorlog baie moeilik om vryelik rond te reis. Maar die reisende opsieners van Jehovah se Getuies was, as liefdevolle herders en opsieners, “soos ’n toevlug teen die wind” vir hulle broers (Jes. 32:2). Sommige het dae lank deur beboste gebiede geloop, oor berge geklim, gevaarlike riviere oorgesteek, snags buite geslaap—alles sodat afgesonderde gemeentes en verkondigers bereik kon word om hulle aan te moedig om standvastig in die geloof te bly. Een van hulle was Isaiah Makore, wat ’n noue ontkoming gehad het toe koeëls oor sy kop gevlieg het tydens ’n geveg tussen regeringsoldate en “vryheidsvegters”.

Ander reisende opsieners dien die organisasie al jare lank op ’n internasionale grondslag. Die presidente van die Wagtoringgenootskap het dikwels na ander lande gereis om aandag te skenk aan organisatoriese behoeftes en om toesprake tydens byeenkomste te hou. Sulke besoeke het grootliks daartoe bygedra dat Jehovah se Getuies in alle wêrelddele deeglik bewus bly van hulle internasionale broederskap. Veral broer Knorr het dit gereeld gedoen en elke tak en sendinghuis besoek. Namate die organisasie gegroei het, is die wêreld in tien internasionale sones verdeel, en van 1 Januarie 1956 af het bekwame broers, onder leiding van die president, met hierdie diens begin help sodat daar gereeld aandag daaraan geskenk kon word. Daardie sonebesoeke, wat nou onder leiding van die Dienskomitee van die Bestuursliggaam gedoen word, dra steeds by tot die wêreldwye eenheid en voorwaartse beweging van die hele organisasie.

Nog ander belangrike ontwikkelinge het tot die hedendaagse struktuur van die organisasie bygedra.

Verdere teokratiese aanpassings

Joseph F. Rutherford het op 8 Januarie 1942, te midde van die Tweede Wêreldoorlog, gesterf en Nathan H. Knorr het die derde president van die Wagtoringgenootskap geword. Die organisasie was onder geweldige druk as gevolg van verbooie wat in baie lande op sy bedrywigheid geplaas is, gepeupelgeweld onder die dekmantel van patriotisme en die gevangeneming van Getuies terwyl hulle Bybellektuur in hulle openbare bediening versprei het. Sou die verandering in administrasie op so ’n kritieke tyd die werk vertraag? Die broers wat na die administratiewe aangeleenthede omgesien het, het op Jehovah vir sy leiding en seën vertrou. In ooreenstemming met hulle begeerte na Goddelike leiding het hulle die organisasie se struktuur ondersoek om te sien of daar gebiede was waarop hulle Jehovah se weë beter kon navolg.

Toe is daar in 1944 ’n diensbyeenkoms in Pittsburgh, Pennsilvanië, in verband met die Wagtoringgenootskap se jaarvergadering gehou. Voor daardie jaarvergadering is daar op 30 September ’n reeks baie belangrike toesprake gehou oor wat die Skrif oor die organisering van Jehovah se knegte sê.c Die aandag is op die Bestuursliggaam gevestig. By daardie geleentheid is daar beklemtoon dat teokratiese beginsels vir alle liggame moet geld wat deur die “getroue en verstandige dienskneg”-klas gebruik word. Daar is verduidelik dat nie al die “toegewyde” lede van God se volk lede van die wetlike korporasie is nie. Hulle word bloot daardeur verteenwoordig deurdat dit in ’n wetlike hoedanigheid namens hulle optree. Maar aangesien die Genootskap die uitgewersliggaam is wat gebruik word om Jehovah se Getuies van lektuur te voorsien wat geestelike verligting bevat, is dit logies en noodsaaklik dat die Bestuursliggaam nóú verbonde moet wees met die ampsdraers en direkteure van daardie wetlike Genootskap. Is teokratiese beginsels ten volle in die aangeleenthede daarvan toegepas?

Die Genootskap se handves het ’n aandeelhouerreëling uiteengesit waarin elke totale bydrae van $10 (Amerikaanse) die bydraer die reg gee om te stem wanneer direkteure en ampsdraers van die Genootskap gekies word. Dit het moontlik gelyk of sulke bydraes bewys lewer van opregte belangstelling in die organisasie se werk. Maar hierdie reëling het probleme veroorsaak. Broer Knorr, die Genootskap se president, het verduidelik: “Uit die bepalings van die Genootskap se [handves] sou dit blyk dat om ’n deel van die besturende liggaam te wees, afgehang het van die bydraes tot die wetlike Genootskap. Maar volgens die wil van God kon dit nie onder sy uitverkore volk so wees nie.”

Dit is ’n feit dat Charles Taze Russell, wat gedurende die eerste 32 jaar van die Genootskap se bestaan die vernaamste plek in die bestuursliggaam beklee het, finansieel, fisies en verstandelik die grootste bydrae tot die Genootskap gelewer het. Maar dit was nie ’n geldelike bydrae wat bepaal het hoe die Here hom gebruik het nie. Dit was sy algehele toewyding, sy onvermoeide ywer, die beginselvaste wyse waarop hy God se Koninkryk voorgestaan het en sy onverbreeklike lojaliteit en getrouheid wat hom in God se oë geskik gemaak het vir die diens. Ten opsigte van die teokratiese organisasie geld die reël: ‘God het elkeen van die lede in die liggaam gestel soos Hy gewil het’ (1 Kor. 12:18). Broer Knorr het verduidelik: “Aangesien die [handves] van die Genootskap egter bepaal het dat stemaandele verleen word aan die bydraers van fondse vir die Genootskap se werk het dit daartoe gestrek om hierdie Teokratiese beginsel met betrekking tot die besturende liggaam te benewel en daarop inbreuk te maak; en dit het ook daartoe gestrek om dit in gevaar te bring en hindernisse daarvoor te skep.”

Tydens die sakevergadering van alle stemaandeelhouers van die Genootskap op 2 Oktober 1944 is daar gevolglik eenparig gestem dat die Genootskap se handves hersien en in nouer ooreenstemming met teokratiese beginsels gebring moet word. Die lidmaatskap sou nou nie meer onbeperk wees nie, maar sou tussen 300 en 500 wees, en hulle almal sou deur die direksie gekies word—nie op grond van geldelike bydraes nie, maar omdat hulle ryp, bedrywige, getroue Getuies van Jehovah is wat hom voltyds in die organisasie se werk dien of wat bedrywige bedienaars in die gemeentes van Jehovah se Getuies is. Hierdie lede sou vir die direksie stem, en die direksie sou dan sy ampsdraers kies. Hierdie nuwe reëlings het die volgende jaar, op 1 Oktober 1945, in werking getree. Wat ’n beskerming is dit tog in ’n era wanneer vyandige elemente sakeaangeleenthede dikwels so manipuleer dat hulle korporasies kan oorneem en hulle dan so kan herstruktureer dat dit hulle eie oogmerke pas!

Dit was duidelik dat Jehovah hierdie voorwaartse stappe om die organisasie na teokratiese beginsels te skik, geseën het. Ten spyte van die hewige druk wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog op die organisasie geplaas is, het die aantal Koninkryksverkondigers bly toeneem. Hulle het een stryk deur ywerig aangehou om oor God se Koninkryk te getuig. Daar was van 1939 tot 1946 ’n verstommende vermeerdering van 157 persent in die geledere van Jehovah se Getuies, en hulle het die goeie nuus in nog ses lande begin verkondig. Gedurende die volgende 25 jaar het die aantal bedrywige Getuies met byna nog 800 persent toegeneem en het hulle gereeld hulle bedrywighede vanuit ’n verdere 86 lande gerapporteer.

Gespesialiseerde opleiding vir opsieners

Sommige buitestanders het gemeen dat wanneer die organisasie groter word dit onvermydelik sou wees dat sy standaarde sou verslap. Maar die Bybel daarenteen het voorspel dat daar geregtigheid en vrede onder Jehovah se knegte sou heers (Jes. 60:17). Dit sou die sorgvuldige en volgehoue onderrigting van verantwoordelike opsieners in God se Woord, ’n duidelike begrip van sy regterlike standaarde en ’n konsekwente toepassing van daardie standaarde vereis. Hierdie soort onderrig is voorsien. ’n Deeglike studie van God se regverdige vereistes word progressief in Die Wagtoring voorsien, en hierdie materiaal word wêreldwyd sistematies deur elke gemeente van Jehovah se Getuies bestudeer. Maar daarbenewens ontvang opsieners van die kudde baie ander onderrig.

Hoofopsieners van die Genootskap se takkantore is soms tydens internasionale byeenkomste vir spesiale opleiding byeengebring. Van 1961 tot 1965 is daar in New York vir hulle spesiale skoolkursusse aangebied wat agt tot tien maande geduur het. Van 1977 tot 1980 was daar vir hulle nog ’n reeks spesiale kursusse van vyf weke. Hulle opleiding het onder andere ’n vers-vir-vers-studie van al die Bybelboeke behels, asook ’n bespreking van organisatoriese besonderhede en maniere waarop die verkondiging van die goeie nuus bevorder kan word. Daar is geen nasionalistiese verdeeldhede onder Jehovah se Getuies nie. Ongeag waar hulle woon, hulle bly by dieselfde hoë Bybelstandaarde en glo en leer dieselfde dinge.

Daar is ook spesiale aandag aan kring- en streekopsieners geskenk. Baie van hulle het die Wagtoring-Bybelskool Gilead of een van sy Uitbreidingskole bygewoon. Hulle kom ook van tyd tot tyd by die Genootskap se takkantore of ander gerieflike plekke bymekaar vir seminare van ’n paar dae of ’n week.

In 1959 is nog ’n voortreflike voorsiening ingestel. Dit is die Koninkryksbedieningskool wat deur kring- en streekopsieners asook gemeentelike opsieners bygewoon word. Aanvanklik het die studiekursus ’n volle maand geduur. Ná die kursus ’n jaar lank in die Verenigde State gebruik is, is die kursusmateriaal in ander tale vertaal en op al hoe meer plekke in die wêreld begin gebruik. Aangesien dit nie vir alle opsieners moontlik was om ’n volle maand van hulle sekulêre werk af weg te wees nie, is ’n twee weke lange weergawe van die kursus in 1966 begin.

Hierdie skool was nie ’n kweekskool waar manne ter voorbereiding van ordening opgelei is nie. Diegene wat dit bygewoon het, was reeds geordende bedienaars. Baie van hulle was reeds dekades lank opsieners en herders van die kudde. Hulle studiekursus was ’n geleentheid om die instruksies in God se Woord ten opsigte van hulle werk breedvoerig te bespreek. Groot klem is gelê op die belangrikheid van die veldbediening en hoe om dit doeltreffend te doen. Vanweë die veranderende sedelike standaarde van die wêreld is daar ook heelwat tyd bestee aan ’n bespreking van hoe die Bybel se sedelike standaarde gehandhaaf kan word. Hierdie kursus is in onlangse tye verder gevoer deur seminare wat elke twee of drie jaar gehou word, asook deur nuttige vergaderinge wat reisende opsieners ’n paar keer per jaar met plaaslike ouere manne hou. Hierdie vergaderinge bied die geleentheid om spesiale aandag aan algemene behoeftes te skenk. Hulle dien as beskerming sodat daar nie van Bybelstandaarde af weggedryf word nie en dra daartoe by dat situasies in alle gemeentes op dieselfde wyse hanteer word.

Jehovah se Getuies neem die vermaning in 1 Korinthiërs 1:10 ter harte: “Ek vermaan julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, om almal eenstemmig te wees, en dat daar geen skeuringe onder julle moet wees nie, maar dat julle verenig moet wees in dieselfde gesindheid en in dieselfde mening.” Dit is nie ’n gedwonge eenstemmigheid nie; dit spruit voort uit onderrigting in God se weë soos opgeteken in die Bybel. Jehovah se Getuies skep behae in God se weë en sy voorneme. As enigiemand nie meer vreugde daaruit put om volgens Bybelstandaarde te lewe nie, staan dit hom vry om die organisasie te verlaat. Maar as enigiemand begin om ander opvattinge te verkondig of die Bybel se sedes te verontagsaam, tree opsieners op om die kudde te beskerm. Die organisasie pas die Bybelraad toe: “Hou hulle in die oog wat tweedrag en aanstoot veroorsaak teen die leer wat julle geleer het, en vermy hulle.”—Rom. 16:17; 1 Kor. 5:9-13.

Die Bybel het voorspel dat God presies so ’n toestand onder sy knegte tot stand sou bring, ’n toestand waarin geregtigheid sou heers en wat vreedsame vrugte sou oplewer (Jes. 32:1, 2, 17, 18). Daardie toestand vind sterk byval by mense wat liefhet wat reg is.

Hoeveel van hierdie liefhebbers van geregtigheid sal voor die einde van die ou stelsel ingesamel word? Jehovah se Getuies weet nie. Maar Jehovah weet wat sy werk sal vereis, en hy sal in sy eie tyd en op sy eie manier sorg dat sy organisasie toegerus is om daarna om te sien.

Voorbereiding vir snelle groei

Toe daar onder toesig van die Bestuursliggaam navorsing ter voorbereiding van die naslaanwerk Aid to Bible Understanding gedoen is, is die aandag weer eens gevestig op die manier waarop die eerste-eeuse Christengemeente georganiseer was. ’n Noukeurige studie is gemaak van Bybelse terme soos “ouere man”, “opsiener” en “bedienaar”. Kon die hedendaagse organisasie van Jehovah se Getuies in groter mate in ooreenstemming kom met die voorbeeld wat vir ons in die Skrif as ’n rigsnoer bewaar is?

Jehovah se knegte was vasbeslote om hulle steeds aan Goddelike leiding te onderwerp. Tydens ’n reeks byeenkomste wat in 1971 gehou is, is die aandag gevestig op die bestuursreëlings van die vroeë Christengemeente. Daar is getoon dat die uitdrukking pre·sbuʹte·ros (ouere man, ouderling), soos dit in die Bybel gebruik word, nie tot bejaarde mense beperk is nie en ook nie van toepassing is op almal in die gemeente wat geestelik ryp is nie. Dit is in die besonder in ’n amptelike sin gebruik met verwysing na die opsieners van die gemeentes (Hand. 11:30; 1 Tim. 5:17; 1 Pet. 5:1-3). Hulle is in hulle posisies aangestel in ooreenstemming met die vereistes wat ’n deel van die geïnspireerde Skrif geword het (Hand. 14:23, NW; 1 Tim. 3:1-7; Tit. 1:5-9). Waar genoeg bekwame manne beskikbaar was, was daar meer as een ouere man in die gemeente (Hand. 20:17; Filip. 1:1). Hulle het “die liggaam van ouere manne” uitgemaak, wat almal dieselfde amptelike status geniet het en waarvan nie een die vernaamste of invloedrykste lid in die gemeente was nie (1 Tim. 4:14, NW). Daar is verduidelik dat daar, in ooreenstemming met die vereistes wat deur die apostel Paulus uiteengesit is, ook “bedieningsknegte” aangestel is om die ouere manne te help.—1 Tim. 3:8-10, 12, 13, NW.

Reëlings is onmiddellik getref om die organisasie in groter ooreenstemming met hierdie Bybelse patroon te bring. Dit het by die Bestuursliggaam self begin. Dié het nog lede bygekry benewens die sewe wat as direkteure van die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania as ’n bestuursliggaam vir Jehovah se Getuies gedien het. Daar is geen vaste ledetal vir die Bestuursliggaam gestel nie. In 1971 was daar 11; ’n paar jaar lank was daar tot 18; in 1992 was daar 12. Hulle is almal manne wat deur God as mede-erfgename van Jesus Christus gesalf is. Die 12 wat in 1992 as lede van die Bestuursliggaam gedien het, was op daardie tydstip al altesaam meer as 728 jaar in die voltydse diens as bedienaars van Jehovah God.

Daar is op 6 September 1971 besluit dat die voorsitterskap tydens vergaderinge van die Bestuursliggaam jaarliks alfabeties volgens die vanne van die lede moet roteer. Dit het op 1 Oktober in werking getree. Die lede van die Bestuursliggaam het ook op ’n weeklikse grondslag beurte gemaak om die oggendgodsdiens en die Wagtoring-studie vir lede van die hoofkwartierpersoneel waar te neem.d Hierdie reëling het op 13 September 1971 in werking getree toe Frederick W. Franz die oggendgodsdiensprogram by die Genootskap se hoofkwartier in Brooklyn, New York, waargeneem het.

Gedurende die volgende jaar is daar voorbereidsels getref vir veranderinge in die toesig oor die gemeentes. Daar sou nie meer net een gemeentekneg wees wat deur ’n spesifieke aantal ander knegte gehelp word nie. Manne wat aan die skriftuurlike vereistes voldoen, sou aangestel word om as ouere manne te dien. Ander, wat aan die Bybel se vereistes voldoen, sou as bedieningsknegte aangestel word. Dit het die weg gebaan vir meer mense om met gemeentelike verantwoordelikhede te help en sodoende waardevolle ondervinding op te doen. Nie een van Jehovah se Getuies het destyds ’n idee gehad dat die aantal gemeentes gedurende die volgende 21 jaar met 156 persent sou toeneem en daar in 1992 altesaam 69 558 gemeentes sou wees nie. Maar die Hoof van die gemeente, die Here Jesus Christus, het klaarblyklik voorbereidsels getref vir wat sou kom.

Gedurende die vroeë sewentigerjare is daar aandag geskenk aan verdere herorganisering van die Bestuursliggaam. Sedert die Wagtoringgenootskap in 1884 gestig is, het die uitgee van lektuur, die toesig oor die wêreldwye evangelisasiewerk en die reëlings vir skole en byeenkomste onder leiding van die kantoor van die president van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap plaasgevind. Maar nadat besonderhede oor ’n tydperk van baie maande noukeurig ondersoek en bespreek is, is ’n nuwe reëling op 4 Desember 1975 eenparig aanvaar. Ses komitees van die Bestuursliggaam is gevorm.

Die Voorsitterskomitee (wat bestaan uit die huidige voorsitter van die Bestuursliggaam, die vorige voorsitter en die volgende een op die lys) ontvang verslae oor groot noodgevalle, rampe en vervolgingsveldtogte en maak seker dat die Bestuursliggaam onmiddellik daaraan aandag skenk. Die Skryfkomitee hou toesig oor die geestelike voedsel wat geskryf en op kasset- en videobande opgeneem word vir Jehovah se Getuies asook vir verspreiding onder die publiek, en dit hou toesig oor die vertaalwerk wat in honderde tale gedoen word. Dit is die Onderrigtingskomitee se verantwoordelikheid om toesig te hou oor skole en kring-, streek- en internasionale byeenkomste vir Jehovah se volk, sowel as oor die onderrigting van die Bethelgesinne en die voorsiening van die materiaal wat vir hierdie geleenthede gebruik word. Die Dienskomitee hou toesig oor al die fasette van die evangelisasiewerk, met inbegrip van die bedrywighede van gemeentes en reisende opsieners. Die druk, uitgee en versending van lektuur sowel as die bestuur van die fabrieke en die hantering van regs- en sake-aangeleenthede word alles onder toesig van die Uitgewerskomitee gedoen. En die Personeelkomitee hou toesig oor die reëlings vir persoonlike en geestelike hulp aan Bethelgesinslede en nooi nuwe lede om in die Bethelgesinne wêreldwyd te dien.

Ander behulpsame komitees is aangewys om toesig te hou oor die fabrieke, die Bethelhuise en die plase wat met die wêreldhoofkwartier verbind is. Op hierdie komitees maak die Bestuursliggaam vryelik gebruik van die vermoëns van lede van die “groot menigte”.—Openb. 7:9, 15.

Daar is ook veranderinge aangebring met betrekking tot die toesig oor die Genootskap se takkantore. Sedert 1 Februarie 1976 hou ’n komitee van drie of meer lede, na gelang van die takkantoor se behoeftes en grootte, toesig oor elke tak. Hulle werk onder leiding van die Bestuursliggaam om na die Koninkrykswerk in hulle gebied om te sien.

In 1992 is die Bestuursliggaam van nog hulp voorsien toe ’n aantal helpers, hoofsaaklik lede van die groot menigte, aangewys is om deel te neem aan die vergaderinge en werk van die Skryf-, Onderrigtings-, Diens-, Uitgewers- en Personeelkomitee.e

Hierdie verdeling van die verantwoordelikheid was baie voordelig. Saam met die veranderinge wat reeds in die gemeentes aangebring is, het dit gehelp om enige hindernis uit die weg te ruim wat mense die feit uit die oog kon laat verloor dat Christus die Hoof van die gemeente is. Dit is uiters voordelig wanneer ’n aantal broers saam besluit oor sake wat die Koninkrykswerk raak. Daarbenewens het hierdie herorganisering dit moontlik gemaak om die nodige toesig te voorsien op die talle gebiede waar dit dringend nodig was gedurende ’n tydperk van geweldige groei in die organisasie. Jehovah het lank gelede deur die profeet Jesaja voorspel: “Die kleinste sal ’n geslag word en die geringste ’n magtige nasie. Ek, die HERE, sal dit op die regte tyd gou laat kom” (Jes. 60:22). Hy het dit nie net gou laat kom nie, maar het ook die nodige leiding verskaf sodat sy sigbare organisasie daarna sou kon omsien.

Die werk wat God hulle gedurende hierdie laaste dae van die ou wêreld gegee het, is nou vir Jehovah se Getuies baie belangrik, en hulle is goed georganiseer om dit te kan doen. Jehovah se Getuies sien die onmiskenbare bewys dat hierdie organisasie nie van mense afkomstig is nie, maar van God, en dat God se eie Seun, Jesus Christus, dit rig. As heersende Koning sal Jesus sy getroue onderdane deur die komende groot verdrukking heen bewaar en seker maak dat hulle doeltreffend georganiseer is om God se wil gedurende die toekomstige Millennium ten volle te doen.

[Voetnote]

a Broer Russell het in 1894 gereël dat die Zion’s Watch Tower Tract Society bekwame broers as sprekers uitstuur. Hulle het getekende sertifikate ontvang om hulle aan plaaslike groepe bekend te stel. Hierdie sertifikate het hulle nie die gesag gegee om te preek of beteken dat alles wat die houer daarvan sê, aanvaar moes word sonder dat dit in die lig van God se Woord ondersoek is nie. Maar omdat sommige die doel van die sertifikate misverstaan het, het broer Russell dit binne ’n jaar ingetrek. Hy het sorgvuldig probeer om enigiets te vermy wat waarnemers selfs die geringste aanduiding van ’n geestelikeklas kon gee.

b Zion’s Watch Tower, Oktober-November 1881, bl. 8-9.

c Daar is soms in ooreenstemming met die taal wat in die King James Version gebruik word van die plaaslike groepe as “kerke” gepraat. Hulle het ook as ekklesias bekend gestaan, wat ooreenstem met die woord wat in die Griekse Bybelteks gebruik word. Die woord “klasse” is ook gebruik, aangesien hulle in werklikheid studenteliggame was wat gereeld vir studie bymekaargekom het. Later, toe dit groepe (Engels: companies) genoem is, was dit ’n aanduiding dat hulle daarvan bewus was dat hulle in ’n geestelike oorlog gewikkel is. (Sien Psalm 68:11, KJ, kanttekening.) Nadat die New World Translation of the Christian Greek Scriptures in 1950 verskyn het, het hulle die hedendaagse Bybelterm “gemeente” in die meeste lande algemeen begin gebruik.

d Die woord wat in die Griekse Bybelteks gebruik word (khei·ro·to·neʹo), beteken letterlik “om uit te steek, uit te strek of die hand op te lig”, en dit kon by uitbreiding ook beteken “om tot ’n amp te verkies deur die hande op te lig”.—A Greek and English Lexicon to the New Testament, deur John Parkhurst, 1845, bl. 673.

e Sien Hoofstuk 25, “Die goeie nuus word in die openbaar en van huis tot huis verkondig”, vir besonderhede.

f Van 1919 af moes die velddiens van diegene wat met die gemeente, of klas, omgegaan het elke week deur die diensleier aan die Genootskap gerapporteer word.

g Soos uiteengesit in die voubiljet Organization Method moes elke gemeente ’n assistentleier en ’n voorraadhouer verkies. Hulle sou, saam met die leier wat deur die Genootskap aangestel is, die plaaslike dienskomitee uitmaak.

h Die Wagtoring (Engelse uitgawe), 1 Julie 1920, bl. 195-200.

i Die dienskomitee het destyds uit hoogstens tien lede bestaan. Een van hulle was die diensleier, wat nie plaaslik gekies is nie, maar deur die Genootskap aangestel is. Die ander het saam met hom gewerk om die getuieniswerk te reël en te doen.

j Hulle is sedert 1932 etlike jare lank die Jonadabs genoem.

k Wanneer daar gesê word dat die Griekse werkwoord khei·ro·to·neʹo net beteken ‘om te kies deur die uitstrek van die hand’ neem dit nie die latere betekenis van die woord in aanmerking nie. A Greek-English Lexicon, deur Liddell en Scott, wat deur Jones en McKenzie geredigeer is en in 1968 herdruk is, definieer die woord dus as “die hand uitstrek, met die doel om tydens ’n vergadering jou stem uit te bring . . . II. c. acc. pers. [met akkusatief van persoon], kies, behoorlik deur handopsteking . . . b. later, gewoonlik, aanstel, . . . aanstel in ’n amp in die Kerk [pre·sbu·teʹrous] Han. Ap. [Die Handelinge van die Apostels] 14.23.” Daardie latere gebruik was algemeen in die apostels se dae; die woord is in daardie betekenis deur die eerste-eeuse Joodse geskiedskrywer Josephus gebruik in Jewish Antiquities, Boek 6, hoofstuk 4, paragraaf 2 en hoofstuk 13, paragraaf 9. Die grammatikale struktuur van Handelinge 14:23 in die oorspronklike Grieks toon op sigself dat dit Paulus en Barnabas was wat gedoen het wat daar beskryf is.

l Later in daardie selfde jaar, 1938, het Organization Instructions, wat as ’n voubiljet met vier bladsye gedruk is, nog besonderhede verskaf. Dit het verduidelik dat die plaaslike gemeente ’n komitee moes aanstel om ten behoewe van die gemeente op te tree. Daardie komitee moes na die broers kyk in die lig van die vereistes wat in die Skrif uiteengesit is en aanbevelings aan die Genootskap doen. Wanneer reisende verteenwoordigers van die Genootskap die gemeentes besoek het, het hulle gekyk na die plaaslike broers se kwalifikasies en na hoe pligsgetrou hulle na hulle toewysings omsien. Hulle aanbevelings is ook deur die Genootskap in aanmerking geneem wanneer aanstellings gedoen is.

a Reisende opsieners wat deur die Genootskap uitgestuur is, het van 1894 tot 1927 eers as verteenwoordigers van die Wagtoring-Traktaatgenootskap en toe as pelgrims bekend gestaan. Van 1928 tot 1936 is hulle vanweë die groter klem op die velddiens distriksdiensleiers genoem. Van Julie 1936 af is hulle distriksknegte genoem om hulle regte verhouding tot die plaaslike broers te beklemtoon. Soneknegte is van 1938 tot 1941 aangewys om op ’n rotasiegrondslag saam met ’n beperkte aantal gemeentes te werk en sodoende met gereelde tussenpose na dieselfde groepe terug te gaan. Ná ’n onderbreking van ongeveer ’n jaar is hierdie diens weer in 1942 met knegte vir die broeders begin. In 1948 is die benaming kringkneg aangeneem; wat nou kringopsiener is.

Van 1938 tot 1941 het distriksknegte, in ’n nuwe hoedanigheid, gereeld plaaslike byeenkomste bedien waar Getuies van ’n beperkte gebied (’n sone) vir ’n spesiale program bymekaargekom het. Toe hierdie werk in 1946 hervat is, het hierdie reisende opsieners as streekknegte bekend gestaan; wat nou streekopsieners is.

b Hierdie reëling het op 1 Oktober 1938 in werking getree. Dit het al hoe moeiliker geraak om byeenkomste gedurende die oorlogsjare te reël, en daarom is sonebyeenkomste aan die einde van 1941 ’n ruk lank gestaak. Maar die reëling is weer eens in 1946 ingestel, en die geleenthede waartydens ’n aantal gemeentes vir spesiale onderrig bymekaargekom het, is kringbyeenkomste genoem.

c Die inhoud van hierdie toesprake verskyn in Die Wagtoring van 15 Maart en 1 April 1945 (Engelse uitgawes, 15 Oktober en 1 November 1944).

d Later het hulle ander lede van die Bethelgesin gekies om met daardie toewysings te help.

e Die Wagtoring, 15 April 1992, bl. 7-17, 31.

[Lokteks op bladsy 204]

Daar was geen plek vir ’n geestelikeklas onder hulle nie

[Lokteks op bladsy 205]

Hulle het nie ’n “aardse organisasie” probeer oprig nie

[Lokteks op bladsy 206]

Hoe is ouere manne gekies?

[Lokteks op bladsy 212]

’n Leier wat deur die Genootskap aangestel is

[Lokteks op bladsy 213]

Sommige ouere manne wou nie buite die gemeente preek nie

[Lokteks op bladsy 214]

Die geledere is uitgedun, maar die organisasie is versterk

[Lokteks op bladsy 218]

Hoe moes aanstellings gedoen word?

[Lokteks op bladsy 220]

Het broer Rutherford bloot groter beheer probeer verkry?

[Lokteks op bladsy 222]

Kontak is behou met die groepe van twee en drie asook die groter groepe

[Lokteks op bladsy 223]

Nuwe verantwoordelikhede vir reisende opsieners

[Lokteks op bladsy 234]

’n Vergrote Bestuursliggaam met roterende voorsitterskap

[Lokteks op bladsy 235]

Die nodige toesig gedurende ’n tydperk van geweldige groei

[Venster op bladsy 207]

Waarom die verandering?

Toe C. T. Russell gevra is waarom sy beskouing oor die verkiesing van ouere manne in die verskillende groepe van die Here se volk verander het, het hy geantwoord:

“Ten eerste wil ek julle dadelik daarvan verseker dat ek nog nooit gesê het dat ek onfeilbaar is nie. . . . Ons ontken nie dat ons kennis toeneem en dat ons nou die wil van die Here ten opsigte van die Ouere manne of leiers in die verskillende groepies van sy volk in ’n effens ander lig beskou nie. Ons het ’n oordeelsfout begaan deur te veel van die dierbare broeders te verwag wat, omdat hulle vroeg in die Waarheid gekom het, die natuurlike leiers van hierdie groepies geword het. Ons het waarlik gedink dat die kennis van die Waarheid hulle baie nederig sou maak en hulle sou laat besef hoe nietig hulle is, en dat hulle wat hulle ook al weet en aan ander kan oordra as spreekbuise van God sou doen en omdat hy hulle gebruik. Ons het werklik gehoop dat hulle in die ware sin van die woord voorbeelde vir die kudde sou wees; en dat, as die voorsienigheid van die Here een of meer broers wat net so bekwaam of selfs bekwamer is in die groepie sou inbring om die Waarheid te leer, die gees van liefde hulle sou lei om mekaar te eer en hoog te ag en mekaar sodoende te help en aan te spoor om aan die diens van die Kerk, die liggaam van Christus, deel te neem.

“Hiermee in gedagte het ons tot die slotsom gekom dat die groter mate van genade en waarheid wat daar nou behoort te wees en wat die Here se toegewyde volk waardeer dit vir hulle onnodig sou maak om die weg te volg wat die apostels in die vroeë Kerk uiteengesit het. Ons fout was dat ons nie besef het nie dat die reëlings wat die apostels onder Goddelike toesig uiteengesit het voortrefliker is as enigiets wat ander kan formuleer en dat die Kerk in sy geheel die regulasies wat deur die apostels ingestel is, sal moet nakom totdat ons, deur ons verandering in die opstanding, almal volkome gemaak en vervolmaak is en regstreeks in deelgenootskap met die Heer is.

“Ons het ons fout geleidelik agtergekom toe ons sien dat daar ’n mate van wedywering onder die dierbare broeders is, en dat baie die begeerte het om die leiding by vergaderinge as ’n amp pleks van ’n diens te beskou en om ander broeders wat van nature net so bekwaam is en net soveel kennis van die Waarheid het en net so bevoeg is om die swaard van die Gees te gebruik, uit te sluit en te verhinder om as leiers te ontwikkel.”—“Zion’s Watch Tower”, 15 Maart 1906, bl. 90.

[Venster/Prente op bladsy 208, 209]

Fasiliteite wat die Genootskap ’n eeu gelede in die Pittsburgh-omgewing gebruik het

Die Bible House, wat hier getoon word, het 19 jaar, van 1890 tot 1909, as die hoofkwartier gedienf

Dit was broer Russell se studeerkamer

Lede van die Bible House-gesin wat in 1902 hier gedien het

Die gebou het die volgende ingesluit: die setwerkafdeling (regs bo), ’n versendingsafdeling (regs onder), ’n lektuurbergplek, woonvertrekke vir die personeel, asook ’n kapel (byeenkomssaal) wat ongeveer 300 sitplekke gehad het

[Voetnote]

f In 1879 was die hoofkwartier in Vyfdelaan 101, Pittsburgh, Pennsilvanië. Die kantoor is in 1884 na Federalstraat 44, Allegheny (die noordelike kant van Pittsburgh), verskuif; en dit is later daardie selfde jaar na Federalstraat 40 verskuif. (In 1887 is dit Robinsonstraat 151 genoem.) Toe hulle in 1889 meer ruimte nodig gehad het, het broer Russell die Bible House, wat links getoon word, te Archstraat 56-60, Allegheny, laat bou. (Die nommers is later na Archstraat 610-614 verander.) Hulle hoofkantoor was in 1918-19 weer ’n kort rukkie in Pittsburgh, op die tweede verdieping te Federalstraat 119.

[Venster op bladsy 211]

Wie se werk is dit?

Charles Taze Russell het teen die einde van sy aardse lewe geskryf: “God se volk vergeet alte dikwels dat die Here self Sy werk rig. Daar word alte dikwels gedink: Ons sal ’n werk doen en God vra om ons te help in ons werk. Laat ons die regte beskouing van die saak kry en tot die besef kom dat God hom ’n groot werk ten doel gestel het en dat hy dit doen; en dat dit sal slaag, met of sonder ons en ons pogings; en dat God se volk ’n groot voorreg ontvang het om saam met hulle Maker te werk om Sy planne, Sy oogmerke, Sy reëlings op Sy manier uit te voer. As ons sake vanuit hierdie oogpunt beskou, moet ons gebede en ons waaksaamheid geskied met die doel om die wil van die Here te ken en te doen, en tevrede te wees met watter rol ons ook al moet speel, aangesien dit ons God is wat ons rig. Dit is die program waarvolgens die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap dinge probeer doen.”—“Die Wagtoring” (Engelse uitgawe), 1 Mei 1915.

[Venster op bladsy 215]

VDM-vrae

Die letters VDM staan vir die Latynse woorde “Verbi Dei Minister”, of Bedienaar van die Goddelike Woord.

Die Genootskap het in 1916 ’n lys Bybelvrae opgestel. Diegene wat die Genootskap as sprekers sou verteenwoordig, is gevra om elk van die vrae skriftelik te beantwoord. Dit het die Genootskap gehelp om vas te stel wat hierdie broers se gedagtes, opinies en begrip met betrekking tot Bybelgrondwaarhede is. Die geskrewe antwoorde is sorgvuldig deur ’n groep eksaminatore in die Genootskap se kantoor nagesien. ’n Persoon moes 85 persent of meer behaal om as spreker te kwalifiseer.

Later het baie van die ouere manne, diakens en ander Bybelstudente ’n lys van die vrae aangevra. Daar is later gesê dat dit nuttig sou wees indien die klasse net persone wat as VDM’s gekwalifiseer het as hulle verteenwoordigers sou kies.

Wanneer die Genootskap die graad Bedienaar van die Goddelike Woord aan iemand toegeken het, het dit nie beteken dat hy georden is nie. Dit het bloot beteken dat die groep eksaminatore in die Genootskap se kantoor gekyk het hoeveel die persoon omtrent leerstellings weet, en in ’n redelike mate na sy reputasie, en dan besluit het of hy dit verdien om ’n Bedienaar van die Goddelike Woord genoem te word.

Die VDM-vrae het gelui:

(1) Wat was God se eerste skeppingsdaad?

(2) Wat beteken die woord “Logos” wanneer dit in verband met die Seun van God gebruik word? En wat gee die woorde Vader en Seun te kenne?

(3) Wanneer en hoe het sonde in die wêreld ingekom?

(4) Wat is die Goddelike straf vir sonde vir die sondaars? En wie is die sondaars?

(5) Waarom moes die “Logos” vlees gemaak word? En was Hy “geïnkarneer”?

(6) Van watter aard was die Mens Christus Jesus van kleins af tot met sy dood?

(7) Van watter aard is Jesus sedert die opstanding; en wat is Sy amptelike verhouding tot Jehovah?

(8) Wat is Jesus se werk tydens hierdie Evangelie-eeu—gedurende die tyd vanaf Pinkster tot nou toe?

(9) Wat het Jehovah God sover vir die mensdom gedoen? En wat het Jesus gedoen?

(10) Wat is die Goddelike voorneme met betrekking tot die Kerk wanneer dit voltallig is?

(11) Wat is die Goddelike voorneme met betrekking tot die mensdom?

(12) Wat sal die lot van verstokte sondaars wees?

(13) Watter beloning of seëninge sal die mensewêreld geniet as hulle die Messiaanse Koninkryk gehoorsaam?

(14) Watter stappe kan ’n sondaar doen om die lewensbelangrike verhouding met Christus en met die Hemelse Vader op te bou?

(15) Watter weg moet ’n Christen volg wanneer hy met die Heilige Gees gesalf is, soos in God se Woord uiteengesit is?

(16) Het jy die sonde die rug toegekeer om die lewende God te dien?

(17) Het jy jou lewe en al jou krag en talente ten volle aan die Here en Sy diens toegewy?

(18) Het jy hierdie toewyding deur waterdoop gesimboliseer?

(19) Het jy die IBSA [Internasionale Bybelstudente-vereniging]-gelofte van die heiligheid van lewe afgelê?

(20) Het jy die ses dele van STUDIES IN THE SCRIPTURES deeglik en sorgvuldig deurgelees?

(21) Het dit dinge vir jou duidelik gemaak en het jy voordeel daaruit geput?

(22) Glo jy dat jy voldoende en permanente kennis van die Bybel het wat jou vir die res van jou lewe bekwamer sal maak as ’n dienskneg van die Here?

[Prente op bladsy 216, 217]

Geboue wat in die vroeë jare in Brooklyn gebruik is

Bethelhuis

Columbia Heights 122-124

Eetsaal in die Bethelhuis

Tabernacle

In hierdie gebou te Hicksstraat 17 was daar kantore, ’n lektuurbergplek, ’n posafdeling, settoerusting en ’n ouditorium met 800 sitplekke (gebruik van 1909 tot 1918)

Die ouditorium

Vroeë fabrieke

Bethelgesinslede wat in 1920 in die fabriek in Myrtlelaan gewerk het (regs)

Myrtlelaan 35 (1920-22)

Concordstraat 18 (1922-27)

Adamsstraat 117 (1927- )

[Prente op bladsy 224, 225]

Reisende opsieners ’n Paar van die duisende wat gedien het

Kanada, 1905-33

Engeland, 1920-32

Finland, 1921-26, 1947-70

Verenigde State, 1907-15

Reise tussen gemeentes—

Groenland

Venezuela

Lesotho

Mexiko

Peru

Sierra Leone

Huisvesting op wiele in Namibië

Velddiens saam met plaaslike Getuies in Japan

Vergadering met plaaslike ouere manne in Duitsland

Voorsien praktiese raad aan pioniers in Hawaii

Onderrigting van ’n gemeente in Frankryk

[Venster/Prent op bladsy 229]

Vroeë wetlike korporasies

Zion’s Watch Tower Tract Society. Aanvanklik in 1881 gestig en toe op 15 Desember 1884 wetlik in die staat Pennsilvanië geregistreer. In 1896 is die naam na Watch Tower Bible and Tract Society verander. Dit staan sedert 1955 bekend as Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania.

Peoples Pulpit Association. Dit is in 1909 gestig toe die Genootskap sy hoofkantoor na Brooklyn, New York, verskuif het. In 1939 is die naam na Watchtower Bible and Tract Society, Inc., verander. Dit staan sedert 1956 bekend as Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.

Internasionale Bybelstudente-vereniging. Op 30 Junie 1914 in Londen, Engeland, gestig.

Jehovah se Getuies het in baie gemeenskappe en lande ander korporasies gestig om aan regsvereistes te voldoen. Maar Jehovah se Getuies is nie in nasionale of streekorganisasies verdeel nie. Hulle is ’n verenigde, wêreldwye broederskap.

[Venster op bladsy 234]

‘Soos die primitiewe Christengemeenskap’

Die godsdienspublikasie “Interpretation” het in Julie 1956 gesê: “Hulle [Jehovah se Getuies] kom in hulle organisasie en getuieniswerk nader as enige groep aan die primitiewe Christengemeenskap. . . . Min ander groepe gebruik die Bybel so baie soos hulle in hulle mondelinge sowel as geskrewe boodskappe.”

[Prent op bladsy 210]

Takkantore is geopen ten einde beter toesig te hou. Die eerste een was in hierdie gebou in Londen, Engeland

[Prent op bladsy 221]

J. F. Rutherford in 1941. Die Getuies het geweet dat hy nie hulle leier is nie

[Prent op bladsy 226]

John Booth, reisende opsiener in die VSA van 1936 tot 1941

[Prent op bladsy 227]

Carey Barber, wie se streek ’n ontsaglike deel van die Verenigde State ingesluit het

[Prent op bladsy 228]

Broer Knorr het elke tak en sendinghuis gereeld besoek

[Prent op bladsy 230]

Hoofopsieners van die Genootskap se takkantore is vir spesiale opleiding byeengebring (New York, 1958)

[Prente op bladsy 231]

Die Koninkryksbedieningskool voorsien waardevolle inligting vir opsieners dwarsdeur die wêreld

Koninkryksbedieningskool in ’n vlugtelingekamp in Thailand, 1978; in die Filippyne, 1966 (links bo)

[Prent op bladsy 232]

Organisasie-instruksies is progressief uitgegee (eers in Engels, toe in ander tale) om die bedrywigheid van die Getuies te koördineer en om almal in te lig oor die voorsieninge wat gemaak word om hulle in hulle bediening te help

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel